Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Vreugde toe klein Helena in Mosambiek ’n bokkie kry

’n Meisietjie wat in Mosambiek onder ’n boom gesit en huil het oor haar boklammetjie wat weg is in die verwoesting wat die sikloon Idai agtergelaat het, het hom só aangegryp dat hy later vir haar ’n bokkie gebring het.

Dr. André Hattingh met die boklam wat hy vir klein Helena gebring het. Op ’n vorige besoek het hy haar huilend gekry nadat sy haar eie bokkie weens die verwoestende sikloon verloor het. Foto: Pediatric Care Africa

Dr. André Hattingh, stigter van Pediatric Care Africa, het hulp verleen aan die mense in die Sofala-provinsie van Mosambiek toe hy haar daar sien sit.

Die trane het by haar wange afgestroom en toe hy vra of sy beseer is, het sy gesê haar naam is Helena en sy is hartseer omdat sy haar bokkie in die chaos verloor het.

Hy het belowe hy sal vir haar ’n bokkie bring en toe hy onlangs weer daar was, het hy sy belofte gehou. Sy was in vervoering oor haar nuwe boklam.

Hy samel nou weer voorraad in vir die mense wat weens die sikloon haweloos gelaat is.

Toe hy die eerste keer op 18 Maart daar aankom, het hy kort daarna toestemming by die Mosambiekse mediese raad gekry om te help.

Hy het onder meer siek mense na die hospitaal in Chimoio gebring en mediese hulp verleen aan honderde inwoners van Inchope en die omliggende dorpies in die Sofala-provinsie.

Hy het ’n ton kos, gebottelde water en ander artikels wat sakeondernemings in die Laeveld geskenk het, aan dié mense uitgedeel.

Klein Helena met haar nuwe boklam. Foto: Pediatric Care Africa

Hy het daarna na Suid-Afrika teruggekeer om voorrade soos mieliemeel, blikkieskos, gebottelde water en geld vir medisyne in te samel, en is vroeg in April weer terug Mosambiek toe.

Luidens Pediatric Care Afrika het dié organisasie op sy onlangse besoek 750 kg kos aan die weeshuis in Inchopo geskenk. Hulle het ook 2 000 kg kos aan ma’s met kinders by die kliniek geskenk.

Die kliniek is weer operasioneel en danksy Pediatric Care Africa is daar genoeg medisyne en ander mediese voorraad.

“Die nood vir kos is groot, want die meeste mense het hul mielies en aangeplante groente verloor. Hulle ly honger en daar is geen moontlikheid om weer voor die volgende seisoen te plant nie,” sê Hattingh, wat Sondag na Suid-Afrika teruggekeer het.

Hy beoog om weer einde April na Mosambiek terug te keer.

Meer oor:  Mosambiek  |  Sikloon Idai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.