Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Wéér op rand van alles kwyt
Canimambo in Graskop se ingang.

Om nou in die restaurantbedryf te wees verg hare op jou tande. Tog wys ’n Laeveldse restaurant daar is steeds hoop – danksy ’n bietjie hulp van die gemeenskap en die plaaslike sakesektor.

Carla Marques-Gibson weet hoe dit voel om alles te verloor.

In 1974, op 11-jarige ouderdom, het haar ouers haar van die destydse Lourenço Marques na Suid-Afrika gestuur om by familie te bly. Die dreigende konflik en politieke onstabiliteit in Mosambiek het haar ouers bekommer en hulle wou hê sy moes ’n goeie opvoeding kry. “Ek het hulle vir twee jaar nie gesien nie.”

Haar ouers het kort ná Mosambiek se onafhanklikwording ook na Suid-Afrika gevlug. “Ons het niks oorgehad nie; ons het alles verloor.”

Aan die begin was dit maar moeilik, haar ouers was onwettige immigrante en het gesukkel om werk te kry. “Mense buit jou uit, maar jy kan niks daaraan doen nie.”

Kos was egter ’n troos en ’n ontvlugting vir die gesin. Carla se ma het haar geleer om Afro-Portugese disse te kook – warm piri-piri-hoender, geurige sardyne in ’n Portugese styl en vet Lourenço Marques-garnale. Dit was haar liefde vir kos en Afro-Portugese kookkuns wat haar en haar man, Wesley Gibson, laat besluit het om in 2006 Canimambo in Graskop oop te maak. Dis ’n Mosambieks-Portugese restaurant waar sy haar liefde vir die kos van haar herkoms kan uitleef en ’n nalatenskap vir haar vier kinders los.

Carla Marques-Gibson, een van Canimambo se eienaars.
Ephraim Gware, Canimambo se hoofkelner.

Nou staan Marques-Gibson weer op die randjie om alles te verloor. Canimambo, een van die spilpunte in die gemeenskap, se deure is gesluit; tot stilstand gedwing deur die Covid-19-pandemie.

“Ons het tot nou toe geen hulp van die regering ontvang nie. Die restaurant kwalifiseer nie vir die Covid-19-hulpfonds wat die departement van toerisme aan klein, mikro- en middelgrootte-ondernemings verleen nie,” sê sy.

“Voor Covid-19 was seker 98% van ons klante toeriste en besoekers aan Graskop. Ons kan ook nie wegneemetes, soos baie ander restaurante, maak nie omdat Graskop maar ’n klein gemeenskap is. ’n Groot gedeelte van die dorp se ekonomie is deur toerisme gedryf en daardie inkomste het verdwyn. Mense kry swaar.”

Canimambo se Zimbabwiese hoofkelner, Ephraim Gware, het in 2008 na Suid-Afrika gevlug op soek na ’n beter toekoms. Hy het by die restaurant begin as ’n skoonmaker en homself opgewerk tot hoofkelner. Ten spyte daarvan dat Gware wettig in die land is, met die regte werkpermitte, kon hy tot dusver nie van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) eis nie, hoewel Marques-Gibson getrou sy bydraes betaal het.

“My twee seuns, wie se WVF goedgekeur is, staan ’n gedeelte daarvan af vir Ephraim. Verder word sy salaris ook deur die Eat Out-restaurantbystandsfonds aangevul,” sê sy.

Hulp vir restaurante
  • Die bedrag wat die Eat Out- bystandsfonds tot dusver ingesamel het: R1 177 842,67.
  • Die bedrag wat tot dusver aan suksesvolle eise uitbetaal is: R1 140 000.
  • Die getal suksesvolle eise wat tot dusver goedgekeur en uitbetaal is: 38.

Besoek https://help.eatout. co.za/ vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak.

Canimambo is een van die Eat Out-fonds se begunstigdes. Die fonds verleen geldhulp aan restaurante sodat hulle steeds tydens die staat van inperking kan funksioneer en kop bo water hou. Die geld word gebruik om restaurantwerkers se salarisse te betaal en ’n voedingskema vir behoeftige gemeenskappe te bedryf.

“Sedert die inperking begin het, het ons al 3 000 maaltye vir die behoeftige gemeenskap gekook,” sê Marques-Gibson.

Hulle het ook hulp van besighede in die gemeenskap ontvang.

“As dit nie vir die Eat Out-fonds was en die plaaslike sakegemeenskap wat ons bygestaan het nie, weet ek nie wat ons sou gedoen het nie.

“Jy voel so hulpeloos, so nutteloos. Ons restaurant was regtig een van die Graskop-gemeenskap se spilpunte. Ons het gereeld fondsinsamelings gedoen.

“Voordat ons skenkings gekry het om die voedingskema te bedryf, was dit nag vir my. Jy staan in die oggende op en wonder wat jy met jou dag gaan doen.

“Nou voel dit weer of ons ’n doelwit het, ’n rede om aan te gaan.”

  • Eat Out is ’n publikasie wat deur New Media, ’n Media24-filiaal, bedryf word.
Die vergete werkers

Ephraim Gware se stryd om by die WVF te eis, is nou ’n algemene probleem by buitelandse werkers in Suid-Afrika waarvan talle hul familie in hul tuisland onderhou.

Vele restaurant- en gasvryheidsmaatskappye loop hulle vas teen burokratiese rompslomp wanneer hulle van die WVF probeer eis vir hul buitelandse werkers, wat wettiglik in die land is en al vir jare tot die fonds bydra.

Wendy Alberts, uitvoerende hoof van die Restaurants Association of South Africa (Rasa), meen die department van binnelandse sake moet aanspreeklik gehou word vir die duisende buitelandse werkers in die restaurant-en-gasvryheidsbedryf wat nou sonder ’n inkomste sit as gevolg van die rompslomp.

“Suid-Afrika het sy grense vir buitelanders oopgestel en daar is vir hulle werkpermitte en werkgeleenthede gegee.

“Dis ’n gemeenskap van hoogs geskoolde, bekwame werkers. Ons bedryf het werkgeleenthede aan die mense gegee en ons het baie van ons eie hulpbronne gebruik om hulle verder op te lei.

“Ons het ook uit ons pad gegaan om vir hulle permitte te kry sodat hulle wettig kan werk en werkloosheidsversekering betaal.

“Nou bevind hierdie gemeenskap hulle in ’n penarie. Hulle word deur die department van binnelandse sake van bakboord na stuurboord gestuur om die regte dokumentasie te kry om te eis, omdat dít wat hulle het nou skielik nie reg is nie.

“Dit is vir ons in die restaurantbedryf – waar die mense deel is van ons familie – baie kommerwekkend.

“Ek moet wel ’n pluimpie vir die WVF gee; ons het ’n goeie verhouding met hulle en hulle het ’n taakspan aangestel om die probleem te ondersoek.

“Die probleem is egter nie die WVF nie, maar die department van binnelandse sake, en papierwerk wat nou geldig verklaar moet word. Daar is onsekerheid wat daarmee bedoel word, ons is nie kenners van geldigheidsverklarings nie.

“As die werkers se papierwerk nou geldig verklaar moet word, moet daar die nodige strukture in plek wees wat die proses glad laat verloop, veral nou.

“Dis tans vir almal ’n moeilike, onsekere tyd. Ons glo die department van binnelandse sake moet nou in gesprek tree met die bedryf en aan ons verduidelik hoe hierdie kwessie hanteer kan word.

“Maar om nou mense se eise vir broodnodige inkomste te weier, bloot op tegniese punte, is nie regverdig nie,” sê Alberts.

Meer oor:  Carla Lewis  |  Restaurantbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.