Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Vir Tshwane se Mej. SA-kandidate is Erfenisdag veral familiedag

Tshwane se drie toptien-finaliste in die Mej. Suid-Afrika-wedstryd beplan om Erfenisdag saam met hul gesinne deur te bring en lekker te eet, soos net Suid-Afrikaners kan.

Lebogang Mahlangu (24) bring gewoonlik Erfenisdag saam met haar gesin deur. Hulle eet ’n groot middagete en kyk TV.

“Ek dink hierdie jaar sal ekstra spesiaal wees, omdat ons as gesin nog nie baie tyd saam gehad het nie,” sê Mahlangu van Soshanguve, noord van Pretoria.

Omdat haar ma ’n Tsonga en haar pa ’n Ndebele is, het Erfenisdag nog altyd die viering van diversiteit en haar immer ontwikkelende kultuur verteenwoordig.

Lebogang Mahlangu (24)Foto: Garreth Barclay

Haar perfekte Erfenisdagmaaltyd sluit beesvleis of hoender in en ’n hele klomp verskillende kleure bykosse soos rys, pampoen, patats, beet, kool, boontjieslaai, marog en chakalaka.

“Dit is hoe ‘huis’ vir my proe.”

Natasha Joubert (22) van Centurion sal waarskynlik Erfenisdag saam met haar gesin deurbring en terselfdertyd nasionale braaidag vier.

“Ons braai gewoonlik en geniet ’n heerlike familiedag saam. Almal is so besig met hul werk dat die tyd saam met my gesin vir my baie spesiaal is.”

Haar ideale Erfenisdagmaaltyd is ’n tjoppie op die vuur, ’n braaibroodjie en aartappel of ’n ander stysel saam met ’n slaai.

Vir haar beteken “erfenis” die unieke, oorgeërfde familie-identiteit – haar waardes, tradisies en kultuur wat haar ouers en familie aan haar oorgedra het.

Chantelle Pretorius (24)Foto: Garreth Barclay

“Ons absorbeer ’n gevoel van erfenis deur ons hele lewe as ons die dinge waarneem en ervaar wat ons gesin uniek maak. Die afgelope paar maande saam met al die meisies het my laat besef hoeveel kulture daar eintlik is. Jy besef nie regtig hoe uiteenlopend ons is voordat jy tyd met die mense rondom jou spandeer het wat nie dieselfde agtergrond en tradisies as jy het nie. Ek het soveel geleer oor verskillende kulture en ek dink Erfenisdag gaan daaroor om werklik die tyd te neem om oor ’n ander kultuur as jou eie te leer en dit te omhels.”

Chantelle Pretorius (24) van Pretoria gaan ook saam met haar gesin braai en die heerlike lenteson geniet.

“As ek aan ’n ete dink wat my terugneem na my kinderjare, dan dink ek aan ’n heerlike Sondagmiddagete saam met familie om die tafel. Maar om die beste van ons pragtige weer te maak, is my perfekte ete beslis skaaptjops, ’n interessante slaai en ’n braaibroodjie.”

Natasha Joubert (22)Foto: Garreth Barclay

Omdat Pretorius al die geleentheid gehad het om deur die wêreld te reis en met verskillende kulture saam te leef, maak dit haar net trotser op haar erfenis en haar land.

“Suid-Afrika word nie sonder rede ’n reënboognasie genoem nie en Erfenisdag herinner my aan hoe bevoorreg ek is om in ’n land te woon wat soveel verskillende kulture verteenwoordig. Dit herinner jou ook daaraan dat, ongeag jou agtergrond, ons almal deel is van een nasie en ons moet probeer om ons verskille te aanvaar en harder te werk om mekaar te omhels en van mekaar te leer,” sê sy.

Die nuwe Mej. Suid-Afrika word op 24 Oktober in Kaapstad gekroon.

Meer oor:  Mej. Sa  |  Erfenisdag  |  Tshwane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.