Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Voed die groen in jou bloed!

Tydens ’n besoek aan die Ultimate Rugby Experience-museum besef Corrie Laubscher  ’n vriend van haar word ook vereer en reël sommer dat nóg ’n Springbokbaadjie ’n huis kry.

Theo Geustyn met Daan Retief se Springbokbaadjie by die foto-uitleg van die 1956-toer na Nieu-Seeland. Daan was deel van daardie Springbokspan.

Springbokrugby is in soveel van ons se bloed. En nog nooit was ek op ’n plek waar die geskiedenis van die Groen-en-goud so in diepte vertel word as by die Ultimate Rugby Experience op die Nooitgedacht-landgoed buite Stellenbosch nie.

Dis die rugbymemorabilia van twee superversamelaars, Theo Geustyn en Choet Visser, wat hier uitgestal word.

Ek was baie bly om te sien ons vriend Daan Retief word ook hier vereer.

Theo het op tien begin om koerantknipsels en foto’s uit tydskrifte te versamel. Sy indrukwekkende plakboeke vertel die verhale van verskillende besoekende rugbyspanne aan Suid-Afrika, waaronder die 1967- Franse toerspan en die onvergeetlike Britse Leeus se besoek van 1974.

Op universiteit het sy vriend die voormalige Springbok en Vrystater Martiens le Roux baie gehelp om sy truiversameling te begin, waarna Gysie Pienaar en Theuns Stofberg ook later bygedra het tot die unieke versameling van rugbytruie.

Op Nooitgedacht se webblad vertel Theo sy gunsteling is die Springboktrui en toksak wat Sias de Kock in 1921 op die Boktoer na Nieu-Seeland gedra het.

Choet, ’n voormalige Vrystaatse rugbyspeler, se private versameling by sy huis was legendaries. Sy dogter, Veronica du Plessis, het saam met Theo gewerk om sy passie hier in die museum te laat voortleef nadat hy in 2005 oorlede is. Elkeen van sy versamelaarsitems was ’n geskenk, want dit was Choet se reël dat hy niks mag koop nie.

’n Held vir almal

Oud en jonk sal iewers in hierdie museum een of meer van hul rugbyhelde raakloop. En dis nie nét rugbysterre nie, selfs Hansie Cronjé, ons krieketheld, word hier vereer. Theo is soos Hansie ook ’n produk van Grey-kollege in Bloemfontein, waar hierdie rugbymuseum eintlik sy oorsprong gehad het. Dit word ook gereeld deur skoolspanne besoek.

Wat ’n uitstekende platform om jong rugbyliefhebbers se entoesiasme en trots te voed.

Ek dink amper daar is aandenkings van ál Suid-Afrika se rugbyhelde, reg van die 1920’s af. Dis foto’s, trofeë, baadjies, truie en nog vele meer wat pronk in besonderse uitstalkaste wat Theo self ontwerp het.

Toets Retief met haar oorlede man, die oud-Springbok Daan Retief, se Springbokbaadjie. Sy het dit onlangs aan die rugbymuseum geskenk.

‘Daan se baadjie voltooi die kring’

Met ons besoek was ons verheug om te sien ons stappersvriend Daan Retief, ’n eertydse Springbok, word ook in die museum vereer. As vleuel het hy baie jare vir Noord-Transvaal diens gedoen en later ook agtsteman gespeel.

Daan het sy Springbokkleure in 1955 verwerf as agsteman en flank teen die Britse Leeus. Later het hy ook in die All Black- en Wallaby-Springboktoer van 1956 gespeel. Saam met Tom van Vollenhoven en Roy Dryburgh was hy onder die voorste driedrukkers op die toer en een van die gelukkiges wat nooit beseer was nie.

Sy vrou, Toets (85), was baie opgewonde toe ons haar van dié museum vertel en trots het sy Daan se Springbokbaadjie geskenk. Soos sy sê: “Daan se baadjie het nou ’n nuwe huis gekry, om so die kring te voltooi”.

Theo, soos altyd baie dankbaar vir nog ’n toevoeging tot die museum, het dadelik ’n geskikte plek vir dié besonderse baadjie gevind by die foto-uitleg van die 1956-toer na Nieu-Seeland.

Nou hoop Theo om nog ’n Britse Leeu-trui van die 1955-toer, asook Australiese en All Black-truie van 1956 by sy versameling te voeg.

Weet voor jy gaan

  • Die museum is vir elkeen, want toegang is gratis. Hulle vra net ’n bydrae vir die Chris Burger/Petro Jackson-spelersfonds ten bate van spelers wat traumatiese beserings tydens wedstryde opgedoen het. Dis oop vanaf 09:00 soggens en maak toe wanneer die restaurant toemaak. Die kombuis sluit 21:00, maar jy kan nog verder by die kroeg kuier.
  • Die Ruck ’n Maul-restaurant maak heerlike pizzas. Sit onder sambrele, terwyl die kinders ’n rugbybal op die grasperk rondskop of op die klimrame speel. Hulle vertoon natuurlik al die rugbywedstryde op groot skerms.
  • Besoek Nooitgedachtestate.co.za/rugby/home of stuur ’n e-pos aan theo@ultimaterugbyexperience.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.