Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Waar engele leer skop en skiet

Met aanvalle op vroue in Suid-Afrika wat skrikwekkend hoog is, voel vroue elke dag onveiliger. Baie begin iets doen om hulself te verdedig. Vroue van 16 tot 61 jaar het hulle by die Bloemfontein-skietsentrum aangemeld om te leer hoe om vuurwapens te gebruik en aanvallers met die kaal hand af te weer. Cheréne Pienaar en Mlungisi Louw, fotograaf, het die dag bygewoon wat deur die SA Sport- en Jagfederasie (SASJF) se Vrystaat-tak aangebied is.

Dina Swanepoel (61), ’n huisvrou van Bloemfontein, rig ’n rubber-pistool op haar vriendin ter oefening tydens die selfverdedigingsopleiding. Foto: Mlungisi Louw

Twee pienk tekkies staan stewig op die skietbaan se skietpunt. 5 m verder wag die teiken. Dis tyd.

Haar hande vou stadig om die .22 kaliber-pistool. Dis die ware Jakob. Hulle sê dié spesifieke model is ’n kompetisiewapen. Die wapen pas mooi in haar hand, asof dit vir haar gemaak is.

Sy knyp haar regteroog toe, die linkeroog doen vandag die werk.

Kruis-dominant, want sy is regshandig. Meer die uitsondering as die reël, het sy met die oefenlopie gehoor.

Net nog ’n benaming. Ma, sakevrou, suster, bakster, dogter, vriendin.

Anel du Plessis van Smithfield oefen om 'n vuurwapen uit die hand van 'n aanvaller te dwing. Foto: Mlungisi Louw

Kruis-dominant op haar eie kontinent. Aangepas om te oorleef.

Bang is een ding wat sy nie meer is nie. Haar toegeknypte oog word ’n dun strepie.

“Rustig, rustig. Kry die visiere in die middel, net onder die vyf in die wit kol op die teiken,” sê ’n stem naby.

Dan krul ’n sagte wysvinger om die sneller. ’n Skoot verbreek die stilte.

Haar regteroog gaan stadig oop, haar lyf bly oomblikke gevries, soos sy geleer is. Haar snellervinger ontspan en dan laat sak sy haar arms effens en gee ’n laggie. ’n Gat neffens die vyf!

“ ’n Halwe sentimeter is mos niks?” Skielik wens sy sy kon gou ’n paar skiethokke verder na haar vriendin oorstap en spog.

Maar die oorblywende vier koeëls wag, en die smaak van oorwinning is soet. Net so soet soos die reuk van buskruit wat in die lug hang.

“Wie wil koek en tee as jy kan skop en skiet?” het die advertensie op Facebook gelui. Kontak Marthie Kemp.

Jessica Wasserman van Bloemfontein rig ’n rubber-pistool op Leon Myburgh van Cobra Self Defence SA tydens die selfverdedigingsopleiding. Foto: Mlungisi Louw

En toe weet sy. Dit is wat sy moet doen, verantwoordelikheid neem vir haar eie veiligheid. Sy het dadelik gebel. Daar was nog net twee plekke beskikbaar.

Kemp, ’n nasionale skietkampioen van die Suid-Afrikaanse Sport en Jag Federasie (SASJF) se Vrystaat-tak, meen vroue word nie genoeg geleentheid gebied om te skiet nie.

“Ek onthou as kind hoe my pa die vroue van die omgewing leer skiet het. Dit was meer as 20 jaar gelede. ’n Mens sien selde advertensies oor skietaktiwiteite wat spesifiek op vroue gerig is.”

Die fyn vrou frons liggies, maar daar is altyd ’n glimlag wat om haar mondhoeke speel.

“Ons gaan dit verander,” sê sy en kyk oor die skietbaan. Aan die ander kant, 50 m verder, wapper ’n bloedrooi vlag.

“Dit is die derde Vroueskietdag wat SASJF sedert Oktober 2017 aanbied, sê sy.

“Skietopleiding is een van my passies. Daar is ’n groot behoefte en dit is lekker om te sien hoe vroue ook dié vaardigheid baasraak.”

Sy roep die vroue nader. Nou om te leer hoe die prentjie van die visiere en die teiken moet lyk. Kemp praat van die “aanlêprentjie”.

“Die agterste visier en voorste korrel moet in lyn wees as jy mik. Mooi gelyk bo en ewe veel lig moet aan weerskante van die voorste korrel uitsteek, as jy na die teiken kyk. Sy hou ’n reusagtige tuisgemaakte model van die visiere voor haar uit, terwyl sy beduie.

“Die wit kol op die teiken moet soos ’n voëltjie bo-op hierdie prentjie sit.”

Die selfopleiding het die vroue toegerus om te weet wat om te doen in krisissituasies. Foto: Mlungisi Louw

Die vroue luister en verstaan. En pas dit soos meesters toe.

Elaine Pienaar (16), ’n gr. 8-leerling van Hoërskool Sentraal, is een van die jongste skuts wat kom leer om nog beter te skiet. Sy is reeds ’n lid van SASJF.

Sy neem gereeld aan skyfskiet deel.

“Skiet is soos ’n passie vir my. Dit help met my konsentrasie met wiskunde. En dit laat my veilig voel.”

Die vroue se vrees is werklik. Met bykans 4 000 vroue en kinders wat in een jaar in die land vermoor is, is paraatheid en bewustheid die beste verdediging.

Jessica Wasserman, ’n versekeringsonderskrywer in die stad, hou die heel eerste keer ’n vuurwapen vas. “Ek gaan weer kom skiet. Elke vrou moet dit doen, want dit raak net te gevaarlik.”

Sy was ook al ’n slagoffer waar sy drie mans op heter daad in hul erf betrap het.

Die opleiding het die vroue toegerus om te weet wat om te doen in krisissituasies. Van links is Sunette Smal van Bloemfontein, Anel du Plessis van Smithfield en Jessica Wasserman van Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

“Ek het eers ná die tyd besef watter groot inpak dit op my gehad het, maar ek het besluit dat ek nie gaan toelaat dat mense wat my nie eens ken nie, my lewe vir my regeer en my geluk steel nie.”

“Ek is ’n hands on-mens en het besluit om ’n plan te maak om te keer dat ek weer in so ’n situasie beland – en wanneer dit wel gebeur, sal ek voorbereid wees daarop,” sê sy later.

Sy sê vroue moet vir hulself opstaan en wegbreek van die stereotipe dat hulle onderdanig moet wees – van misdaad en geweld tot mishandeling deur ’n eggenoot. Baie van die 34 vroue wil ’n 9 mm-pistool hê om hulself te kan verdedig.

Anel du Plessis van Smithfield het onveilig begin voel toe sy op ’n veiligheidskamera gemerk het hoe haar tuinwerker deur hul besittings in die huis gaan. Daarna moes sy hoor dat hy en haar huishulp met ’n paar ander ’n plaasaanval beplan.

“Albei is afgedank en die ondersoek is nog aan die gang. Tot dusver het ons R200 000 aan veiligheid bestee. Niemand word meer in ons huis toegelaat nie.”

Sy en haar gesin gaan nou ’n tien week lange in-diepte kursus by Leon Myburgh van Cobra Self Defense Systems in Bloemfontein doen.

Marthie Kemp, ’n nasionale skietkampioen van die Suid-Afrikaanse Sport- en Jagfederasie (SASJF) se Vrystaat-tak, wys vir die vroue hoe om ’n handwapen vas te hou. Foto: Mlungisi Louw

“Ons jag gereeld, maar die skietdag het my gehelp om die tegniese deel van pistoolskiet te leer.”

Sy sê hulle is in die bevoorregte posisie om beveiliging te kan bekostig.

“Ek en my man is die meeste van die tyd gewapen”

Dr. Anthony Orrock, ’n algemene mediese praktisyn van Pellissier, en lid van SASJF, is een van die gesoute skuts wat ywerige nuwelinge help om op ’n verantwoordelike manier ’n vuurwapen te hanteer.

“Baie van my pasiënte kom skiet gereeld. Dit gaan oor die lekker daarvan. Dit neem jou gedagtes van dinge af.”

Johanna Coetzee het so raak geskiet omdat “dié engele my gehelp het”, meen sy.

“Ja, en volgende keer bring ek my dogter saam. Sy is nege.”

Myburgh, wat die selfverdedigingsopleiding behartig, sê die doel is om die vroue te leer om konflik te vermy en krisis-situasies te oorleef as hulle nie ’n vuurwapen by hulle het nie.

“As jy die wapen afgevat het, drop daai magasyn, gooi hom in die teenoorgestelde rigting en hardloop in daai rigting.”

Ek voel nou beter oor myself en dat ek sal weet hoe om die meeste situasies te hanteer.

Die vroue, waarvan baie ma’s en dogters is, staan oorkant mekaar om te oefen.

Een is die aanvaller, die ander die kamma-slagoffer wat in een beweging die wapen moet gryp, die magasyn blitsig uitskud en die vuurwapen in ’n teenoorgestelde rigting smyt, voordat sy self laat spaander.

Meer ervare skuts sou die wapen kon afvat, en op die aanvaller rig, maar “hy gaan nie stilstaan nie, hy gaan vir jou kom.”

Dan word bokshandskoene uitgedeel. Sonstrepe flits in die middagson, hier en daar klink ’n uitbundige lag.

“Wat het hier verkeerd gegaan? Wat dink julle was die aggressievlak? Daai ou wat jy nou gaan slaan, is die ou wat jou kind in ’n mikrogolf wil sit!” ­
Leon is soos elke vrou se Mr. Miyagi.

“O sh*t” sê iemand in die groep, en boks met mening, die speelsheid skielik weg.

“Dis hy!”

Vanessa Kruger en Carmen Frylinck, twee susters, was ook daar. “Die rede kan in een woord opgesom word: “Plaas” sê Carmen, ’n boervrou van Dealesville, wat ’n gesoute skut is.

Dina Swanepoel (61), ’n pensioenaris en huisvrou, sê die tegnieke wat die vroue leer om hulself te verdedig, leer jou wat om dadelik te doen as iets gebeur.

Foto: Mlungisi Louw

“Ek voel nou beter oor myself en dat ek sal weet hoe om die meeste situasies te hanteer.”

Krisna de Bruin het stil-stil haar teiken raakgeskiet. Die ander vroue het soos een man gesê sy is die voorste skut onder hulle, ná die eerste sarsie skote.

“Ek het voorheen met ’n windbuks geskiet, maar ek dink dit is die rekenaarspeletjies wat my oog in gekry het. Dit mimiek regte elemente, soos die wind.”

Mariaan Harmse, het in Maart vanjaar die tweede Vroueskietdag bygewoon en het intussen by SASJF aangesluit. Sy is intussen as sekretaresse op die Vrystaatse Bestuur verkies.

“Vandag is ’n wonderlike dag vir die vroue. Dis belangrik om te weet hoe om ’n vuurwapen veilig te hanteer. In vandag se dae is dit oral gevaarlik. ’n Mens moet bewus wees van jou omgewing en weet wanneer iets nie reg is nie.”

Die dag eindig met ’n praatjie deur André Grobler van Firearm Solutions, en lid van SASJF. Hy het vrae oor die lisensiëring en herlisensiëring van vuurwapens en wapenbevoegdheid beantwoord, asook die stappe verduidelik wat gevolg moet word om ’n vuurwapen wettig te besit.

Elso Janse Van Vuuren oefen haar eerste vyf skote met die .22-pistool. Foto: Mlungisi Louw

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.