Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Wanneer jou kind sterf

Geen ouer kan homself die verskrikking indink van ’n kind wat aan kanker sterf totdat dit gebeur nie.

“Jou lewe word tot stilstand geruk en soveel keer is die pyn en hartseer so allesoorheersend dat jy wens jy was self eerder dood. Jy weet nie waar jy die krag vandaan gaan kry om aan te gaan nie. Jy wíl nie aangaan nie.

“Ek het ’n paar keer ná my seun Jed se dood probeer selfmoord pleeg,” sê Bonita Suckling, stigter en ’n bestuurder van die organisasie sonder winsbejag Rainbows and Smiles.

Bonita Suckling en Nadia Lewis van Rainbows and Smiles.

“Ná die heel laaste keer het ek my voorgeneem dat ek myself óf suksesvol moet doodmaak óf ’n verskil aan ander mense se lewens moet begin maak. Ek het geweet dis al wat my kon red, want my eie lewe het geen sin meer gehad nie,”

Jed se liefdestaal voor sy dood was altyd om te gee en Bonita het daarom besluit om ’n organisasie te begin wat hulp verleen aan kinders wie se lewens deur kanker geraak word.

Dit was terwyl sy hulp verleen het aan Nadia Lewis dat dié twee vroue se vriendskap ontstaan het.

Nadia se oudste seun, Hanno, by wie kanker in 2013 gediagnoseer is, was besig om ’n stryd teen die siekte te voer.

Hy is in April 2014, drie dae voor sy vierde verjaardag, oorlede.

Hoewel elkeen van die vroue hul eie hartseerpad moes stap, het hulle ook die stryd saam begin aandurf en hulle het beste vriendinne geword.

“Bonni het my by Rainbows and Smiles begin betrek en op ’n manier het my werk daar vir my ook help genesing bring,” sê Nadia.

Die organisasie verleen hulp met enigiets van vervoer hospitaal toe tot emosionele of finansiële bystand.

“Ons het ’n baie aktiewe Facebook-blad en mense moet ons asseblief hier begin volg. Soms dink mense hulle moet groot dinge vermag om ’n verskil te kan maak en dit is hoegenaamd nie die geval nie.

Wanneer jou kind sterf, beland jy baie maklik in ’n diep en donker gat.
Nadia Lewis

“Selfs die kleinste gebare kan op merkwaardige maniere mense help wat deur kanker geraak word,” het Bonita verduidelik.

Sedert Jed se dood het Bonita haar hele lewe handomkeer verander.

Sy het in ’n fiksheidsfanatikus ontaard en het sedertdien al ’n hele paar Ysterman-uitdagings voltooi. Sy doen dit als ter herinnering aan Jed.

“Wanneer ek ’n fisieke pyn voel, is dit al hoe my emosionele pyn verdoof word,” sê Bonita.

Sy lewer deesdae gereeld praatjies oor hoe sy die trauma verwerk het.

“Wanneer jou kind sterf, beland jy baie maklik in ’n diep en donker gat,” verduidelik Nadia.

“Die enigste manier hoe jy daaruit kom, is as jy weer sin vind in jou bestaan. En ek het sin gekry deur ander mense te help wat ook deur dieselfde hartseer gaan,”

  • Volg Rainbows and Smiles op sy Facebook-blad of stuur e-pos aan Nadia by nadia@-rainbowsandsmiles.org.za.
Meer oor:  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.