Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Vind só ’n Mary Poppins

Daar’s ’n hele paar belangrike vrae wat jy moet vra wanneer jy ’n kinderoppasser aanstel, skryf Terésa Coetzee.

Die konsep van ’n kinderoppasser (nanny) wat bedags na jou baba of peuter kyk, is glad nie vreemd in Suid-Afrika nie. Maar midde-in die Covid-19-pandemie is daar ál meer ouers wat eerder hierdie roete wil, of moet, volg. Party wil nie die risiko waag om hul kind terug te stuur kleuterskool toe nie omdat hulle glo dit stel hul kinders onnodig bloot. Ander kan nie hul kinders terugstuur nie, onder meer omdat baie kleuterskole se ure verkort is terwyl ma en pa se werksdag steeds tot 17:00 duur.

Maar hoe kies ’n mens die regte persoon om jou kind te versorg wanneer jy nie daar is nie?

Higiëne en veiligheid

Die regte kinderoppasser kan soos ’n gestuurde engel in jul huis wees.

Higiëne en veiligheid is van die belangrikste aspekte wanneer sy baba-oppassers oplei, vertel Marlette Visagie, eienaar van ABC Baby Care Training in Hillcrest, Durban. Marlette lei al die afgelope 16 jaar huiswerkers op om baba-oppassers te wees, en sy is ook ’n opgeleide pediatriese suster.

Sy sê as jou kinderoppasser reg opgelei is, sal dit die kanse dat jul gesin Covid-19 opdoen drasties verminder.

“Die ideaal is natuurlik dat die oppasser by julle bly en so min as moontlik van openbare vervoer soos taxi’s gebruik maak, maar dit is net nie altyd ’n opsie nie.” (Die voordeel van ’n huiswerker wat inwoon is boonop dat jy nie elke dag die bekommernis het of sy betyds gaan wees as sy van openbare vervoer gebruik maak nie. Sy kan ook langer smiddae bly as jy ’n werkkrisis het.)

Maak die lewe vir jou oppasser makliker en koop vir haar genoeg maskers sodat jy seker is sy dra elke dag ’n skoon een.

Sou sy nie inbly nie, is dit noodsaaklik dat die oppasser ander klere aantrek wanneer sy by die werk kom en ook dan haar hande deeglik was, sê Marlette.

“Party ouers verkies ook dat die oppasser die hele dag lank haar masker dra.

“Maak die lewe vir jou oppasser makliker en koop vir haar genoeg maskers sodat jy seker is sy dra elke dag ’n skoon een. Jy kan ook nie van haar verwag om elke dag ’n skoon uniform te dra as jy dit nie aan haar verskaf nie,” voeg Marlette by.

Sy stel ook voor dat jy elke maand ’n goeie multivitamien- of immuniteit-aanvuller soos Viral Guard aan jou oppasser verskaf.

“Baie huiswerkers en oppassers sukkel werklik finansieel in hierdie tyd en kan eenvoudig nie self ’n aanvulling bekostig om hul immuniteit sterk te hou nie. Koop ook ekstra vrugte en maak seker sy kry elke dag ’n appel of lemoen saam met haar ete, waarby haar gesondheid ook kan baat vind,” sê Marlette.

Een van die grootste beleggings wat jy in jou oppasser kan maak, is om haar na ’n opleidingskool te stuur waar sy alles oor noodhulp, roetine, stimulasie en algemene babaversorging kan leer.

Maak doodseker die oppasser weet wie om in ’n noodsituasie te bel, waar die paniekknoppies in die huis is, en wat om te doen as die baba dalk verstik of selfs val.

Merke, gereed, soek!

’n Goeie oppasser daag ongelukkig nie sommer net soos Mary Poppins met haar tas by jou voordeur op nie. Dit verg meestal ’n bietjie werk om die regte persoon te vind.

Volgens Kalonki Claassen, die eienaar van die Honki Lonki Speelgroep in Frankfort, is ’n baie goeie begin om op Facebook na ’n oppasser te begin soek, want heel moontlik is daar iemand wat iemand ken wat weet van ’n goeie, betroubare oppasser.

Vra ook ander betroubare oppassers of hulle nie weet van iemand wat werk soek nie.

Vertrou jou sesde sintuig as dit kom by ’n oppasser.

“Ek vra altyd vir ’n verwysing en dan bel ek die persoon en vind uit hoe was haar interaksie met kinders, was sy stiptelik, higiënies, wat is haar sterkste en swakste punte en veral ook haar gesondheidstoestand,” sê Kalonki. Sy sê verder dis belangrik dat jou kind en die oppasser goed met mekaar klaarkom.

“Kinders is gewoonlik baie fyn ingestel en hoewel die oppasser aanvanklik bietjie vreemd kan wees vir jou baba, moet jy weet iets is fout as hy byvoorbeeld ná ’n maand nog huilerig is wanneer hy na haar toe moet gaan. Vertrou jou sesde sintuig as dit kom by ’n oppasser.

“Die kinders in my speelgroepie wou byvoorbeeld skielik nie meer toilet toe gaan nie en toe ek ondersoek instel, het ek agtergekom die oppasser werk hardhandig met hulle,” sê Kalonki.

As jy twyfel of ongemaklik voel om jou kind by iemand te los, moet jy jouself begin afvra hoekom dit só is.

Marlette sê dat kommunikasie een van die belangrikste faktore is wanneer jy na ’n oppasser begin soek.

“Hoe is hierdie vrou se kommunikasie? Kan sy haarself verstaanbaar verwoord en verstaan sy jou as jy met haar praat? Onthou, jy gaan vir haar daagliks instruksies gee en sy moet dit duidelik kan verstaan,” sê Marlette.

’n Goeie idee is om vir haar ’n notaboekie te gee waarin sy al die belangrike gebeure kan skryf.

Vorige ondervinding met kinders hoef ook nie altyd ’n voorvereiste te wees nie.

“Daar is hope jong meisies daarbuite wat daarna smag om kinders op te pas en wat wonderlike oppassers word, terwyl ’n persoon met vorige ondervinding soms haar vooropgestelde idees het oor hoe dinge behoort te wees, sonder dat dit noodwendig ooreenstem met jóú voorvereistes.

“Ouer vroue kan ervaring en geduld hê, maar jy moet faktore soos hul aftreeouderdom, fiksheid en gesondheid ook in ag neem,” sê Marlette.

Kom ons praat

’n Oop kanaal vir kommunikasie is een van die belangrikste faktore vir ’n suksesvolle werksverhouding tussen jou en die oppasser. Laat haar van die eerste dag af goed verstaan hoe belangrik kommunikasie vir jou is. Jy wil soveel as moontlik hoor van jou kind se dag – selfs al is alles nie ewe positief nie.

“ ’n Goeie idee is om vir haar ’n notaboekie te gee waarin sy al die belangrike gebeure kan skryf. Teen die tyd wat jy saans tuiskom, sal sy nie meer presies kan onthou hoeveel poefdoeke jou baba gehad het, hoe lank hy geslaap het en hoeveel melk hy gedrink het nie. Dís belangrike inligting vir enige ma sodat sy kan weet of haar kind gesond is,” sê Marlette.

Druk dit op jul oppasser se hart hoe belangrik dit is om selfs oor negatiewe goed te praat. As die baba dalk geval het móét jy dit weet. Verseker haar dat jy nie kwaad sal wees nie, want sulke ongelukke kon selfs gebeur het terwyl jy ook tuis is.

“Praat op ’n mooi manier met haar as sy dinge doen waarvan jy nie hou nie. Dit help nie jy krop op tot dit later een groot monster word nie.

“Ek hoor gereeld die wonderlikste stories van oppassers wat soos ’n tweede mamma begin word. Baie ma’s sal saamstem dat oppassers baie meer geduld as hulle het en dat hulle hul nie ’n lewe sonder ’n nanny kan voorstel nie.”

  • Vir meer inligting bel Marlette Visagie by 083 307 6706 of besoek haar webblad by abcbabycare.co.za.
Meer oor:  Koronavirus  |  Kinders  |  Babas  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.