Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Vryburg speel groot stryd vir ma wat sterf

Sy ma was met elke wedstryd wat hy gespeel het langs die rugbyveld. Daarom het Gerrie le Roux (18), ’n matriekleerling van die Hoërskool Vryburg, besluit hy gaan twee dae ná sy ma, Chadrene (45), se dood vir sy skool se eerste span uitdraf.

Chadrene is Donderdag in die Mediclinic Potchefstroom aan Covid-19 dood. Die Hoërskool Vryburg het die Hoërskool Brits Saterdag met 41-10 geklop.

Gerrie le Roux saam met sy ma, Chadrene, wat Donderdag dood is.

“Ek weet my ma sou baie graag wou hê ek moet gaan speel, want sy was nog altyd daar vir my. Sy was een van my grootste ondersteuners. Maak nie saak wat gebeur het nie, sy het altyd gesê ek het mooi gespeel en sy’s trots op my,” sê Le Roux.

“Die wedstryd was vir my besonder lekker. Tydens die opwarming en in die kleedkamer was ek baie emosioneel. Een van ons afrigters, Dawid Viviers, het my eenkant toe geneem. Hy het ook onlangs sy oupa verloor. Toe sê hy as ek op die veld gaan en die fluitjie blaas, moet ek net weet God is in beheer. En toe die fluitjie blaas het dit net gevoel . . . dit was asof my ma langs die veld was en ek kon op haar steun,” sê hy.

Joubert Horn, die span se hoofafrigter, sê hulle het nie só ’n telling verwag nie.

Gerrie le Roux tydens Saterdag se wedstryd. Foto: Melanie van der Merwe
Die hele span het 'Tannie Chadrene' op die 'strapping' op hul gewrigte gedra. Foto: Melanie van der Merwe
Spanlede en hul afrigter omhels mekaar ná hul oorwinning oor die Hoërskool Brits. Foto: Melanie van der Merwe

“Dit was half asof daar iets anders onder die ouens was. ’n Mens kan nie op die Here se gevoel speel nie, maar dit het amper vir my gevoel asof Hy gesê het ‘kom Ek gee maar hierdie wedstryd vir hulle’. Dit was ’n emosionele ding vir die ouens, baie van die seuns het gehuil,” sê Horn.

Le Roux en sy spanmaats het almal boodskappe op die strapping om hul arms gedra. “RIP Mom” was op syne geskryf, terwyl “tannie Chadrene” en “RIP Miss Chadrene” op die spanlede s’n gestaan het. Die span het die wedstryd aan sy ma opgedra.

“Almal in die span het my ondersteun. Ek is baie lief vir hulle. Ek weet hulle is daar vir my,” sê Le Roux.

Hy speel slot en is eintlik die span se kaptein, maar het besluit dat ’n goeie vriend van hom, HP Joubert, die span Saterdag moet aanvoer.

“Ek het besef ek gaan dalk nie die beste besluite in die oomblik kan neem nie. Ek het geweet HP gaan beter besluite neem,” sê hy.

Horn, ’n oudrugbyspeler, rig Le Roux al drie jaar lank af en sê hy is ’n “smart ou met ’n sagte geaardheid”.

Le Roux sê dit het Saterdag gevoel asof sy ma hom langs die veld ondersteun. Foto: Melanie van der Merwe

“Mense hou baie van hom, die onderwysers ook. Hy het goeie maniere. Ek het in my loopbaan met verskillende kulture en mense te doen gekry en Gerrie is baie maklik om af te rig. Hy het natuurlike leierseienskappe, hy werk goed saam met ander mense en hy is nederig,” sê Horn.

Le Roux is die jongste van drie kinders. Hy sê hy sal sy ma onthou as iemand wat altyd ’n glimlag vir ander gehad het.

“En maak nie saak wat gebeur het nie, ek kon altyd weet sy staan agter my.”

Meer oor:  Gerrie Le Roux  |  Hoërskool Vryburg  |  Eerste Span  |  Wedstryd  |  Ma Se Dood  |  Covid-19  |  Rugbyspeler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.