Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Vroue moet ‘perfekmonster’ beveg, sê Rolene

“Néé, Perfek, jy gaan nie my selfvertroue steel nie!”

Rolene Strauss (27), voormalige Mej. Wêreld en Mej. Suid-Afrika, het dié woorde op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se jaarlikse vroue-ontbyt laat weerklink toe sy al die gaste dit saam met haar hardop laat sê het.

Strauss was die gasspreker op haar alma mater se geselligheid in die Callie Human-sentrum, waar sy haar as eerstejaartjie geregistreer het en later as ’n gekwalifiseerde dokter uitgestap het.

Sy het sterk gefokus op die druk wat vroue op hulself plaas om perfek te wees.

Sy het ook gesê vroue moet mekaar ophef en deur die lewe help.

Rolene Strauss
Rolene Strauss blaas ’n soen vir die kamera. Agter haar sit gaste by die Universiteit van die Vrystaat (UV) se jaarlikse vroue-ontbyt.Foto: Mlungisi Louw

“Laat jy toe dat jy aan die samelewing se weergawe van die perfekte vrou, genaamd ‘Perfek’, gemeet word? Dat dit jou selfvertroue, potensiaal, jou geluk en jou lewe steel?”

Sy het gevra of hulle toelaat dat dié “maatband” hulle meet en hulle wysmaak dat hulle nie goed genoeg is nie.

Volgens haar het “Perfek” haar byvoorbeeld ook gemeet om te sien of sy kan kwalifiseer om medies te studeer.

“Sy het my vermoë om te studeer en ’n goeie student te wees gemeet.

“Met my kroning as Mej. Suid-Afrika het die maatband stywer getrek. Ek is van binne en buite gemeet. Toe ek Mej. Wêreld geword het, het dit selfs stywer en stywer getrek.”

Rolene Strauss (27), voormalige Mej. Wêreld en Mej. Suid-Afrika, was die gasspreker op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se jaarlikse vroue-ontbyt. Foto: Mlungisi Louw

Daarna het sy haarself gemeet of sy die perfekte vrou vir haar man is en later die perfekte ma. Die maatband het haar versmoor, sê sy.

Strauss het besef sy moet dié las neerlê . . . en probeer om dit elke dag te doen.

“Ek sou nooit God se wil vir my lewe verstaan het as ek aanhou probeer het om perfek te wees nie.

“Jy is wie God sê jy is, jy hoef nie iemand anders te wees nie. Jy kan nie perfek wees nie, so hou op probeer om perfek te wees.”

Sy het ook besef sy kan dit nie alleen doen nie.

“Ons vroue voel altyd ons moet dit alleen doen: Jou kind alleen grootmaak, alleen werk toe gaan en alleen deur die lewe gaan. Maar ons het mekaar, ons kan dit saam doen.”

Sy het gesê vroue voel baie keer dat hul lig flouer sal skyn as hulle ’n bietjie daarvan met ander deel.

“Die waarheid is dat meisies teen mekaar meeding, maar dat vroue mekaar ophef.”

Rolene Strauss het in haar praatjie sterk gefokus op die druk wat vroue op hulself plaas om perfek te wees. Foto: Mlungisi Louw

Volgens Strauss sou sy nie deur die lewe gekom het as dit nie vir die vroue was wat haar langs die pad opgehef het nie. Daarom het sy dit haar missie gemaak om ook ander op te hef. Sy wil ’n positiewe invloed op vroue en hul gesondheid en selfvertroue hê.

Sy is byna vier maande swanger met haar en haar man, D’Niel, se tweede kind.

“Ons is baie opgewonde oor die swangerskap en so dankbaar dat dit in God se tyd gebeur het, op die regte tyd,” het sy aan Netwerk24 gesê.

Sy is tans besig met haar meestersgraad in bestuursafrigting en haar boek Vanuit die hart/ Reflections from the Heart sal in Oktober verskyn.

  • Op die ontbyt is nog inspirerende vroue-alumni soos appèlregter Mahube Molemela, die atleet Louzanne Coetzee, die sangeres Caroline-Grace Brüssow en die netbalster Karla Pretorius in ’n skyfievertoning vereer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.