Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Voëls van anderste vere

Somerset-Oos in die eerste helfte van die vorige eeu klink dalk na ’n onwaarskynlike plek vir ’n oplewing in die lugvaartbedryf, maar dit is presies wat dit was, skryf Deonette Haggard.

Christo Erasmus en sy broer Flip
Christo Erasmus en sy broer Flip het in die vroeë 1930s dié enkelvlerk-vliegtuig gebou en daarvan gedroom om hulle op groot skaal te vervaardig. Foto: Verskaf

Enigiemand met die geringste belangstelling in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse lugvaartbedryf sal vir jou kan sê die Oos-Kaap is die wieg van die Suid-Afrikaanse vliegkuns. Dit was immers in Oos Londen, by die Nahoon-renbaan waar Stirling Hoërskool nou staan, waar ’n Fransman genaamd Albert Kimmerling met ’n dubbelvlerk Voisin Canard op ’n hoogte van sowat 6 m en ’n snelheid van 30 km per uur die eerste gemotoriseerde vlug in die land onderneem het.

Dalk sal mense jou ook vertel van Majoor Alister Miller, ’n heldhaftige vlieënier uit die Eerste Wêreldoorlog wat by die 18de putjie van Port Elizabeth se gholfbaan voor ’n skare toeskouers met sy vliegtuig in ’n sandbunker ingeploeg het. Hy was ook die stigter van Union Airways, wat later SAL sou word.

Min sal jou egter iets kan sê oor Somerset-Oos se bydrae in die beginjare van die Suid-Afrikaanse lugvaartbedryf en mense soos Christo Erasmus, Molly Hankel, Willie Botha en Arthur Oehley.

Alex en Phillip Erasmus
Alex en Phillip Erasmus het in die 1960’s hulle pa Christo se vliegtuig in Benoi oorgebou. Koerante het destyds oor sy tyd in Amerika berig. Foto: Verskaf

Christo Erasmus

C.J. Erasmus (Chris) van Charlton, Somerset-Oos, is gebore in die jaar waarin Kimmerling daai vlug in Oos-Londen gemaak het en as plaasseun was sy belangstelling nie by die boerdery nie, maar by motorkarre.

Hy het op 16 jarige ouderdom teen sy ouers se wense “motor engineering” in die VSA gaan studeer, waar hy bevriend geraak het met Ed Heath, ’n vliegtuigingenieur, toetsvlieënier en waaghals. Erasmus het gou sy studies verander na lugvaartingenieurswese en werk gekry by Heath se maatskappy wat vliegtuigstelle, wat mense self aanmekaar kon sit, vervaardig het.

Hier het hy betrokke geraak by die ontwerp van die Heath Parasol-vliegtuig, die bekendste van die Heath-produkte en later ook die Baby Bullet waarmee Heath aan toring-resies (pylon racing) deelgeneem het. Die Bullet was met ’n 32-perdekrag motor (omtrent dieselfde as ’n Volksie) tot 140 m.p.u. (225 km/h) in staat. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die vlerke van die “onsterflike Spitfire” op die vlerke van die Baby Bullet geskoei.

Erasmus was skaars 20 jaar oud toe hy ’n turbineskroefvliegtuigmotor ontwerp en gebou het wat vliegtuigdeskundiges beskryf het ’n “produk ten minstens 10 jaar voor sy tyd.” Die gespesialiseerde staal wat daarvoor nodig was, het toe nog nie bestaan nie, met die gevolg dat die hoofas ná sowat 100 uur se werkverrigting gesmelt het, maar net meer as tien jaar later, tydens die Tweede wêreldoorlog, het die Duitsers dit in hulle vliegtuie gebruik.

Christo
Christo by ’n Heath Parasol in Chicago en in een se raamwerk (onder). Foto: Verskaf

Erasmus se blink loopbaan in Amerika (en byna sy lewe) is in 1930 weens ’n vliegongeluk kortgeknip. Hy was twee weke lank in ’n koma en daar was reeds reëlings getref om sy “oorskot” huis toe te stuur toe hy sy bewussyn herwin en volkome herstel.

Hy het teruggekeer plaas toe waar hy en sy broer Flip The Erasmus Aircraft Company of SA gestig het. Die maatskappy se eerste “Eindecker” (enkelvlerk) ZS-AEL (NA-40) het baie getrek op die Heath Parasol. Ten spyte van die belangstelling van ’n Amerikaanse maatskappy om as belegger op te tree en die maatskappybriefhoofde wat klaar gedruk was, het die Suid-Afrikaanse regering egter geweier om ’n lisensie toe te staan om die vliegtuie op groot skaal te bou.

Sunday Times berig op 27 Maart 1932 ná ’n langafstand vlug met die vliegtuig: “Behind the distance flight of Mr Erasmus’s plane lies a long story of the way in which the Government fails to encourage young South Africans to embark on any enterprise out of the usual rut. Mr Erasmus completed his machine months ago and has completely failed in getting the Civil Air Board to inspect and license his machine.”

Erasmus het egter steeds nut gevind vir die vliegtuig toe hy saam met Alister Miller die eerste lugposdiens tussen Oos-Londen oor Port Elizabeth na Kaapstad begin het. Die vliegtuig is egter kort daarna in ’n botsing afgeskryf.

Erasmus het egter reeds aan ’n tweede eendekker, SNA-40, begin bou. Hy het volledig oor hierdie vliegtuig boekgehou, van die eerste toetsvlug van 40 minute oor 44 myl tot die laaste inskrywing op 15 Julie 1936 waarin hy meld: ‘Removed engine from aircraft’.

In Amerika. Foto: Verskaf
In Amerika. Foto: Verskaf

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 het Erasmus sy drome om vliegtuie te bou finaal vaarwel toegeroep.

In hierdie stadium van sy lewe was Erasmus die enigste man in Suid-Afrika wat ’n ten volle gekwalifiseerde en gelisensieerde vlieënier sowel as ’n vliegingenieur was. Hy het sy loopbaan as vlieënier voortgesit, onder meer as ’n “vliegtuig-karweier”. Hiervoor moes hy vliegtuie van die een lughawe na die ander vlieg – hoofsaaklik Junkersvliegtuie vir Union Airways uit Duitsland.

Op een so ’n vlug het die motore die gees gegee bo die Middellandse See, maar hy het daarin geslaag om te sweef tot by die Egiptiese kus waar hy geland het en self die vliegtuig herstel het sodat hy kon terugvlieg tot in die Unie. Sy seun Alex vertel: “Dit was nie ’n maklik taak nie, veral as jy in ag neem ’n Junkersvliegtuig het sweefvermoë van ’n baksteen gehad.”

Ten tye van sy dood op 7 Augustus 1957 het die plaaslike koerant berig: “Dit is aan hom te danke is dat Somerset-Oos se mense so lugbewus geword het, want toe daar nog min belangstelling in die vliegkuns in ons land was, het Christo al sy eie vliegtuie gebou.”

“Lugbewus” was Somerset-Oos se mense beslis. In die laat 40s en vroeë 50s het 15 inwoners en boere van die distrik elkeen hulle eie private vliegtuig met vlieglisensies besit en ’n eerwaarde en dokter het ook later hul vlerkies gekry.

Molly Hankel
Molly Hankel met haar vlerkies.

Dit was danksy die entoesiasme van Willie Botha van die plaas Paardefontein wat die Somerset-Oos Vliegklub in Februarie 1952 gestig is. Hierdie vliegklub was waarskynlik die grootste vliegklub in die Unie. Daar was altesaam 120 lede, waarvan 22 gekwalifiseerde loodse met nog ses leerling-loodse. Eerwaarde M.B. MacManus was die streng sekretaris met ’n groot liefde vir vlieg. Hy het sy eie vlieglisensie bekom deur sy kamera en ander besittings te verkoop.

Hy het eendag opgemerk: “Ja, ek het die vlieglisensie, maar nie die geld om te vlieg nie, want dit kos £4 ’n uur om op te styg.”

Die vliegveld op Somerset-Oos was baie besig. Vliegtuie het gekom en gegaan soos op ’n groot lughawe, want die boere het oor en weer met hul vliegtuie gekuier soos ’n mens nie in daardie tyd sou verwag nie. Stories oor hierdie vlieëry is daar baie en oor die algemeen het die mense heel goed gevlieg, maar so verdwaal iemand toe mos. Hy vertrek uit Bloemfontein en toe hy meen hy is nou naby Somerset-Oos, toe kom hy agter hy is by Kuruman.

So ook het twee boere eendag probleme met ’n trekker ondervind. Hulle los toe die trekker op die lande en vlieg Port Elizabeth toe om gou ’n trekkeronderdeel te gaan koop, maar hulle keer eers drie weke later terug – darem met die regte onderdeel.

’n Ander storie vertel van twee boere bokant Golden Valley, op ’n hoogte van sowat 1 000 vt – toe die een hom uitstrek en per ongeluk die vernsnellerklep toe stamp. Hulle het vergeefs probeer om die enjin met ’n duikslag weer aan die gang kry en land toe maar noodgedwonge in ’n lusernland. Hier het Boer A toe glo uitgespring, die skroef een draai gegee en geskree “Throttle!” en daar trek boer Z weg. A spring in en asof dit suiwere kinderspeletjies is, vlieg hulle toe grootmeneer verder.

Christo Erasmus
Christo Erasmus se SNA-40 op die plaas Charlton. Dit was byna SA se eerste produksievliegtuig. Foto: Verskaf

Molly Hankel

Molly Hankel, Somerset-Oos se eerste vrouevlieënier, was ’n enigma in haar tyd op die dorp. Sy het twee vlieglisensies bekom. Die eerste een het sy binne 8 uur met vlieënde vaandels geslaag – selfs beter as sommige van die mans wat probeer het. Sy het ook benoude oomblikke beleef toe haar deur eendag op ’n solovlug skielik oopgegaan het, maar sy het koelkop gebly en in een stuk geland.

Molly was daarvoor bekend dat sy maklik Port Elizabeth toe gevlieg het om te gaan inkopies doen. Sy het ook vertel sy het eendag vir iemand twee dosyn eiers Port Elizabeth toe geneem en dat nie een eier stukkend daar aangekom het nie.

Christo Erasmus
Alex en Phillip Erasmus se pa, Christo. Foto: Verskaf

Willie Botha en Arthur Oehley

In 1954 het Willie Botha, wat toe al ses jaar se vliegervaring het, en sy vriend, Arthur Oehley, ’n sakeman van Somerset-Oos, ’n epiese vlug onderneem toe hulle met Botha se tweesitplek model-E ligte Ercoupe (ZS BSL) van Somerset-Oos af Europa toe en terug gevlieg het. Die vliegtuigie het ’n 85 pk. Lycoming-enjin met ’n snelheid van 110 m.p.u. (177 km/h). Voorts het die tenk net 19½ gelling brandstof gehou, wat genoeg sou wees vir ’n vlug van 450 myl (725 km) of 4½ uur.

Kort ná hul vertrek het ’n uitgebrande kondensator hulle radioloos gelaat en ’n stofstorm het hulle gedwing om op die oewer van die Nyl naby Khartoem te land, die vliegtuig op die grond vas te maak en op die vlerke te leun om hom stewig genoeg te anker sodat hy nie wegwaai nie. Dit was ook die eerste en enigste keer wat hulle die vliegtuig se olie vervang het en die motor nagegaan het.

Vanaf Kaïro af het hulle gevlieg oor plekke soos El Alamei en Sidi Barrani waarvan die name nog vlak gelê het in die geheue van Suid-Afrikaners wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Afrika diens gedoen het. Ná ’n nag in Tunisië was die vlug oor die Middellandse See van Cap Bon tot Palermo in Sicilië vir hulle ietwat van ’n nagmerrie aangesien hulle dit sonder veiligheidsgordels of rubberbootjies moes aanpak. Dit was uiteindelik ’n groot verligting toe hulle die kuslyn van Sicilië veilig bereik. Ná oornagverblyf is hulle verby Berg Etna oor die voet van Italië na Napels en ’n lugskou waar almal verwonderd was oor die klein vliegtuigie se waaghalsige vlug. In Rome het hulle selfs die Pous ontmoet wat hulle geseën het. Weens ongunstige weer kon hulle nie van Marseille na Parys vlieg nie en moes vir eers die vliegtuig agterlaat om die Franse hoofstad te verken voor hulle die terugtog kon aanpak. Ná net meer as ’n maand en ’n koste van £250 het hulle weer op 29 Junie by Somerset-Oos se vliegveld neergestryk.

Hierdie vlug is intussen op rekord geplaas as die enigste van sy soort waar so ’n vliegtuigie van die een kontinent na ’n ander gevlieg het sonder ’n ekstra tenk en toerusting, asook as die ligste vliegtuig wat ooit die retoervlug na Europa en terug onderneem het.

Koerantberig
’n Koerantberig oor die Erasmus-seuns se projek om hul pa se vliegtuig te herbou. Foto: Verskaf
verwelkomingskomitee
Die verwelkomingskomitee vir Arthur Oehley (middel) en Willie Botha (naasregs) na hulle epiese vlug na Europa en terug. Foto: Verskaf
Deonette Haggard

Christo se droom

In 2010 was daar hoop dat Christo Erasmus se droom om ’n eg Suid-Afrikaanse vliegtuig in Somerset-Oos te bou bewaarheid sou word.

Die Blue Crane ontwikkelingsagentskap het met groot fanfare ’n projek aangekondig om die vliegveld op te knap en tesame met Wits Universiteit ’n klein vliegtuigie te ontwikkel en bou. Buiten vir aanvanklike voorbereidingswerk en ’n model van die voorgestelde vliegtuig, het daar egter dadels van gekom en die ontwikkelingsagentskap het in 2015 sy deure gesluit.

Meer oor:  Geskiedenis  |  Vliegtuig  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.