Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: 6-jarige skrik glad nie vir ooi wat lam

Om ’n ooi te help wat sukkel om te lam en die brose pasgeborene aan sy pootjies uit te trek is niks vir ’n sesjarige plaasmeisie van die Vrystaat nie.

Elivia Pienaar (gr. R) het lank haar drie ouer sibbe op die plaas Gewin buite Theunissen dopgehou waar hulle elke nou en dan inspring en seker maak dat ’n lammetjie op eie bene staan, sonder dat die ooi hom verwerp.

“Hulle hou my besig,” sê pa Monté en lag.

Muis Neethling, die hanslammer wat die vier jongelinge grootgemaak het, moet nou onder die bult bly omdat sy andersins elke nou en dan in die plaashuis is. Sy klim op die koffietafel totdat ma Ansa, ’n dieetkundige by onder meer die mynklinieke in die distrik, met haar raas, sê ousus Carmi (14).

Elivia Pienaar (6) hou ’n lammetjie vas op die plaas Gewin buite Theunissen in die Vrystaat. Agter is ouboet Adriaan (10) en haar susters, Carmi (14) en Ania (12). Foto: Mlungisi Louw

Dit is ook Ansa wat tydens die inperking met die huiswerk moes help.

As die son skyn, mag hulle nie op hul fone wees nie. Nie dat hulle dit enigsins mis nie, sê Monté.

Eintlik maak hulle Muis vet vir Kersfees, terg hy, waarop Carmi amper ’n oorval kry.

Sy wil ’n speurder word en Ania (12) ’n veearts.

Klein Elivia wil boer. Sy vertel van ’n lammetjie met ’n swart been “wat lyk of hy ’n stut aan het”.

“Hulle ken al elke lam,” laat Monté tussen die orrelpypies hoor.

Plaaskinders in murg en been. Van links is Ania (12), Carmi (14) en Adriaan (10). Voor is Elivia (6). Foto: Mlungisi Louw
Elivia (6) is in haar element tussen die skape op die plaas Gewin buite Theunissen in die Vrystaat. Foto: Mlungisi Louw
Elivia Pienaar (6) hou ’n lammetjie vas op die plaas Gewin buite Theunissen in die Vrystaat. Agter is Adriaan (10), Carmi (14) en Ania (12). Foto: Mlungisi Louw
Op die plaas mis niemand selfone en televisie nie. Al wanneer na ’n skerm gekyk word, is as daar ’n video van hulle is waarin hulle ’n lammetjie uithelp wanneer daar komplikasies by ’n geboorte is. Foto: Mlungisi Louw

Adriaan (10), reeds ’n jong boer, se woorde is te veel vir wat sy asem kan dra.

“En dan is daar Hong die ponie. Niemand weet waar hy vandaan kom nie.”

Die beste van die plaas, sê hy, is as hulle die skape klas en plaatjies aan die ore aanbring.

Die Pienaar-egpaar is destyds na Wallis waar Monté by Newport geboer het, en later na Cambridge in Engeland, waar Monté ook geboer en Ansa as dieetkundige gewerk het.

Hier het Monté as slot en agtsteman vir Cambridge se plaaslike rugbyspan uitgedraf.

Elivia Pienaar (6) hou ’n lammetjie vas op die plaas Gewin buite Theunissen in die Vrystaat. Agter van links is ouboet Adriaan (10) en haar sussies Carmi (14) en Ania (12). Foto: Mlungisi Louw

In hierdie tyd is kanker by hom gediagnoseer, wat hul verblyf verleng het. Hy was in 2010 in remissie.

“Ek en my vrou is oor, elkeen met ’n sak, en het teruggekom met ’n vraghouer en drie kinders.”

Elivia is hier gebore.

Carmi, toe vier jaar oud, was aanvanklik bang vir die muskiete en harde gras toe hulle hierheen gekom het.

Maar ’n kort rukkie later, “toe die son hulle begin brand,” het hulle besig geraak, sê Monté en kyk trots na sy kroos wat agterop die bakkie saam met die plaaswerkers lag.

Meer oor:  Gewin  |  Elivia Pienaar  |  Theunissen  |  Vroedvrou  |  Plaasmeisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.