Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kersfees pure woef-plesier
kat, kersfees, kersboom
Jy mag maar jou troeteldier op Kersfees bederf sê Adrienne Hawkins, dieregedragskenner. Foto: Unsplash

Wag jou bedorwe Waterkloof-worshond ook op Kersvader? Sit jou kat kiertsregop onder die Kersboom op Oukersaand? Miljoene mense landwyd bederf glo hul troeteldiere dié feestyd met alles van gourmet peuselhappies en sagte speelgoed tot peperduur halsbandjies en selfs “hondebier” en “katvonkelwyn”.

Bederf is normaal

Adrienne Hawkins, ’n hondegedragskenner van Johannesburg, sê dit is normaal dat mense hul troeteldiere oor die feestyd wil bederf. “Honde en mense is sosiale wesens en ons deel in mekaar se vreugde en opgewondenheid. Dit bring vir ’n hond groot vreugde as hulle self ’n geskenk kan oopmaak en dié geluk word aan sy eienaar oorgedra,” sê Hawkins.

Die “vonkelwyn” is spesiaal vir honde en katte gemaak en gaan jou R89 uit die sak jaag. Foto: epetstore.co.za

Sy sê hoewel sy nie ’n kenner in katgedrag is nie, is katte meer afsydig as honde.

“Hulle sal nie so opgewonde soos die hond wees nie, maar ek glo dit gee steeds vir die eienaar soveel vreugde om hul troeteldiere te bederf,” sê Hawkins.

Bronwyn Williams, neigingskenner van Flux Trends, sê die troeteldierbedryf groei jaarliks met 8,1%.

“Dit stem ooreen met eensaamheid weens die digitale era. Mense vervang lewensmaats en kinders met troeteldiere,” sê Williams.

Dit kom natuurlik met ’n prys en volgens haar is Suid-Afrikaners meer as bereid om dit te betaal.

“Die troeteldierkosbedryf beloop jaarliks sowat $90 miljoen en groei steeds. So ons kan voorspel dat mense in die Kerstyd beslis lekkernye vir hul diere gaan koop. Mense is deesdae ook geneig om hul diere vir terapie te stuur of te laat pamperlang by ’n spa,” sê Williams. Sy sê dat dit ook die rede is waarom kettingwinkels nou bederfgoed vir diere verkoop. “As daar nie ’n behoefte was nie, sou hulle dit nie aangehou het nie,” sê Williams.

Haal uit en wys vir Woefie

’n Dag by die spa vir jou viervoetige kan jou enigiets van R80 tot R400 per behandeling uit die sak jaag.

Die geskenke wat te koop is by die Fourways-dierehospitaal. Foto: Verskaf
’n Adventskalender vir honde wat hulle met koekies help om die slapies tot Kersfees af te tel. Foto: Elvira Wood
’n Paar rendierhorings met klokkies. Foto: epetstore.co.za

Nicole Hen van die Fourways-dierehospitaal in Johannesburg sê een van die gewildste items vanjaar is die adventskalender. Die kalender tel die slapies tot Kersfees saam met jou troeteldier af en agter elke datum is daar ’n versnappering vir hulle om te geniet.

“Dit en ons sagte speelgoed verkoop beslis die vinnigste,” sê Hen. Die bederfgoed wat by die hospitaal te koop is kos tussen R50 en R356.

Bottom Sniffer “hondebier” is pure Woef-plesierFoto: epetstore.co.za

Webtuistes soos ePetsore en Absolute Pets het ook spesiale aanbiedings. Die gewildste geskenke op ePetstore sluit in speelgoedrendiere en donkies met mussies vanaf R150. As jy jou troeteldier behoorlik in die “feesgees” wil kry, koop vir hulle ’n goeie bottel Pawsecco “katvonkelwyn” of Bottom Sniffer “hondebier” teen R89 vir 250 ml. Die “drankies” is alkoholvry.

’n Kersvader-speelpakkie (vanaf R160) en ’n paar rendierhorings met klokkies teen R125 is ook beskikbaar. Vir “verantwoordelik diere-ouers” is daar tandheelkundige Kerskoekies beskikbaar teen sowat R198.

By Absolute Pets is ’n bloedrooi strikdas met Kersbome (R65), teddiebere met Kershoede (R95), ’n halsbandjie met rendiere (vanaf R65) en Kersfeeskoekies (R75) die gewildste produkte.

Dierema’s

Jenna Clifford vier vanjaar haar 60ste verjaarsdag saam met haar hondekind Daisy. Foto: Verskaf

Jenna Clifford, bekende juwielersontwerper, sê sy is mal daaroor om haar tien hondekinders by haar huis buite Mbombela te bederf. Sy maak vir hulle spesiale worsrolletjies met Marmite, kaas en varkworsies wat sy in klein happies sny. Haar poedels dra ook piouterhalsbandjies. Dit kos ongeveer R80 per bandjie.

“Van my klante koop selfs van die kleiner hangertjies vir hul honde en katte. Ek glo wel die beste geskenk wat jy vir jou troeteldiere kan gee, is liefde,” sê Clifford.

Sy sê sy hoop nie Suid-Afrikaners los hul dierekinders vanjaar alleen tuis as hulle met vakansie gaan nie.

Nog 'n hondema se troetelhond kan 'n ietsie in sy Kerskous verwag. 

Lydia Winchester en haar hondekind, Andy. Foto: Verskaf

Lydia Winchester, musiekpromotor vir van die land se grootse sterre, sê haar Malteser, Andy, lewe in weelde by haar huis in Wilgeheuwel, Roodepoort.

“Uit die aard van my beroep het ek nie kinders nie en daarom is hy vir my so kosbaar. Hy gaan elke tweede week salon toe en gebruik hart- en bloeddrukpille. Elke Kersfees kry hy ’n stuk biltong en ’n heerlike sintetiese been,” sê Winchester.

Bederf ook dié diere

Nie alle troeteldiere is so gelukkig om dié feestyd in ’n huis vol geskenke deur te bring nie.

Lizé Pienaar, voorsitter van die DBV in Mbombela, sê hul inwoners se grootse Kerswens is eintlik net ’n vol maag en ’n sagte lêplek.

“Oor die Kerstyd is dit altyd so lekker as die publiek ons diere bederf met sagte kos en nuwe beddegoed. Speelgoed en geld is natuurlik ook altyd welkom,” sê Pienaar.

Sy bederf die diere glo vanjaar met kouspeelgoed met grondboontjiebotter op. “Dit hou hulle besig sodat hulle nie verveeld moet raak in hul hokke nie en is boonop gesond,” sê Pienaar.

Meer oor:  Kersfees 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.