Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Veganis wees: Meer as net kos

Quinoa-slaai met pomelo. Foto: @realmessmarj
Veganis wees gaan oor meer as net dit op jou bord. Kelly Minnie gesels met Marjorie Arnold oor ’n bewustelike leefstyl.

Wanneer ons vleiseters hoor iemand is ’n veganis is die meeste van ons se eerste reaksie om hulle jammer te kry en dan te dink dis waansinnig om ’n lekker stukkie steak, kaas op ’n broodjie en melk in jou koffie op te gee. Marjorie Arnold, ’n mediaskepper en veganis, sê egter dit gaan nie net oor dit wat op jou bord is nie, maar meer daaroor om “bewustelik te leef” en te weet wat jy verbruik.

Sy sukkel haar lewe lank al met haar gesondheid en vertel sy’t altyd gevoel haar lyf verraai haar en sy oorleef bloot, maar lééf nie.

Uiteindelik het sy op 30 besluit sy wil minder dokters spreek deur self beter lewenskeuses te maak. Sy het begin om bewus te wees van wat sy kies en hoe sy haar lewe lei.

Vanaf daardie oomblik het ’n idee, ’n wens eintlik, in my siel begin opkom: die wete dat ek nie sou bydra tot die wreedheid in hierdie wêreld nie.

“Vanaf daardie oomblik het ’n idee, ’n wens eintlik, in my siel begin opkom: die wete dat ek nie sou bydra tot die wreedheid in hierdie wêreld nie. Om sjampoe te koop het ure se navorsing geverg. Die uitdaging rondom die koop van lipstiffie was nie meer om die perfekte rooi lip te vind nie, maar om uit te vind waar die pigment vandaan kom. As jy eers besef dat elke keuse wat jy maak ’n impak maak op die wêreld, is dit meer as net ’n fase,” sê sy.

Alhoewel sy passievol is oor haar leefstyl, is sy nie van plan om in die strate af te marsjeer en vir almal te preek oor veganisme nie. Volgens haar is daar mense wat teenwoordig leef sonder om ’n veganis te wees. Sy wil net hê almal moet meer bewus wees van die keuses wat hulle maak en gerus wees daarmee.

Marjorie Arnold glo daarin om bewus te wees van wat jy eet en hoe jy jou lewe lei.
Haar leefstyl

Ware veganiste eet nie vleis nie en verbruik ook nie produkte wat van diere afkomstig is nie. Hulle gebruik geen leerprodukte, nieherwinbare goedere of enige produkte wat geproduseer word deur die slag van diere of ’n nadelige invloed op die omgewing het nie.

“My dieet is plantgebaseer, my spens is gevul met herwonne glasbottels, plastiek is verbode, ek koop slegs veganistiese, eties verkrygde en omgewingsvriendelik verpakte goedere. Ek maak bewuste keuses en koop slegs wat ek nodig het en voor lief is.”

Gesondheidsvoordele

Marjorie het aanvanklik gewig verloor en erken ook dis nie maanskyn en rose aan die begin nie. “Die eerste paar weke is soos ’n detoksifikasie. Ek was verslaaf aan kaas en het altyd sinusitis en aknee gehad. Nadat ek dit uitgesny het, het ek nie meer wakker geword met ’n seer keel of toe neus nie. My aknee het opgeklaar. Jy voel aan die begin so ’n bietjie asof jy op ’n high is, maar jy stabiliseer met tyd.”

Sy glo in ’n gesonde leefstyl en sê dat mense wat veganisme wil aanneem eers ’n dieetkundige moet gaan spreek, veral as hulle onderliggende gesondheidsprobleme het. “Selfs as jy veganisties is, oorweeg dit om ’n aanlyn konsultasie met ’n veganistiese dokter of dieetkundige te hê, veral as jy gesondheidsprobleme het of soos ek op reis moet wees na optimale gesondheid en dus professionele leiding benodig om ’n gesonde gewig te behaal. Ek het ’n week gelede my eerste afspraak met die groen dieetkundige Jess Kotlowitz gehad.”

Hoe om te begin

Veganisme verg ’n motivering en redes wat vir jou belangrik is, anders gaan dit nie hou nie. Benewens nie vleis of diereprodukte eet en inneem nie, is daar ander komponente van veganisme wat die redes vir die leefstyl steun:

1. Gesondheid

Mense wat lei aan hart- of cholesterol-probleme, diabetes of enige ander siektes het, kan die leefstyl aanneem. “As gesondheid jou rede is, kan jy net plantgebaseerd wees. Jy kan gesond wees sonder om veganisties te wees.

“Vir die mense gaan dit meer oor hul liggame en die gesondheid daarvan.”

Marjorie raai enigeen wat die skuif wil maak aan om How Not to Die deur dr. Michael Greger te lees.

2. Omgewingsvriendelikheid

Dit is die mense wat moeg is om te swem met plastiek in die oseaan of ’n hart het vir die seeskilpaaie wat verstik aan plastiekstrooitjies. “Jy hoef nie te herwin nie, as jy net begin deur goed te koop wat in herwonne plastiek of glas kom, is jy halfpad daar,” verduidelik sy.

3. Wreedaardigheid

Dit is waar Marjorie begin het. Sy het begin vra hoekom dit nodig is om goggas te vergruis om lipstiffie se pigment te maak. “Hoekom toets ons maskara op hondjies? Ons is mos nou al verby sulke barbaarse gedrag. Ons hoef dit nie te doen nie.” As dit jou motivering is, moet jy meer navorsing doen oor al die produkte wat jy gebruik om te verseker dat dit nie op diere getoets is nie.

4. Holisties en bewustelik

Dit is mense wat dit alles koester en waar Marjorie haarself plaas. “Jy gee nie net om oor die diere of die planeet nie, maar oor jouself en jou gesondheid ook,” sê sy.

  • Vir meer raad, resepte of inspirasie volg Marjorie op Instagram by @realmessmarj.

Marjorie se gunstelinge

Vir inkopies

  • By veganthings.co.za is lekkernye wat binne 24 uur by jou voordeur afgelewer word;
  • Eties verkrygbare, plastiekvrye produkte van ’n goeie gehalte is by The Refillery beskikbaar of aanlyn by therefillery.co.za;
  • Checkers bied The Simple Truth-reeks aan wat veganisme lekker en bekostigbaar maak;
  • Woolworths vir gekookte maaltye; en
  • Pick n Pay se Livewell-reeks.

Die beste lekkernye

  • Sjokolade: De Villiers Vegan-reeks;
  • Tofu: Green Guru- organiese tofu;
  • Roomys: Mylk Wicked;
  • Kombucha, kraut en kimchi (veganisties en laag in suiker): Twiins Ferments;
  • Kaas: Violife Greek Style Feta, Nature & Moi om souse te maak, maar as jy ’n kaasbord maak, is Fauxmage die plek;
  • Jogurt: Irene’s Gourmet en Yokos;
  • Bevrore vrugte en alles vir skommeldrankies: Fruiticious;
  • Boerewors: HerbiVohr;
  • Meng falafels en hamburgers vooraf, voeg net water by en braai: Outcast Foods;
  • Burgerfrikkadelle: Beyond Meat en Urban Vegan Prime Burger; en
  • Veganistiese nuggets: Fry’s Family Foods.

Skoonheidsprodukte

  • Velsorg: Lamelle, Environ, Sorbet, Iwori en Nimue; en
  • Grimering: Essence, Catrice, Smashbox, WBeauty van Woolworths en Inglot.

Pomelo-vinkel- en-quinoa-slaai

Gebruik jou stoompot hiervoor.

Jy benodig

Vir die quinoa

  • 1 koppie quinoa
  • 1 koppie groenteaftreksel
  • ’n halwe suurlemoenskil, fyn gerasper
  • sap van ’n halwe suurlemoen
  • knippie growwe sout

Vir die pomelo-vinaigrette

  • 1/4 koppie vars uitgedrukte pomelosap
  • 1/4 koppie olyfolie
  • 1 teelepel esdoringstroop
  • ’n knippie growwe sout
  • vars gemaalde swart peper

Vir die slaai

  • 3 groot Ruby-pomelo’s, in dun skyfies gesny
  • 2 koppies jong spinasie, grof gekap
  • 3 stingels vinkel, fyn gekerf
  • 5 klein radyse, fyn gekerf
  • 3 jong grasuie, in dun repies gesny
  • 2 jong preie, in dun skyfies gesny
  • klein bossie dille, baie fyn gekap
  • 50 g gevlokte amandels
  • 50 g okkerneute

Maak so

Plaas die quinoa, suurlemoensap, suurlemoenskil, groenteaftreksel en die knippie sout in die stoompot.

Roer die bestanddele saam en kook op hoë druk vir 1 minuut en laat die pot die stoom natuurlik vrylaat oor ’n tydperk van 10 minute.

Pluis die quinoa met ’n vurk los en laat dit afkoel.

Gooi nou al die vinaigrette-bestanddele bymekaar in ’n glasbotteltjie, skud tot alles goed gemeng is. Gooi dit oor die dun gesnyde pomeloskyfies om te marineer.

Neem ’n slaaibak en begin jou slaai bou. Plaas die quinoa onder in die bak.

Sit al die ander slaaibestanddele in die bak met heel laaste die gemarineerde pomelo’s met die vinaigrette bo-op.

Sprinkel die neute oor.

Bedien met hawermelk-jogurt as jy dit in die hande kan kry.

Meer oor:  Leefstyl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.