Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Vier kleurryke Tuindag en skep bietjie asem

Die jaarlikse viering van Tuindag in Oktober kry vanjaar ’n nuwe kleur met ’n spesiale virtuele program waarop almal, of jy nou groen vingers het of nie, op Facebook of Zoom kan inskakel.

Tuindag word sedert 2016 gevier deur almal wat lief is vir plante – of jy nou groente plant, help in ’n gemeenskapstuin, of ’n paar plante op ’n vensterbank of stoep vertroetel. Dié vrolike dag word vanjaar op 11 Oktober gevier.

Soos vorige jare word die dag uitgeken aan unieke blomkrone wat jy kan maak (en natuurlik dra) met jou geliefde blomme of groenigheid daarin gevleg.

Die plan is om op Tuindag ’n rukkie agteroor te sit en die vrug van jou arbeid te geniet. Vanjaar se spesiale virtuele program beteken dat jy op die Tuindag-byeenkoms kan inskakel.

Beauty Kume van Mitchells Plain het ’n groentetuin gevestig toe sy besluit het om nie meer groente in winkels te koop nie.

Die tuinghoeroe Tanya Visser gaan ’n vraag-en-antwoordsessie behartig, en in die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout se sessie kan almal met hul spesiale blomkrone spog en tuingeïnspireerde spyskaart-wenke sal uitgeruil word. Die program begin om 11:00.

Besoek Gardenday.co.za/GetInvolved vir inligting om jou te help om die perfekte virtuele viering te beplan met resepwenke, aflaaibare uitnodigings vir jou virtuele viering en dinge om met kinders in die tuin te doen en te maak.

Oor die laaste paar maande het Suid-Afrikaners hulle vir vertroosting en balans tot hul groen ruimtes gewend. Daar is bewys dat tuinmaak geestelike en liggaamlike welsyn bevorder, en ’n gevoel van samehorigheid en verbondenheid skep.

Met die lente in die lug bied Tuindag ’n geleentheid om ’n bietjie asem te skep, na te dink en ’n seisoen vol nuwe geleenthede te vier.

Vir die kleinskaal-groenteboer Beauty Kume van Mitchells Plain is die vrug van haar arbeid iets wat sy graag deel. Indien sy te veel spinasie het om self te eet, nooi sy haar Facebook-volgelinge om daarvan vir hulle te kom haal. Sy kan nie aan al 5 000 Faceboek-ondersteuners spinasie gee nie, maar sy gee graag raad oor hoe om groente en kruie te plant.

Adene Nieuwoudt, ’n blomboer van Wolseley, glo daarin dat mense wat tuinmaak beslis gelukkiger is.

Kume het besluit sy wil haar eie groente en kruie kweek en ophou om dit in supermarkte te koop. “Dis baie stresvol om in die stad te bly. Tuinmaak help ’n mens om te ontspan en nader aan die natuur te leef. Boonop bespaar jy geld as jy nie groente in winkels hoef te gaan koop nie,” sê Kume.

Sy en haar man, Harrison, kweek ’n verskeidenheid groente, soos spinasie, pampoen, tamaties, aartappels, komkommers, wortels, seldery en uie. Om peste en plae weg te hou, maak sy ’n mengsel van knoffel en rissies om op haar plante te spuit.

Die 23-jarige Kaylyn van As van Table View sê sy het twee jaar gelede begin tuinmaak nadat sy al meer bekommerd geraak het oor omgewingskwessies en wat die mens se invloed op die omgewing is. Sy kweek haar eie kos sonder om insektegif te gebruik en vermy kos wat in plastiek verpak is – haar eie manier om die omgewing te help.

Van As fokus ook op plante wat bye lok soos boegoe, proteas en sonneblomme. “My tuin lok nie net bye nie, maar skoenlappers en voëls. Dit maak my tuin nog meer kleurryk en lonend,” sê Van As.

Kaylyn van As van Table View help die omgewing deur groener te leef deur minder kos te koop wat in plastiek verpak is.

Adene Nieuwoudt, ’n blomboer van Wolseley in die Wes-Kaap, sê daar is bewys dat indien jy jou met plante en blomme omring, jy waarskynlik gelukkiger sal wees.

“Ek kan daarvan getuig,” sê sy. “My blomme gee my energie en maak my entoesiasties. Tuindag is die ideale viering om dié sentiment uit te druk.”

Donald Nxumalo, ’n bekroonde binneversierder, sê ’n rustige kreatiwiteit vloei uit tuinmaak. “Gewoonlik jaag ek teen tyd, maar op my balkon kan ek die proses stadig laat ontwikkel. Dit gee my balans en nuwe energie. Dit inspireer my ontwerpe,” sê Nxumalo.

Nieuwoudt en Nxumalo is enkele van 2020 se Tuindag-ambassadeurs wat ’n blomkroon op vanjaar se vierings gaan dra.

Saam met hulle is daar van Suid-Afrika se mees geliefde blom- en plantgeesdriftiges, soos die landskapsontwerper Joy Phala; Babylonstoren se blomkunstenaar Constance Stuurman en die meester-tuinier Gundula Deutschlander; Chef Nti; akteur, skrywer en regisseur Donnalee Roberts; operasanger en televisieaanbieder Lynelle Kenned; en die visuele kunstenaar Alice Toich.

Kry die jongste nuus en inspirasie by gardenday.co.za.

Meer oor:  Tuindag  |  Tanya Visser  |  Beauty Kume  |  Adene Nieuwoudt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.