SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Leef
Wees vaardig dié vakansie

As leeglê jou ná ’n paar dae begin verveel, is dié klasse by vakansiebestemmings net die ding, skryf Delia du Toit.

Maak ’n bak, blompot of beker met jou hande by The Crafter’s Corner in Stellenbosch.

Pottebakkery in Stellenbosch

Maak ’n bord, bak of blompot binne twee uur by The Crafter’s Corner in Stellenbosch. Die klasse word by The Shed gehou, ’n sentrum waar allerlei interessante klasse soos danslesse en selfs sirkuslesse vir kinders aangebied word. Dis omring deur ’n oop veld en die geluide van paddas en voëls begelei jou terwyl jy aan jou kreatiewe skepping werk.

’n Gedeelte van die tarief word gebruik om pottebakklasse vir behoeftige vroue uit die omgewing te subsidieer.

Enigiemand, van beginners tot kenners, kan die sessies bywoon (bespreek vooraf).

Prys: R200 per klas of R1 400 vir agt klasse (alle materiale ingesluit).

Tyd: Verskeie tye Dinsdae 11:30-20:00 en Woensdae 16:00-20:00; een klas op Saterdae van 10:00-12:00. Geen klasse van 22 Desember tot 7 Januarie.

Adres: The Shed, Santastraat, Stellenbosch

Kontak: livingarts.org.za

Naaldwerk by Create.Hobby in Kaapstad.
Maak allerhande pragtige naaldwerkprojekte by Create.Hobby in Kaapstad. Foto:

Naaldwerk in Kaapstad

Create.Hobby, wat begin is deur die voormalige mode-ontwerper Andrea van Assche, bied ook saans en in naweke klasse aan. Daar is genoeg masjiene en toerusting, maar vir sommige klasse moet jy jou eie materiaal bring.

Só lyk die program vir Desember:

Beginnersklasse: 2 en 9 Desember (18:00-20:00) of 6 en 13 Desember (10:00-12:00). Tydens die eerste les leer jy basiese masjienvaardighede, in die tweede maak jy ’n sak of soortgelyke eenvoudige projek. Die twee klasse kos R950, alle benodigdhede ingesluit.

Kinders: Stuur jou kind om van 9-11 Desember ’n naaldwerk-“kamp” by te woon waar hulle soggens tussen 09:30 en 12:00 leer hoe om met die masjien te werk en dan prettige projekte soos maskers, serpe en pantoffels maak. Dit kos R1 200, alles ingesluit. Kinders tussen die ouderdomme van sewe en 15 kan dit bywoon.

Projekklasse: Jy kan tot 22 Desember die spesiale projekklasse bywoon, waar jy kan kies uit verskeie moeiliker projekte soos swemklere, ’n kimono of ’n broek. Die klasse kos R190 per uur of R1 300 vir vier sessies van twee uur elk (materiaal uitgesluit), en word Dinsdae van 10:00-12:00 en 18:00-20:00, Donderdae van 10:00-12:00 en Saterdae van 13:30-15:30 aangebied. Klasse moet vooraf bespreek word.

Adres: Lower Mainstraat 142, Observatory, Kaapstad

Kontak: createhobby.co.za

Joga in die natuur (KZN)

By Pathways Country Yoga Retreat, naby Eston in KwaZulu-Natal, is die gastehuis- en jogastudio omring deur groen heuwels, damme en tuine waar jy ook daagliks kan gaan stap of mediteer. As die stilte jou begin verveel, is daar wildritte, spa’s, valskermspring en bergfietsritte.

As jy reeds die sprinkaan- van die kobra-posisie kan uitken, kan jy Pathways se 200 uur lange joga-instrukteurskursus bywoon. Dié wat wil ontspan kan ook enkele klasse bywoon of ’n sewe-dag-wegbreek van 15-20 Desember bywoon – klasse word aangepas vir enige vlak van ondervinding.

Prys : R100 per klas, R10 950 vir die sewe-dag-wegbreek (verblyf, etes en twee klasse per dag ingesluit).

Tyd: Daagliks van 8:00-9:00 en 16:00-17:00 (bespreek vooraf).

Adres: R603, Eston

Kontak: yogaretreatssa.co.za

By African Relish in Prins Albert kan jy leer brood bak.

Kosmaak in Prins Albert

African Relish bied half- en voldagkookklasse aan en dié Desember is Karoo-styl tapas, Kersfeesdisse, soetkoekies, broodbak, vleismaak en Suid-Afrikaanse gunstelinge op die program. Vanaf Januarie is daar weer klasse vir kinders asook meer eksotiese klasse, soos Asiese disse en Mediterreense kos. Bekende sjefs soos Nina Timm, Reuben Riffel en Marlene van der Westhuizen bied ook soms spesiale klasse of kursusse aan.

Die klasse word die hele vakansietydperk aangebied, buiten op 25 en 26 Desember.

Prys: R875 vir halfdae (middag- of aandete ingesluit) en R1 525 vir voldae (middag- en aandete ingesluit).

Tyd: Maandae tot Saterdae. Halfdae begin om 9:00 of 14:00, voldae om 9:00.

Adres: Kerkstraat 34, Prins Albert

Kontak: africanrelish.com

Die St. Catherine Art Studio in Kaapstad.

Kuns in Kaapstad

Vicki Penfold het jare se ondervinding as kunstenaar in verskeie mediums en deesdae onderrig sy nuwe tegnieke tydens haar weeklikse kunsklasse by haar ateljee naby Constantia Village in Kaapstad.

Die fokus is op olieverf en gemengde media en of jy nou een klas of weeklikse klasse bywoon, sal jy wegstap met nuwe vaardighede en hernude vertroue in jou kreatiewe vermoëns, sê Vicki. Al wat jy hoef saam te neem, is ’n voorskoot om jou klere te beskerm.

Vanjaar bied sy nog klasse aan tot 13 Desember, en daarna kan slegs private en groepsklasse bespreek word. Gewone klasse begin dan weer op 13 Januarie.

Prys: R385 per klas, alle materiale en ligte verversings ingesluit

Tyd: Maandae en Vrydae van 9:30-12:00

Kontak: facebook.com/stcatherineartstudio

Adres: St. Catherine Studio, St. Catherineweg, Plumstead

Fotografie in die Kruger

Johan Scott, ’n ervare natuurfotograaf, bied fotografiekursusse by die Ximongwe River and Safari Camp, sowat 40 km noord van Hoedspruit, aan. Ximongwe is in die Parsons-natuurreservaat, wat deel vorm van die Groter Kruger Nasionale Wildtuin.

Daar is verskeie pakkette, van ’n halfdag-fotografie-safari vir beginners tot langer kursusse in Namibië, Botswana en Zimbabwe, en groepsklasse of individuele lesse. Jy kan leer hoe om met natuurlike lig te werk, watter kamerastellings om te gebruik, of selfs hoe om abstrakte foto’s te neem.

Prys: Vanaf R1 200 per persoon vir ’n drie en ’n half uur lange les in groepsverband, middagete ingesluit.

Kontak: jssafariphoto.co.za

Smee ’n mes by Heavin Forge in Belfast.

Mesmaak in Belfast

Heather en Kevin Harvey, albei geakkrediteer as meester-mesmakers deur die American Bladesmith Society, bied mesmaakkursusse by hul ateljee, Heavin Forge, in Belfast, aan. Daar is verskeie opsies vir beginners, van drie- tot vyfdagkursusse en vanaf R6 500. Vir dié wat meer ernstig is oor die kuns, is daar ook ’n twee weke lange intensiewe vakleerlingkursus. heavinforge.co.za

Juwelemaak in Kaapstad

By Firepetals kan jy binne ’n dag leer hoe om ’n silwerring te maak, of weeklikse klasse bywoon om meer ingewikkelde tegnieke te leer. Die eendag-klasse word op Saterdae van 10:00-15:30 aangebied (R1 850, alles ingesluit), en weeklikse klasse op Dinsdae of Woensdae van 10:00-13:00 en Maandae, Dinsdae en Woensdae van 18:00-21:00 (R1 250 per maand vir vier klasse, materiale uitgesluit). facebook.com/firepetals

By Grootplaas De Rust kaasakademie kan jy verskeie soorte kaas leer maak. Foto: Jasmyn Pretorius
Grootplaas De Rust se kaasakademie.

Kaasmaak in Broederstroom

Leer hoe om vars haloumi- of ricottakaas te maak by Grootplaas De Rust se kaasakademie in Broederstroom. Die dag lange kursus kos R1 400 en sluit die bestanddele en ’n resepteboek, verversings en middagete in. Langer kursusse is ook beskikbaar. grootplaascheeseacademy.com

Koekbak in Kaapstad

Julie’s Cake Studio bied ’n verskeidenheid kursusse aan waar beginners en ervare bakkers kan leer hoe om koeke en koekies soos ’n meester te versier. juliescakestudio.co.za

Meer oor:  Vakansiebestemmings  |  Klasse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.