Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Vrou vertel hoe boom haar in 1971 in motor vaspen
Elaine Strydom (links) en Ronel Beukes.

Haar ma het haar altyd geleer “as jy soggens die huis verlaat, moet die beddens netjies opgemaak wees, want ’n boom val dalk op jou kar”.

So vertel Ronel Beukes (49), wat op 16 April 1971 gebore is, ses weke nadat ’n boom op haar ma, Elaine Strydom, toe 28 jaar oud, se motor in Bellville geval het terwyl sy met Beukes swanger was.

Die voorval het 50 jaar gelede, op 1 Maart 1971, gebeur.

’n Berig oor die voorval het op 2 Maart 1971 in Die Burger verskyn met die opskrif: “Boom val op motor; vrou vasgepen.” Daar is weer op 2 Maart na die berig verwys in “50 Jaar gelede”, wat daagliks in Die Burger verskyn.

Strydom (78) vertel sy het die dag nie regtig geskrik nie. Sy was meer bekommerd oor haar ongebore baba.

Sy en Beukes se broer, Riaan, toe 5, was op pad terug huis toe van Sanlam, die versekeringsmaatskappy waar haar man, Sarel, gewerk het.

By die ou Bellville-stasie het ’n “massiewe” bloekomboom op die motor geval, ’n rooi Ford wat die gesin kort tevore aangeskaf het.

“Die slag het die stuurwiel morsaf gebreek en die motor middeldeur geknak. Die stuurwiel het teen my maag gesit,” sê Strydom.

Die berig op 2 Maart 1971 in Die Burger met die opskrif: “Boom val op motor; vrou vasgepen.”
Die verwysing op 2 Maart in die kolom “50 Jaar gelede” in Die Burger.

Die Ford het net twee deure gehad en Riaan is by die agterruit uitgetel. Sarel is ook ontbied. Strydom was heeltyd by haar positiewe, maar kon nie uit die motor kom nie en was ’n uur lank vasgekeer.

“Ek onthou dit was ’n storie om die boom van die motor af te kry. Daardie tyd was daar nog nie die toerusting van vandag nie, en hulle moes ’n ingenieursmaatskappy kry om te help.”

Volgens die berig is die boom later met die hulp van die brandweer opgehys.

Strydom se dit is ’n wonderwerk dat niemand beseer is nie. Sy is per ambulans na die Karl Bremer-hospitaal geneem, maar is later huis toe sonder dat sy opgeneem is. “Ek het net baie snye gehad,” sê sy.

Die gesin moes ’n ander motor koop.

Beukes, ’n dieetkundige en lektor in menslike voeding aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Tygerberg-kampus, sê sy het nooit besef dat haar so ma so ver swanger was nie.

“My pa het die storie vertel toe ek 21 geword het, maar noudat ek self kinders het, besef ek hoe traumaties dit vir my ma moes gewees het. My ma dink nog elke jaar aan daardie oggend as sy op 1 Maart wakkerword.”

Sarel is ’n paar jaar gelede oorlede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.