Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Volksblad’-foto’s wat die oog getref het

Sonder ’n goeie foto is ’n koerant soos ’n skaaptjoppie sonder vet en sout. ’n Goeie nuusfoto maak ’n koerant, maar nie enige fotograaf kan ’n nuusfoto neem nie. Hier is ’n paar foto’ oor die jare wat die toets van die tyd deurstaan het geneem deur van die beste fotograwe. Charles Smith het die foto’s saamgetrek. 

John Varty
John Varty, die tierman van die Vrystaat, wys een van sy tiertelge vir die kamera. Die bekende natuurlewe-filmmaker het in ’n onderhoud in 2014 gesels oor die belangrikheid van die bewaring van tiere. Hier hou hy 20 wilde tiere op die plaas Tiger Valley aan sowat 50 km buite Philippolis. Twee vier maande oue welpies, Kumba en Aurora, is met die hand grootgemaak. Foto: Conrad Bornman
Volksblad se fotograaf Conrad Bornman het in November 2014 saam met ’n toergroep ’n lewensveranderende reis na Israel onderneem. Die beelde wat hy op kamera vasgevang het, is vir hom meer as net foto’s in ’n album, maar eerder sielsgewaarwordinge wat hom altyd sal bybly. Die foto is in ’n artikel in Januarie 2015 gebruik. Foto: Conrad Bornman
Etienne Leroux
Een van die Vrystaat se grootste seuns praat met Volksblad. Die skrywer Etienne Leroux het net voor die publikasie van Onse Hymie (1982) op sy plaas Ja-Nee by Koffiefontein ’n onderhoud toegestaan. Ek het die befaamde skrywer saam met Willie Kühn, hoofredaksielid van Die Volksblad besoek, vertel Hannes Pieterse, eertydse hooffotograaf. “Ek was nog ’n groentjie-fotograaf en baie dom of baie dapper. Ons hooffotograaf, Lappies Labuschagne, het my geleer as jy mense met ’n donkerbril kry, vra jy baie beleefd dat hulle dit verwyder. Jy wil tog hul gesig sien. Dis presies wat ek gedoen het. So het Leroux, in swart geklee, sy kenmerkende donkerbril afgehaal en vir die foto geposeer. Darem met sy sigaret tussen die vingers en sy swart leersakkie aan die sy, steeds daar.” Foto: Hannes Pieterse
Die vloede wat die Vrystaat in 1989/90 getref het, het vir dramatiese tonele gesorg. ’n Oormaat reën het nog altyd drama beteken. Hier is ’n boer besig om een van verskeie skape wat op ’n eiland vasgekeer is, na veiligheid te bring. Die spruit, ’n inloop van die Tierpoortdam op pad na Reddersburg, het ’n rivier geword en die boer moes inspring en help. Foto: Hannes Pieterse
Die Ja/Nee-referendum in 1983 het emosies behoorlik op hol gehad. ’n Pa en ma trek hul kruisies by ’n kiespunt op die skouterrein in Bloemfontein. Hul dogters kyk toe. Foto: Hannes Pieterse
Honderesies in die Bloemfontein-omgewing het die mense in 2001 aan die praat gehad. Dié spoedvrate hardloop tot 69 km/h en in ’n 300 m-wedren is hulle vir net sowat 10 persent in aanraking met die grond. (2001) Foto: Hannes Pieterse
’n Mango-vliegtuig vlieg oor die Kussman-gemeenskap in Estoire, Bloemfontein, waar die gemeenskap soos plakkers langs die Bram Fischer-lughawe bly. Jovan van Aswegen (2) is die jongste inwoner. Langs hul blyplek, glo sonder water en krag, is ma Veronica en sussie Annemie (9). Die foto is in Augustus 2018 geneem en as deel van ’n artikel oor dié mense gebruik. Die reaksie was geweldig en meeste het ’n nuwe heenkome gekry. Foto: Mlungisi Louw
Die foto wat ’n duisend boekdele spreek en duisende harte aangeraak het. Die boesemvriende Evert du Preez en Mokoni Chaka van Hennenman was die helde in ’n treinramp in Januarie 2018 op die plaas waar hulle woon. Hulle het vasgekeerde kinders uit die brandende treinwaens help red. Hier speel hulle saam op die plaas ’n week ná die ramp. Foto: Mlungisi Louw
Die foto en storie wat die land geskok het. Stakende munisipale werkers het die historiese Bloemfonteinse stadsaal in Junie 2017 afgebrand nadat die burgemeester, Olly Mlamleli, nie hul kontrakte wou teken nie. Hier is die stadsaal in ligte laaie. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Laaste Gedrukte Uitgawe  |  Volksblad  |  Foto's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.