Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Van skoonmaker tot hoofingenieur in visserybedryf
Lucinda Krige is die eerste vrou wat as hoofingenieur in die Suid-Afrikaanse visbedryf aangestel is. Foto: Verskaf

’n Ingenieur wat haar loopbaan as ’n skoonmaker begin het, het jong mense aan die vooraand van Wêreldvisserye-dag, wat op 21 November is, aangemoedig om loopbaangeleenthede in die visserybedryf te benut.

Lucinda Krige is die eerste vrou wat haar as ’n hoofingenieur in dié bedryf gekwalifiseer het.

Dit is ’n internasionale bedryf wat jaarliks 80 miljoen ton kos produseer en sowat 40 miljoen mense in diens het.

Luidens ’n verklaring deur Sea Harvest het Krige as ’n skoonmaker in ’n Kaapse hotel gewerk toe sy ’n advertensie gesien het om as ’n seekadet in die ingenieursberoep opgelei te word.

Sy het dadelik aansoek gedoen om haar droom om ’n ingenieur te word te bewaarheid.

“Ek het nie veel geweet nie. Ek was die eerste in my familie wat in die visserybedryf gaan werk het. Ek het alles oor mariene ingenieurswese geleer. Dit was ’n beroep waarvan ek nie eens geweet het nie.”

Op byna elke skip waarop sy was, was sy die enigste vrou met die betrokke kwalifikasie.

Hoofingenieurs moet die aandrywing, masjinerie en stelsels van vissersbote onderhou en seker maak dat alles in ’n werkende toestand is. Dit sluit die hoof- en bykomende enjins, verkoeling, stuurstelsel en verwerkingstoerusting in die fabriek aan boord in.

“Die stelsels is tegnologies baie gevorderd. Daar is baie elektronika agter die skerms wat onderhou moet word om navigasie en treilvissery te doen.”

Dit het haar vyf jaar geneem om die teorie-opleiding en werkondervinding te bemeester sodat sy kon kwalifiseer. Op byna elke skip waarop sy was, was sy die enigste vrou met die betrokke kwalifikasie.

Krige sê sy het ongelooflike goeie onderrig, ondersteuning en aanmoediging van manlike kollegas gehad, veral van ingenieurs, kapteins en ander bemanningslede.

“Om in ’n wêreld te werk wat deur mans oorheers word, was nie moeilik nie. Ek het maklik ingeskakel.”

Vandag, 11 jaar later, nadat sy haar as ingenieur gekwalifiseer het, het sy haar oorpak verruil en sit nou in ’n kantoor waar sy die maatskappy se opleidings- en ontwikkelingsdepartement in die Saldanhabaai-aanleg behartig. Sy is verantwoordelik vir die maritieme en tegniese opleiding van personeellede en sowat 40 vakleerlinge.

Krige moedig jong mense aan om mariene ingenieurswese te studeer omdat dit ’n breë spektrum van dissiplines soos meganiese en elektriese ingenieurswese, asook die hidrouliese en elektronika-kennisvelde insluit.

Sea Harvest is een van 33 maatskappye in die treilvisserybedryf. Die bedryf verskaf 7 300 werkgeleenthede en dra sowat R7,7 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.