Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Vroue aan die mag

Augustus is Nasionale Vrouemaand en die afgelope week het ons Vrouedag gevier. Twee baie suksesvolle vroue vertel hoe hulle vrouwees ervaar. Deur Terésa Coetzee.

Prof. Elain Vlok, Bestuurder:

Clover Mama Afrika Trust

Die vrou wat die belangrikste rol in my lewe gespeel het aan wie ek ewige dank verskuldig is, is my ma, Aletta Catharina Erasmus, wat al 32 jaar oorlede is. Sy het my alles wat belangrik is in my lewe vir my geleer, alles oor die essensie van vrouwees, my geloof, dankbaarheid en om hard te werk. Ek het ongelooflike waardering vir my ma vir alles wat sy my geleer het.

Ek dink dit is goed dat daar ’n spesiale dag soos Vrouedag is en dat hierdie dag ’n spesiale plek op die kalender gekry het, hoewel ek dink vroue het so ’n spesiale vermoë om soveel dinge tegelyk te doen en te vermag dat hulle eintlik elke dag geëer behoort te word. Dis jammer dat daar ’n spesiale maand in die jaar moet wees sodat daar klem geplaas kan word op die belangrike anker wat vroue in die wêreld is. Die gesegde lui nie verniet: “Strike a woman, then you strike a rock”, nie.

Prof. Elain Vlok

Ek glo elke vrou kan ’n verskil maak in hierdie wêreld. Ek het al so baie in my lewe gesien met die werk wat ek doen, dat vroue eintlik soos klein plantjies is en as hulle die regte voeding en water kry, floreer hulle.

Ek het al skaam vroue gekry wat skaars hul name kan sê en ’n mens glad nie eens in die oë wil kyk nie en die oomblik as hulle vaardighede begin aanleer en bemagtig word, ontluik hulle in wonderlike beroepsvroue. Elke­ vrou daarbuite het dit in haar om iemand baie besonders te wees en soms kort sy maar net iemand om dit raak te sien en om haar dit te help ontwikkel en die eindproduk is so bevredigend!

Elkeen van ons kan ’n verskil maak aan ander se lewe, selfs al voel jyself maar klein en onbenullig. Moenie wag dat jy eers ’n begroting het, of die nodige ruimte het of om die regte mense te ontmoet nie. Kyk links en regs van jou, net daar waar jy is en jy sal onmiddellik die nood kan raaksien. Partykeer soek ons die nood daar ver, maar in hierdie dag en tyd is die nood eintlik meestal hier reg by ons. Begin deur ’n verskil te maak in die lewe van die mense hier reg by jou, want dit kring gewoonlik uit. As jy ’n goeie voorbeeld stel, sal die volgende een dieselfde wil doen.

Ongelukkig is dit so dat daar steeds nie gelykheid is in die werkplek nie en dat daar steeds teenoor vroue gediskrimineer word, maar ek het geleer om dit te aanvaar.

Ek geniet dit om ’n vrou te wees – eenvoudig omdat ek soveel anders is as ’n man. Ons vroue is baie spesiale wesens. Dink nou maar net hoe lekker is dit om jouself mooi te maak, om keurig aan te trek, ek hou van mooi skoene, ek hou baie daarvan om lekker te ruik. Ek vier elke dag my vroulikheid deur mooi en interessante klere en onderklere te dra en is mal oor juweliersware en parfuum. Ek het ’n hele parfuumkas met die wonderlikste geure.

Ek geniet dit so om ’n vrou vir my man te kan wees en omdat hy dit so waardeer, geniet ek dit nog soveel meer. Al hierdie dinge van werklik vrouwees, goeie waardes en integriteit, om trots op jouself te wees het ek by my ma geleer.

Elize Giese: Uitvoerende hoof

van werknemersvoordele, FNB

Ek is ’n ma van twee jong kindertjies: Mason is amper agt jaar oud en Vera is ses. Ek dink so dikwels aan die groot verantwoordelikheid wat ouerskap is – die voorbeeld wat ons vir ons kinders stel, is hul “normaal”. Werk ons hard en wys ons deursettingsvermoë? En toon ons respek vir ander mense? Dis alles wat hulle by ons leer van kleintyd af.

Albei my ouers is dokters: My ma is ’n narkotiseur en pa was ’n neurochirurg. Ek onthou nog toe my maats in die laerskool my gevra het wat my ouers doen, het ek gesê hulle is albei dokters en die meeste mense het my gekorrigeer en gesê my ma is ’n verpleegster. So snaaks dat mense altyd aangeneem het ’n vrou is ’n verpleegster en kan nie ’n dokter wees nie.

Ek het nog altyd geglo dat ek met genoeg harde werk en vasbeslotenheid enigiets kan doen (Malcolm Gladwell se teorie van 10 000 uur). Ek is gelukkig pragmaties genoeg dat ek byvoorbeeld weet ek het nie ’n natuurlike talent vir kuns nie, maar baie dinge kan ’n mens leer met genoeg oefening en toewyding.

Elize Giese

Ná skool het ek besluit om elektroniese ingenieurswese te studeer en daarna finansies ook gedoen en nou werk ek in die bankwese. Daar was maar min meisies in die ingenieursfakulteit, maar ons sien deesdae van die beste wiskundiges en wetenskaplikes is vroue!

Ek is bevoorreg om baie rolmodelle en mentors in my lewe te hê. Ek dink ’n mens kan van almal leer, party mense het positiewe eienskappe en inspireer ’n mens om beter te wees; en party ander mense leer ’n mens hoe ’n mens dalk nie wil wees nie. Ek glo elke mens en leier waarmee ons in kontak kom, bied ’n les. Mense hoef ook nie ’n titel te hê om ’n leier te wees nie, almal kan ’n leierskaprol speel en ander help of inspireer. Ons vergeet dit dikwels.

Ek het al baie geleenthede gehad in my loopbaan, veral my tien jaar by FNB het my al vele wonderlike geleenthede en blootstelling gebied. Ons het baie goeie mense in ons onderneming, maar ek dink ’n groot deel van leierskap is om jou mense geleenthede te gee om hul talente te wys sodat ander mense hul bydrae kan sien. Een van my gunstelingaanhalings is: “We rise by lifting others.” Ek wil ander mense se talente vier en veral as ek ’n span bymekaarsit, wil ek hê hulle moet almal beter wees as ek. Die leier kan nie alles weet nie, maar as jy ’n sterk span bou, dan sal julle gesamentlik uitstekend wees!

Leierseienskappe wat ek waardeer, is dapperheid en om te leer om kwesbaar te wees. Brené Brown praat baie oor kwesbaarheid (vulnerability) en hoe ons vertroue kan bou in ’n span as ons mekaar leer vertrou en saamwerk. Ons wil nie individue hê wat teen mekaar werk of kompeteer nie, ons moet die beste vir die span wil hê sodat ons saamwerk en almal se mening en talente gebruik. Ons wil nie hê almal moet dieselfde dink nie, verskeie idees, menings en denke is presies wat ’n wenspan maak!

Dis altyd vir my interessant om te dink hoe en waar ’n mens verskillende mense in jou lewe ontmoet: Skool, vriende, sport en ander stokperdjies. Ek het onlangs ’n groep vroue ontmoet deur fietsry en geniet dit so hoe almal mekaar motiveer en opbou. Dis vir my so belangrik om ander belange te hê buite jou gesin en werk. Ek is baie lief vir my werk en baie passievol daaroor, maar om ’n sport of stokperdjie te hê maak die lewe interessant en gee aan ons ander sieninge.

Ek het ook besef dat ’n sport jou baie leer oor jouself, hoe om jouself op ’n ander manier uit te daag en beslis ook hoe belangrik jou denke is in ’n sport. Voordat jou liggaam ophou, het jou brein al besluit hoe ver jy kan gaan, so jou gedagtes en mental toughness is vir my ’n fassinerende idee en ’n groot lewensles.

Meer oor:  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.