Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Vroue wat ontrou is: Die einde van die affair

Daar word gewoonlik dubbel soveel van die goedvoelhormoon dopamien in die brein afgeskei aan die begin van ’n affair, maar hoë dopamienvlakke kan jou ook angstig laat voel en jou vermoë om te konsentreer en nugter te dink, aantas. Wanneer dopamien styg, verlaag serotonienvlakke, wat obsessiewe kompulsiewe gedrag, sowel as angstigheid en depressie tot gevolg het. Dit verklaar waarom vroue in ’n affair in ’n mate obsessief raak.
Dit is nie net immorele vroue wat in affairs beland nie. En ja, dit is moontlik om jou huwelik te red, skryf Terésa Coetzee.

Sy was 19 jaar getroud en die ma van drie kinders toe Debbie Rose ’n affair met ’n man begin het – iets wat dié Christenvrou nooit gedink het sy in staat is om te doen nie, want sy het haar lewe lank sterk waardes uitgeleef en was altyd die een wat al die reëls nagekom het. Sy was boonop lief vir haar man.

Hoewel die skande en skuldgevoelens ná haar affair haar byna verswelg het, het Debbie besluit om haar storie met die wêreld te deel en ander vroue in dieselfde posisie te help. Sy het ’n wêreldwye netwerk begin waar sy vroue ondersteun en help om die skade wat hul affairs veroorsaak het, te herstel.

“Ek en my man was ons lewe lank gelukkig getroud, maar ná ’n uitdagende seisoen in my lewe en huwelik, het ek myself toegelaat om ’n onbehoorlike vriendskap met ’n man te hê wat stelselmatig in ’n affair ontwikkel het vir byna ’n jaar,” sê Debbie.

Ek het besef dat ’n affair soos ’n ernstige verslawing kan wees, dat sekere chemiese prosesse in jou brein plaasvind en dat dit meer as net wilskrag en vasberadenheid verg om dit te beëindig,

“Die skuldgevoelens het ondraaglik geraak en my byna vernietig. Ek het myself begin haat en kon nie verstaan hoe ek my in so ’n situasie kon kry nie. Ek het oor my affair aan my man gebieg, maar steeds kon ek dit nie beëindig nie en dit het amper my huwelik gekos. Ek het besef dat ’n affair soos ’n ernstige verslawing kan wees, dat sekere chemiese prosesse in jou brein plaasvind en dat dit meer as net wilskrag en vasberadenheid verg om dit te beëindig,” sê Debbie.

Dit was baie moeilik en het harde werk geverg om haar huwelik te red, maar nou, ná 13 jaar, het Debbie en haar man die stukke opgetel en hulle is gelukkiger as ooit tevore getroud.

“My man het die krag gekry om my te vergewe en ek glo dat wanneer albei partye regtig hul huwelik wil red en bereid is om alles in hul vermoë te doen om dit reg te kry, dit wel moontlik is om die skade ten volle ná ’n affair te herstel,” sê sy.

Ontrouheid is ’n onhebbelike, moeilike en eensame pad waarop jy met skuldgevoelens en blaam oorlaai word – veral wanneer die vrou ontrou was.

“Die meeste hulp en literatuur daar buite is vir vroue wie se mans ontrou was en juis omdat dit as so ’n skande beskou word, is dit moeilik vir vroue om daaroor te praat en uit te reik vir hulp,” sê Debbie.

Sy het in 2016 haar blog en webwerf “After My Affair” (aftermyaffair.com) begin en sedertdien al duisende vroue wêreldwyd met haar aanlyn kursusse en ondersteuningsnetwerk gehelp.

Hoewel ons tradisioneel gedink het mans is meer geneig om affairs te hê as vroue, het studies gewys dat affairs onder getroude vroue die laaste paar dekades met tussen 40% en 45% gestyg het.

“Hoewel ons tradisioneel gedink het mans is meer geneig om affairs te hê as vroue, het studies gewys dat affairs onder getroude vroue die laaste paar dekades met tussen 40% en 45% gestyg het,” sê Debbie.

Waarom het vroue affairs?

Die redes is legio, sê Debbie, en so individueel soos die vroue self. Tog is daar ’n paar algemene tipe affairs:

  • Die vriendskaplike affair – dit begin as ’n goeie vriendskap waar sekere emosionele behoeftes vervul word, en word stelselmatig al hoe intiemer.
  • Die uitgang-affair – sy is ongelukkig getroud en wil eintlik haar huwelik beëindig, maar vermy die konflik en sien die affair as ’n uitlaatklep.
  • Die affair vir vergelding – haar man het ’n affair gehad en sy dink sy gaan beter voel as sy hom “terugkry”.
  • Die kantoor-affair – twee kollegas werk saam, bestee baie ure saam en begin al hoe meer intieme detail te deel.
  • Die emosionele affair – die affair is dikwels nie fisiek nie, maar op emosionele vlak deel hulle ’n diep konneksie.

“Dit maak nie saak watter tipe affair jy het nie, maar die deurlopende draad wat ek raaksien is gewoonlik dat goeie vroue meegesleur word deur iets wat hulle nooit van plan was om te doen nie. Die een oomblik dink jy nog jy is heeltemal in beheer van jou gevoelens en emosies, juis omdat jy nie van plan is om jou man te verneuk nie, en die volgende oomblik is jy vasgevang in iets wat spoedig jou hele bestaan oorheers.

Die een oomblik dink jy nog jy is heeltemal in beheer van jou gevoelens en emosies, juis omdat jy nie van plan is om jou man te verneuk nie, en die volgende oomblik is jy vasgevang in iets wat spoedig jou hele bestaan oorheers.

“Dit is ’n totale wanpersepsie dat slegte vroue in slegte huwelike in affairs betrokke raak. Die meeste vroue met wie ek te doen kry, is veel meer soekend na iets binne hulself as wat hulle iets mis by hul lewensmaats,” sê Debbie.

Dit begin dalk heel onskuldig by ’n goeie vriendskap, maar skielik geniet jy die nuwe aandag, veral as jy voorheen gesukkel het met ’n lae selfbeeld en jou selfwaarde min ag.

Baie vroue raak so vasgevang in hul alledaagse vervelige bestaan en roetine, dat dit soms ’n onbewustelike poging is om weer opwinding te beleef. Sommige het nog nooit daardie opwinding ervaar nie en beleef dit vir die eerste keer in ’n affair. Party voel eenvoudig net heeltemal afgeskeep deur hul lewensmaat en wanneer iemand aandag gee, is dit opwindend en vleiend en lekker, veral as jy jare lank nie meer sexy of begeerlik voel nie.

’n Affair is daardie diep donker geheim wat jou (tydelik) weer lewendig laat voel. Totdat die stukke uitmekaar begin spat, want niemand kan so gefragmenteerd leef sonder negatiewe gevolge nie.

Baie vroue glo hul affair-maat is hul sielsgenoot en dat hulle nog nooit vantevore so gevoel het nie. Die realiteit is dat dit net ’n illusie is.

“Baie vroue glo hul affair-maat is hul sielsgenoot en dat hulle nog nooit vantevore so gevoel het nie. Die realiteit is dat dit net ’n illusie is.

“Natuurlik gaan die tye saam met jou affair-maat lekkerder wees as die ware lewensdramas by jou huis waar julle die realiteite, soos kinders en geld, en alledaagse goed, soos gebreekte yskaste en karre, moet hanteer. Maar ’n affair is net ’n fantasiewêreld waar jy tydelik van die werklikheid ontsnap. Daardie fantasie is nooit volhoubaar nie en een of ander tyd moet die realiteit van die lewe weer inskop,” sê Debbie.

Die geheimhouding is dikwels die een deel wat die intensiteit van die affair nog meer maak en om ’n affair te beëindig, is dikwels selfs moeiliker as om ’n verslawing te verbreek.

“Vir baie vroue gee die affair hulle die geleentheid om iemand totaal anders te wees. Daar is hulle nie die doodgewone ma wat snotneuse moet afvee nie, maar iemand anders. Dis gewoonlik om daardie iemand anders te laat gaan wat so moeilik is, en nie noodwendig altyd die affair-maat nie,” sê Debbie.

Die einde van die affair

“Hoewel jy vir jouself kan probeer vertel dat jy die beste van albei wêrelde beleef terwyl jy ’n affair het en solank jou man nie weet nie, niemand eintlik benadeel word nie, is dit ’n leuen wat jy vir jouself vertel en geen affair is ooit volhoubaar nie. Nooit nie,” sê Debbie.

Vroue het al vertel hul affairs het van hulle beter lewensmaats gemaak juis omdat die skuldgevoelens hulle meer verdraagsaam tuis gemaak het, maar dit is bog, voeg sy by.

Daar is nooit ’n goeie rede of verskoning om ’n affair te hê nie en die prys wat jy daarvoor gaan betaal, is dikwels baie hoër as wat jy jou ooit kan voorstel.

“ ’n Goeie begin is om jou eiewaarde en doel te evalueer, en te besef jy het nie ’n affair nodig om dit te vind nie,” sê Debbie.

Die enigste manier om ’n affair suksesvol te beëindig, is om alle kontak met die ander persoon te verbreek. Alle kontak beteken álle kontak – soos om die persoon op al jou sosialemedia-rekeninge te blok en ook op gesels-apps soos WhatsApp.

Die enigste manier om ’n affair suksesvol te beëindig, is om alle kontak met die ander persoon te verbreek. Alle kontak beteken álle kontak – soos om die persoon op al jou sosialemedia-rekeninge te blok en ook op gesels-apps soos WhatsApp.

“Nee, julle kan nie vriende wees nie. En voordat jy nie alle kontak verbreek nie, kan jy nie eens daaraan begin dink om aan jou huwelik te werk nie. Om ’n affair te beëindig, kos dikwels drastiese stappe soos om van werk te verander, om na ’n ander kerk te gaan of selfs om te trek,” sê Debbie.

Oorweeg persoonlike berading én huweliksberading waar julle professioneel begelei word in die proses na herstel.

Selfs al eindig jou huwelik in die skeihof, is ’n affair met ’n getroude man steeds nie die antwoord of oplossing vir jou nie. Begin by ’n proses waar jyself heel word, is haar raad.

Om haar affair suksesvol te beëindig en aan haar huwelik te laat werk, het Debbie die volgende gedoen:

  • Ek het my man volle toegang tot al my rekeninge gegee. Hy het die wagwoorde van my foon, e-pos en sosiale media gehad.

(Die oomblik as jy WhatsApps moet begin wegsteek en uitvee, moet jy wonder waarom jy dit moet doen.)

  • Om vertroue terug te wen, het my man altyd geweet waar ek is. As hy gebel het, het ek geantwoord en my foon was nooit op silent gestel nie.
  • Ek het deurentyd myself in sy skoene gesit en die oomblik toe ek empatie vir sy pyn begin kry het, het ek baie meer begrip getoon vir sy optrede en reaksie en dit was makliker om die affair te beëindig.
  • Ek het die tyd wat ek aan die affair bestee het, gebruik om aan my huwelik te werk. Wanneer jy in ’n affair is, maak jy tyd vir geheime afsprake en vroue is dikwels verbaas as hulle terugkyk en besef hoeveel tyd hulle vermors het.
  • Jou man gaan agterdogtig, kwaad, seergemaak en gegrief wees en jou blameer vir die skade wat jy gedoen het. Wees geduldig daarmee en moenie moed verloor nie.

Om te bieg of te swyg

Baie vroue se affairs word ontdek nog lank voor hulle gereed was om dit self te beëindig en dan word daar ’n ultimatum gestel: Sy moet kies tussen haar huwelik of haar affair.

Maar daar is ook vroue wat affairs het wie se mans nie daarvan weet nie en wat self besluit om dit te beëindig.

Die vraag of jy moet bieg of swyg oor jou affair, het geen regte antwoord nie.

Ek sou altyd wonder of hy by my sou bly as hy geweet het. Elke keer as hy sê hy’s lief vir my, sou ek wonder of hy dit sou sê as hy geweet het van die affair.

Volgens Debbie is dit ’n persoonlike besluit omdat elke affair en situasie anders is. Ondervinding het haar wel geleer dat die wete van ’n geheim wat uitgevind kan word, vroue opvreet en om daagliks in vrees te lewe is aaklig. Syself het besluit om haar man die waarheid te vertel. “Ek sou altyd wonder of hy by my sou bly as hy geweet het. Elke keer as hy sê hy’s lief vir my, sou ek wonder of hy dit sou sê as hy geweet het van die affair,” verduidelik Debbie.

Sy sê hoewel sommige mense meen dis selfsugtig om te bieg omdat jy net jou eie las wil ligter maak en daardeur jou man seermaak, moet hierdie vroue hulself afvra wat hul ware motief is.

“Om eerlik te wees, die tyd om jou te bekommer oor sy gevoelens was vóórdat jy die affair aangeknoop het,” meen Debbie. Sy sê jy probeer beheer behou oor die gevolge en ontneem hom boonop sy reg op ’n keuse. Die enigste uitsondering is as die vrou glo haar of iemand anders se veiligheid word deur haar eerlikheid bedreig.

“Dieselfde geld ook of jy al die detail moet vertel en eerder net die nodige as dit daarop neerkom. Die kans is altyd daar dat jou man later die hele waarheid gaan uitvind en dan is die vertrouensbreuk net nóg groter,” sê sy. “Tog verkies party mans om nie alles te hoor nie omdat dit te pynlik is.”

Moet ons die kinders vertel?

Of jy die kinders moet vertel of nie, hang ook af van elke unieke situasie. Die algemene gevoel op Debbie se Facebook-ondersteuningsgroep is om die kinders uit die bakleiery te hou sover as wat julle kan. Debbie voeg by dit hang af van die kinders se ouderdomme en of die ouers beplan om te skei. Sy meen dit is volwasse probleme wat veral jonger kinders nie behoort te dra nie.

Tieners en jong volwasse kinders vermoed waarskynlik iets is fout en sommige kan selfs al wonder of ’n affair die rede is. Hierdie vermoedens kan swaar wees vir hulle om alleen te dra en vir dié kinders moet jy dalk liewer die waarheid vertel.

Wees baie versigtig vir wie anders jy vertel. Volgens Debbie kan familie en vriende wat hul eie opinies en houdings jeens die situasie uitspreek, dinge net verder kompliseer.

Wees baie versigtig vir wie anders jy vertel. Volgens Debbie kan familie en vriende wat hul eie opinies en houdings jeens die situasie uitspreek, dinge net verder kompliseer.

  • Sluit aan by Debbie Rose se private Facebook-groep AMA Women vir hulp en ondersteuning om jou affair te beëindig.

Daar word gewoonlik dubbel soveel van die goedvoelhormoon dopamien in die brein afgeskei aan die begin van ’n affair, maar hoë dopamienvlakke kan jou ook angstig laat voel en jou vermoë om te konsentreer en nugter te dink, aantas. Wanneer dopamien styg, verlaag serotonienvlakke, wat obsessiewe kompulsiewe gedrag, sowel as angstigheid en depressie tot gevolg het.

Dit verklaar waarom vroue in ’n affair in ’n mate obsessief raak.

Meer oor:  Vroue  |  Huwelik  |  Red  |  Affair
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.