Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Velsorgmiddels uit jou eie spens

Hawermout, heuning en eiergeel gemeng, gee vir jou ’n gesigmasker wat jou gesig verfris sal laat voel. Foto’s: Fay van Eeden
Weet jy wat jy aan jou gesig smeer? vra Fay van Eeden nadat sy haar eie velsorgmiddels uit haar spens begin maak het.

Lees jy ooit die lys bestanddele agterop die skoonheidsmiddels wat jy daagliks gebruik? En indien wel, verstaan jy wat jy lees? Ek het onlangs met ’n skok besef dat ek geen idee het wat ek op my vel smeer nie of watter uitwerking dit op my vel en op die omgewing het nie. Sedert hierdie gewaarwording eksperimenteer ek met alternatiewe vir die duur skoonheidsprodukte wat my badkamerkassie vol staan.

Meeste van die skoonheidsprodukte wat ons gebruik, kan vervang word met eenvoudige produkte wat ons almal in ons spense het.

Hierdie tuisgemaakte skoonheidsmiddels is nie net bekostigbaar en maklik om te maak nie, maar ook goed vir jou vel en Moeder Aarde.

Maak velskropmiddel met kaneel, neutmuskaat, naeltjies, bruinsuiker, tapiokaneel en olyfolie.
Olyfolie

Goeie kwaliteit olyfolie werk net so goed, indien nie beter nie, as enige grimeringverwyderaar. Smeer ’n klein hoeveelheid daarvan oor jou gesig en vee jou gesig skoon met watte of ’n gehekelde katoenlappie. (Dié lappies is natuurlik ook meer omgewingsvriendelik as die eenmalige gebruik van watte.) Die olie verwyder nie net jou onderlaag, maskara en oogpotlood nie, maar gee ook vir jou vel ’n natuurlike dosis vitamien E.

Appelasyn

Appelasyn is ’n natuurlike velopknapper (toner) wat nie jou vel uitdroog nie. Meng ’n ½ koppie appelasyn (organiese asyn as jy kan) met ’n ½ koppie gefiltreerde water en vee jou gesig met die mengsel af. Jy kan die verhouding asyn tot water aanpas, totdat jy die perfekte samestelling vir jou velsoort vind.

’n Gesigmasker van kaneel en piesang is anti-inflammatories.
Kaneel

Gooi ’n ekstra pakkie kaneel in jou inkopiemandjie, want hierdie spesery is nie net heerlik op pannekoek en melkkos nie, maar ook baie goed vir jou vel. Dit is anti-inflammatories, werk veroudering teë en is baie goed vir die behandeling van aknee.

Maak so jou eie velskropmiddel:

Meng 1 teelepel kaneel, 1 teelepel neutmuskaat en ’n knippie gemaalde naeltjies by 3 eetlepels ligte bruin suiker, 3 eetlepels bruinrysmeel en 2 eetlepels klapperolie of olyfolie. Masseer die mengsel in jou vel en spoel met warm water af. Jy kan die bruinrysmeel met amandel-, klapper- of tapiokaneel vervang.

Maak jou eie gesigmasker:

Voeg ½ tot 1 teelepel kaneelpoeier by 1 fyngemaakte piesang en meng tot ’n pulp. ’n Paar druppels heuning kan ook by die mengsel gevoeg word. Smeer die mengsel op jou gesig en laat dit droog word vir 5 tot 10 minute. Was jou gesig met warm water. Ek moet byvoeg, dis nie geskik vir sensitiewe velle nie.

Hawermout

Nie net is hawermout die volmaakte ontbyt nie, maar kan ook gebruik word om ’n maklike en goedkoop gesigsmasker te maak. Maak 4 eetlepels hawermout in ’n voedselverwerker baie fyn. Gooi die hawermout in ’n klein bakkie en meng daarby ’n teelepel heuning. Die heuning verbeter nie net die tekstuur van die masker nie, maar dien as ’n bevogtiger en help met die behandeling van aknee. Voeg 1 tot 2 eiergele by die hawermoutmengsel en meng goed totdat die mengsel ’n pasta vorm. Eiergeel is ryk aan vitamien D wat veroudering teëwerk. Smeer die mengsel op jou gesig en laat dit hard word. Was die masker ná 15 minute met warm water af. Ek belowe jou, nadat jy hierdie gesigmasker gebruik het, sal jy nie weer een koop nie.

  • Fay van Eeden is ’n vryskutskrywer en blogger. Volg haar op Instagram by @enroutefoodie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.