Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Vul jou ruimte met meer kleur
Swart en wit: Jy hoef nie ’n hele kamer swart en wit te maak om dié klassieke gevoel te skep nie. ’n Tikkie hier en daar werk net so goed.

Skep ’n oase tuis met vanjaar se grootste dekortendense.

Vryskutte, konsultante en tuisbly-ma’s weet dit lankal en nou, met die inperking, besef baie meer mense dit: jou huis is jou oase. Dis waar jy (veral nou) die meeste van jou tyd deurbring en waar jy gemaklik, gelukkig en vertroos wil voel.

Hierdie top-dekorneigings vir 2020 sal waarlik van jou huis jou hawe maak.

Dramatiese kleure

Pantone se kleur van die jaar vir 2020 is “Classic Blue”, ’n skakering van vlootblou. Die gesofistikeerde kleur pas in by moderne én klassieke dekor en is ’n maklike manier om enige vertrek te vernuwe. Verf ’n kamer blou en kontrasteer dit met ’n spierwit plafon en goue aksente, soos portretrame of blompotte.

Daarmee saam vervang aardse kleure nou die neutrale palet wat die afgelope jare koning gekraai het om die dramatiese kleure te komplementeer en warmer te laat vertoon, sê Be­linda Janse van Vuuren, ’n dekor-konsultant van Kaapstad. “Kliniese grys, room en wit vertrekke, wat die afgelope hoeveel jaar hoogmode was, is nou uit en olyfgroen, mosterdgeel, sjokoladebruin en wynrooi is in.”

Funksionele styl: Mooi is nie meer genoeg nie – dekor verrig deesdae ook ’n doel, soos koffietafels met ekstra pakplek.
Funksionele styl

Soos wat meer mense afskaal en minimalisties begin leef, begin dit al hoe meer sinneloos lyk om vertrekke te hê wat geen of min doel dien.

“Die tradisionele aparte sitkamer en woonvertrek word byvoorbeeld nou gekombineer – hoekom ’n aparte sitkamer hê wat jy net af en toe gebruik?” sê Belinda.

So ook raak veeldoelige, funksionele meubels en dekor al hoe gewilder, sê sy.

Kleur in die kombuis.

Aparte rusbanke vir kinders en ouers word vervang met een groot hoek-rusbank wat met ’n vlekbestande materiaal oorgetrek is. Dié moet natuurlik ook afgehaal en gewas kan word indien nodig.

Alles van koffietafels tot beddens het ingeboude laaie vir ekstra pakplek.

En binne-buite-matte van herwinde plastiek of duursamer, sagter polipropileen kan in enige vertrek of selfs buite gebruik word en maklik met seep en water skoongemaak word.

Swart en wit

Dis dalk nou veral gewild, maar die klassieke kombinasie van swart en wit gaan nooit uit die mode wees nie, sê Belinda.

“Maar as pikswart en spierwit vir jou te skril is, probeer sagter kontras inbring – soos donker houtmeubels met roomkleurige stoffering, byvoorbeeld.”

Jy hoef ook nie ’n hele vertrek net swart en wit te maak om dié neiging in jou dekor in te bring nie. ’n Kussing hier, ’n blompot daar, of selfs ’n reeks swart-en-wit-foto’s teen ’n muur kan daardie klassieke prentjie skep.

Plante: Vredeslelies (heel links en heel regs) en skoonma-se-tong (tweede van regs) is uitstekende lugsuiweraars.
Plante

Dis al ’n ruk lank in die mode om die buitelewe na binne te bring omdat ons baie meer tyd in ons huise deurbring, sê Nicola Cooper, ’n tendens-analis van Kaapstad. Sy het verlede jaar voorspel natuurlike dekorelemente soos potplante, natuurlike kleurskemas en handgeweefde mandjies gaan gróót wees in 2020, en met die inperking het dié gier natuurlik gefloreer om op te maak vir die gebrek aan sonlig en buitelewe.

Nagemaakte plante is ook nie meer in nie. Buiten dat selfs die mooiste nabootsings steeds van naby kunsmatig lyk, is dit net nog iets wat ná ’n tyd stof opgaar. Regte plante het boonop die voordeel dat dit die luggehalte in jou huis verbeter. Veral bamboespalm, aalwyn, skoonma-se-tong en vredeslelies is uitstekende lugskoonmakers wat stowwe soos bensien, formaldehied en trichlooretileen absorbeer, wys ’n studie van Nasa. Skep ’n binnenshuise tuin of pak rakke en tafels vol potplante.

Rottang en riet

Nog ’n manier om die natuur binnetoe te bring, is met natuurlike materiale. Veral rottang en riet is nou in die kol. Dié meubels, eens net vir die stoep gemaak, skep ’n sagter gevoel in die huis as metaal, glas of selfs soliede houtmeubels. Ronde afwerkings is ook nou meer in die mode as skerp hoeke en kante en dié materiale se buigsaamheid sorg vir sagter afrondings. Skaf ’n gemakstoel, koffietafel of selfs lampskerm van rottang of riet aan.

Luuksheid

Omdat ons soveel meer tyd binne deurbring, wil mense nou ’n luukse gevoel in hul huise skep, sê Nicola. “Elegante meubels en ’n mengsel van verskillende teksture gaan nou gewild wees.”

Fluweel in elke skakering is reeds in dekorwinkels te sien, asook kussings, beddegoed en selfs matte in suède en nagemaakte pels.

Tikkies blink metaal in lampe, houers en meubels skep kontras en rond die prentjie af.

’n Tuiskantoor hoef nie ’n hele vertrek op te neem nie.
’n Tuiskantoor

Dié neiging is meer ’n praktiese oplossing as ’n modegier, maar Belinda sê tog al hoe meer mense gaan waarskynlik selfs ná die inperking van die huis af werk.

“Dis belangrik om jou werk- en persoonlike ruimtes te skei sodat jy meer produktief is wanneer jy werk en ook deeglik kan ontspan wanneer jy nie werk nie.”

Jy hoef ook nie ’n hele vertrek aan kantoorspasie af te staan nie, maar probeer om dan ten minste ’n toegewyde werkstasie in ’n vertrek te skep.

“Daar is nou allerhande slim oplossings te koop om ’n klein kantoor te skep. Skuif ’n klein tafel teen ’n muur en maak rakke teen die muur daarbo vas of probeer ’n leer-lessenaar wat teen die muur leun.”

Kleur in die kombuis

Spierwit kombuise met glinsterende silwer toestelle was lank hoogmode.

“Mense raak nou moeg daarvoor en ons gaan al hoe meer kleur in kombuise sien,” sê Bianca.

Dit bly egter ’n funksionele ruimte en jy wil dit nie deurmekaar laat lyk deur té veel kleur in te bring nie, sê sy. Verf byvoorbeeld een muur of net die onderste ry kaste ’n helder kleur sodat dit nie oordonderend is nie.

Meer oor:  Leefstyl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.