Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Vrou (63) ‘trou’ met haarself
Rita Woodall-Terblanche (63) het haar trouring, met geel diamante in ’n perdehoefvorm, vir haar selftroue laat maak. Die perdehoefvorm simboliseer geluk. Foto: Christiaan Cloete/Vaalweekblad
Leonie Gouws wens haar vriendin Rita Woodall-Terblanche geluk met haar troue met haarself. Foto: Christiaan Cloete/Vaalweekblad

’n Vrou van Vanderbijlpark het verlede Saterdag in “ ’n klein seremonie” met haarself getrou.

“Ek weet mense gaan lag en dink ek is ’n bietjie van lotjie getik. Ander sal frons of hul wenkbroue lig, maar ek skuld dit aan myself ná wat ek alles moes deurmaak,” sê Rita Woodall-Terblanche (63), wat by die Riverside Sun-hotel met haarself in die eg verbind is.

Rita het haar oorlede man, Alan, se van Woodall en haar nooiensvan Terblanche saamgevoeg.

“Eintlik was die troue met myself net simbolies. Dit word nie deur ’n kerk of binnelandse sake erken nie,” verduidelik Rita.

Dié huwelik is haar derde. “Ek is op 19 met my eerste man getroud. Dit was donkiejare gelede – in 1975. Ons was veels te jonk en is uiteindelik in 1981 geskei.”

Ek was baie lief vir Alan, maar het aan myself ’n belofte gemaak om nooit weer met ’n man te trou nie – toe trou ek maar met myself.
Rita Woodall-Terblanche daag Saterdag vir haar troue by die Riverside Sun-hotel in Vanderbijlpark op. Saam met haar is Anzel van der Sandt (9) en Christelle Venter (41).Foto: Christiaan Cloete/Vaalweekblad
Leonie Gouws (55), ’n vriendin van Rita, het die trouseremonie gelei.

Sy weier om oor die “aaklige tyd” in haar lewe te praat.

“Ek is in 1982 met Alan getroud. Dié huwelik was ook nie sonder sy uitdagings nie. Alan is in 2002 by Yskor afgelê en sy gesondheid het toe al hoe meer agteruitgegaan.

“Hy het ernstige hartprobleme ontwikkel en was depressief en boonop bedlêend. Daar is ook in dié tyd vyf keer by ons huis ingebreek en al hierdie teëspoed het nie gehelp om Alan se gemoed te lig nie.

“Ek het hom al die jare versorg, maar elke dag was ’n opdraande stryd. Ek was baie lief vir Alan, maar het aan myself ’n belofte gemaak om nooit weer met ’n man te trou nie – toe trou ek maar met myself,” sê sy.

Rita Woodall-Terblanche vier haar troue met haarself met ’n glasie vonkelwyn. Foto: Christiaan Cloete/Vaalweekblad
Neels Terblanche, Rita se jonger broer, skiet die kurkprop van ’n bottel vonkelwyn af om sy suster se huwelik met haarself te vier. Foto: Christiaan Cloete/Vaalweekblad

Rita het ná haar man se dood sowat drie jaar gelede by haar “droomhuis” ingetrek en die verlede agter haar probeer sit.

“Ek loop al lank met die gedagte in my kop rond dat ek nou myself eerste moet stel. Dit is hoe ek aan die idee van ’n huwelik met myself gekom het. My beste vriendin, Leonie Gouws, was die ‘dominee’ en daar was sewe gaste op my troue – meestal vriende en familie.

“Ek het ook ’n besonderse trouring – ’n diamantring met ’n perdehoef, wat geluk simboliseer – spesiaal vir dié dag laat ontwerp. My kar was die troukar en daar was ballonne, goeie musiek, blomme en breë glimlagte.

“My seun, Sean, wat in Ballito woon, kon dit nie maak nie, maar hy kom kuier een van die dae vir my. Hy dink natuurlik dié troue is die oorspronklikste idee in menseheugenis,” lag Rita.

Rita se jonger broer, Neels Terblanche (60), was darem daar om die kurkprop van ’n bottel vonkelwyn af te skiet om sy suster se huwelik met haarself te vier.

“Die meeste mense dink dalk eerder ek is stapelgek, maar vir my is dit die afsluiting van ’n ou deel van my lewe en die begin van ’n nuwe, meer opwindende deel.”

En as “ ’n wittebrood-bederf” aan haarself gaan Rita, ’n boekwurm, binnekort na ’n vakansieoord in Bela-Bela om in die warmwaterbronne met ’n boek te ontspan.

“Niemand kan ’n mens mos liefhê en bederf soos jyself nie,” sê Rita.

Trougaste vier Rita se troue met haarself. Van links is Gert Nel, Miemie Nel, Rita, Anzel van der Sandt (9), Christelle Venter (41), Leonie Gouws (55), Wilma Terblanche (58) en Neels Terblanche (60). Foto: Christiaan Cloete/Vaalweekblad
Meer oor:  Rita Woodall-Terblanche  |  Romanse  |  Seks  |  Huwelik  |  Selftroue  |  Vrou Trou Met Haarself
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.