Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Videospeletjies is nie net vir luiaards nie

Nie alle kinders wat videospeletjies speel is ongesond of sofa­pokkels nie.
Nuwe navorsing wys veral ernstige videospeletjie-spelers is gesond en aktief. Maar dit beteken nie jou kind kan nou speel so lank hy of sy wil nie, skryf Ross Michaels.

Videospeletjies is oor die jare heen gebrandmerk as ’n luiaard se stokperdjie.

Trouens, baie ouers sit met hul hande in die hare oor kinders wat ure lank voor die TV of rekenaarskerm “wegkwyn”. Dit lei mos tot oorgewig, ’n stewige alkoholinname en karpale-tonnelsindroom, of hoe?

Watwou! ’n Onlangse studie het die teenoorgestelde gewys.

Navorsers in Australië het bevind dat die werklike ernstige TV- en rekenaarspeletjie-foendi’s (e-sport-spelers) tussen 9% en 21% meer geneig is om gesonder as die “gewone” bevolking te wees.

Hierdie e-sport-spelers sal in die meeste gevalle ook meer verstandig wees oor slegte gewoontes, met 92% wat as nierokers en 65,1% as niedrinkers geklassifiseer word.

E-sport is ’n soort georganiseerde sportkompetisie met videospeletjies. Deelnemers in verskillende ligas sal mekaar aandurf in gewilde speletjies soos Minecraft. Die aksie word regstreeks gevolg deur miljoene aanhangers wêreldwyd.

Michael Trotter, een van die navorsers, erken dat hulle onkant betrap is deur die resultate. Dit is die eerste studie waarin die liggaamsmassa-indeks van e-sportspelers ondersoek is.

“Die bevindings daag die stereotipe van die morbied-vetsugtige speler uit,” het hy gesê. Sowat 1 400 deelnemers in 65 lande is ondervra.

As deel van hul oefenprogram bestee elite-e-sportatlete meer as ’n uur per dag aan liggaamsoefening as ’n strategie om die spel te verbeter en stres te bestuur,

“As jy aan e-sport dink, is daar dikwels kommer oor verlengde sit-tyd en swak gesondheid as gevolg daarvan, en die studie het ’n paar interessante en gemengde resultate onthul.”

In werklikheid glo die toptien-e-sportspelers dat genoeg liggaamsoefening noodsaaklik is vir hul prestasie. Die topspelers wat ondervra is volg ’n aktiewe lewenstyl, met die beste spelers wat gemiddeld vier dae per week oefen.

“As deel van hul oefenprogram bestee elite-e-sportatlete meer as ’n uur per dag aan liggaamsoefening as ’n strategie om die spel te verbeter en stres te bestuur,” sê Michael.

Daar is wel ’n vangplek. Wanneer dit by die laervlak-spelers kom, is daar steeds kommer oor die gesondheid van gamers en 4% van hulle sal waarskynlik morbied-vetsugtig wees of word in vergelyking met die breër bevolking.

Dit is waarom die navorsers benadruk dat die voorbeeld wat deur elite-spelers gestel word, die grondslag moet vorm vir gesonde gewoontes as jy wil videospeletjies speel.

Praktiese raad

Prof. Sumaya Laher, hoof van die department sielkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê elke saak het twee kante as dit by tieners en videospeletjies kom.

Afhangende van die inhoud van die videospeletjies wat hulle speel, leer tieners om te redeneer en verskerp dit hul reaksietyd. Dit bevorder selfs hul wisselwerking met maats tydens die inperking wanneer hulle nie so baie van aangesig tot aangesig kan kuier nie.

Prof. Kobus Maree, opvoedkundige sielkundige aan die Universiteit van Pretoria, beaam dit.

“Daar is toenemend aanduidings dat videospeletjies wat verband hou met wiskundige, wetenskaplike, ontwerp- en robotika-, asook ingenieursverwante onderwerpe kinders nie net in aanraking bring met hierdie tipe onderwerpe en aktiwiteite nie, maar hulle ook belangrike oefening in en ervaring van, asook verwante vaardighede, gee.

“Dit gee hulle natuurlik ook ’n voorsprong op skool.”

Sumaya spreek wel haar kommer uit oor speletjies waarin geweld betrokke is.

“As hulle Call of Duty speel of Fortnite, of Minecraft, wat dit ook is, onderskei hulle nie tussen die regte wêreld en virtuele werklikheid nie. As hulle in die virtuele wêreld speel, word dit aanvaar of dit die werklikheid is.

“Dus raak hulle heeltemal verdiep daarin tot die punt waar hulle nét aan die speletjie dink – ‘ek móét vooruit gaan; ek móét na die volgende vlak vorder’.”

Volgens Sumaya moet ouers oplettend wees vir gedragsveranderings: simptome van aggressie, rusteloosheid en ’n obsessie wanneer hulle nie sonder die videospeletjie-toestel kan klaarkom nie. “Dit is dán wanneer dit problematies word; dit is wanneer jy weet dat jy iets moet doen voordat dit ernstig raak.”

Om die gevare van videospeletjies te voorkom, raai Kobus ouers aan om verkieslik nie kinders voor tweejarige ouderdom aan videospeletjies bloot te stel nie.

Tot vier- en vyfjarige ouderdom behoort die tyd ook beperk te word tot 30-40 minute maksimum. Teen vyfjarige ouderdom, sê hy, kan hulle meer tyd daaraan bestee, mits deelname aan rekenaarspeletjies nie hul normale ontwikkelingsaktiwiteite belemmer of in die wiele ry nie.

“Die Amerikaanse psigiatrie-vereniging glo dat kinders nie meer as twee uur per dag aan rekenaarspeletjies mag bestee nie en ek stem saam. Dit wil sê, hulle moet genoeg tyd daaraan bestee om te sosialiseer, aktief te wees, fisieke speletjies te speel, met maatjies te kommunikeer ensovoorts.”

Om kinders fiks en aktief te hou moet ouers hul kinders aanmoedig en nie dwing nie, sê Kobus. Hy maan ouers om self ook ’n goeie voorbeeld te stel.

“Probeer om dit wat jy van jou kind verlang, self uit te leef.

“As jyself heeldag in jou stoel sit, TV kyk, speletjies speel, asook eet en nie jou kind wys op die nadele verbonde aan 'n sedentêre lewe nie, is die kans goed dat sy of hy jou voorbeeld sal volg,” sê Kobus.

“Laat kinders toe om met maats te speel, nooi maats oor om met jou kinders te speel, neem hulle na ’n parkie of waar hulle veilig sal wees en uiting kan gee aan hul behoefte om te beweeg en aktief te wees.”

Raad vir goeie balans

Kobus gee die volgende raad om ’n balans te handhaaf:

  • Stel tydbeperkings. As jy egter konsekwent versuim om te hou by die ooreengekome tydbeperkings, moet jy nie verwag dat die kind jou ernstig sal opneem nie. En moet natuurlik nie toelaat dat jy geboelie word deur woedebuie en manipulasie soos “Al die ander kinders mag” nie;
  • Wees daar vir jou kind. Praat met (en nie tot of neer op nie) jou kind. Bespreek en onderhandel hierdie sake. Beter nog: Luister en let mooi op. Om van ’n baie jong kind te verwag om reëls slaafs na te kom terwyl sy of hy die hele middag op sy of haar eie is, sal waarskynlik misluk. Maak seker dat jy die voor- en nadele van rekenaarspeletjies openlik en op ’n nie-konfronterende wyse met jou kinders bespreek;
  • Hou die speletjie buite bereik. Die konsole of skootrekenaar waarop die rekenaarspeletjie gespeel word, moet nie in kinders se kamer wees nie. Plaas dit eerder in ’n kamer wat alle gesinslede mag betree. Dit bevorder openlikheid en verskaf ’n mate van beheer oor wat, waar en hoe lank gespeel word;
  • Doen jou huiswerk deeglik en maak seker dat jy nie elke tweede week of maand die reëls moet heronderhandel nie; en
  • Speel en stap sáám met jou kinders. Tuinkrieket, tuinnetbal, tuintennis en swem is ook goeie opsies.
Meer oor:  Videospeletjies  |  Aktief  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.