Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Hospitaalhelde met allerlei lekkernye bederf

Talle dokters en verpleegsters van die New Somerset-hospitaal in Kaapstad se gemoedere is Vrydag gelig toe hulle vir hul werk geloof is en op water, sap, energiestafies, energiedrankies, tee, koffie en koek, wat individueel toegedraai is, getrakteer is.

Salama Basardien, hoof-matrone van die hospitaal, sê dit het wonderlik gevoel om te weet dat jy en die werk wat jy doen, waardeer word.

“Baie by die hospitaal voel “ons karring net aan, ons karring net aan” en om so bederf te word en te hoor dat al ons pogings waardeer word, voel wonderlik. Ons is baie dankbaar vir alles. Dis vir my soos ’n sonstraal om die glimlagte op die gesigte van die personeel en die dokters te sien.”

Dr. Saadiq Kariem, bedryfshoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het die geleentheid bygewoon en was effens oorweldig deur al die ondersteuning wat die personeel ontvang het.

Gift of the Givers is besig om die lekkernye by die New Somerset-hospitaal af te lewer. Foto: Verskaf

“Vir ons as ’n departement is dit ’n ongelooflike poging. Wat ons hier sien, hierdie skenkings, dit het binne ’n paar uur plaasgevind toe die gemeenskap en sakelui hul harte vir ons personeel oopgemaak het. Ons het duisende skenkings ontvang wat vandag hierheen en na ander hospitale gebring word, en ons waardeer al die pogings. Dankie aan almal wat dit moontlik gemaak het en Gift of the Givers wat hiermee help.”

Hospital Heroes, in samewerking met Gift of the Givers, is daarop gemik om geld in te samel om verversings te koop om aan mediese personeel in hospitale te versprei in die hoop dat hulle goed en gewaardeer sal voel.

Khilona Radia, Nisaar Pangarker en dr. Zameer Brey is die stigters van Hospital Heroes. Gift of the Givers is daarna genader om met die logistiek en die verspreiding van die lekkernye te help.

Brey en Radia het elk onafhanklike en afsonderlike ondersteuningsprojekte oor Kersfees en Nuwejaar behartig en lekkernye afgelewer. Pangarker het daarvan te hore gekom en die potensiaal ingesien om die pogings te vergroot om ’n groter effek te hê en voorgestel dat die twee ondersteuningsprojekte kragte saamsnoer.

Personeel van die hospitaal staan buite en hou ’n banier waarop “Dankie” staan. Foto: Verskaf

“Hospital Heroes is ’n veldtog om liefde en sorg met ons hospitaalhelde te deel. Ons hospitale het slagvelde geword, en die personeel is die moeë voetsoldate wat ondanks die enorme persoonlike risiko daagliks onbaatsugtig voortgaan om na ander om te sien en hul bes vir die siekes te doen. Baie van hul kollegas het in die proses hul lewens verloor. Maar getrou aan die eed wat hulle afgelê het, gaan hulle met karakter voort,” het Radia gesê.

Sy sê hulle wil aan al die verpleegsters en dokters wys dat hulle erken word vir alles wat hulle doen, dat daar dankbaarheid vir hul vaardighede is, sowel as die opofferings wat hulle ten koste van hul eie gesinne en hul slaap maak.

“Hospital Heroes is ’n manier om te wys dat ons vir hulle omgee, en ek wil elke persoon in Suid-Afrika aanmoedig om betrokke te raak. Dit maak nie saak hoe klein of groot dit is nie. Saam kan ons berge versit.”

Luidens ’n verklaring spits Hospital Heroes hom toe op vyf distrikshospitale in en om Kaapstad om die gemoedere te lig van dokters en verpleërs wat lang ure werk om diegene met Covid-19 te versorg.

Hospital Heroes vra dat die publiek en organisasies skenk waar hulle kan, want alles dra by tot die aankoop van ’n koeldrank, ’n energiestafie of ’n heerlike verrassing wat daarop gemik is om ’n glimlag agter die masker van die mediese personeel te plaas en die moeë oë op te helder.

“Individue en gemeenskappe kan ook artikels vir hul plaaslike gesondheidsorgpraktyke of -instellings insamel wat hulle dan direk kan laat aflewer.”

Hospital Heroes gaan Dinsdag om 10:00 die Brackengate-veldhospitaal in Kuilsrivier besoek.

Individue kan die tolvrye nommer by 0800 786 911 skakel om enige artikels in grootmaat te skenk.

Meer oor:  Gift Of The Givers  |  Dokters  |  Verpleegsters  |  Kaapstad  |  Bederf  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Gesondheidswerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.