Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
My gesin:
Weet waar almal is

Ontvoering is elke ouer se ergste nagmerrie. Johanna van Eeden kyk na tegnologie wat jou kind kan help beveilig.

Verskeie selfoonapps laat jou toe om ’n ogie te hou oor jou kind se bewegings. Foto:

Die land is Maandagoggend geruk deur die ontvoering van ’n sesjarige meisie van Vanderbijlpark. Talle ouers het dadelik gevra: Wat as dit my kind was? Hoe kan ek my kind beveilig?

Volg jou kind aanlyn

Daar is verskeie apps wat jy kan gebruik om presies te weet waar jou kind hom bevind. Jy kan byvoorbeeld bloot die regstreekse liggingsfunksie op WhatsAppaktiveer. Hiermee kan jy vir tydperke van 15 minute, een uur of agt uur jou kind se bewegings regstreeks volg. Om dit te aktiveer, maak jy die gesprek (chat) tussen jou en jou kind (of ’n familiegroep) oop op jou kind se slimfoon. Klik die skuifspeld-ikoon, asof jy ’n foto wil aanheg. Kies dan die location-opsie. Jy het dan die keuse om jou huidige ligging te deel (ideaal vir wanneer jou kind wil laat weet sy het veilig by ’n plek aangekom) of om die foon se beweging oor ’n tydperk te deel (share live location). Dit is (buiten vir datagebruik) heeltemal gratis, maar sal ook net werk wanneer die slimfoon aangeskakel is.

Janine Render (47), ’n huisvrou van Doornpoort in Pretoria, sê sy gebruik twee apps om seker te maak haar seun, Brandon (22), is veilig. Hy werk in die musiekbedryf en moet dikwels laatnag van Johannesburg na sy blyplek in Sinoville, Pretoria, terugkeer.

Life360
Life360 wys vir jou waar jou kind op die oomblik is en ook watter roete hy volg. Foto:

Janine gebruik Life360, ’n app wat gratis afgelaai kan word vir iPhone of Android. Dit wys nie net vir haar regstreeks waar haar seun hom bevind nie, maar sy kan ook sien watter roete hy gery het om sy bestemming te bereik. Hy kan van sy telefoon af dieselfde doen om ook te kyk waar sy is. Die app maak dit moontlik om direkte boodskappe vir mekaar te stuur, soortgelyk aan kitsboodskapdienste soos WhatsApp. Wanneer mense in die groep by hul bestemming aankom, kan hulle ook dadelik hul aankoms aandui, sodat jy weet hulle is veilig.

WhatsApp se regstreekse liggingsfunksie gee jou die opsie om jou ligging vir 15 minute, ’n uur of agt uur lank te deel.

Jy kan jou hele gesin op dié app registreer, sodat jy met een oogopslag kan sien waar almal hulle op ’n spesifieke tyd bevind. Daar is ook ’n nuttige funksie wat vir jou wys wanneer een van die ander mense in die groep se selfoonbattery pap word. Janine sê sy bel haar seun dan gewoonlik om hom te herinner om sy battery te herlaai. Haar seun het ’n Netstar-opsporingstelsel in sy motor en sy gebruik ook dié app om hom te volg.

Namola, ’n app wat sowat twee jaar gelede uitgereik is om Suid-Afrikaners te help om hulp te ontbied in ’n noodsituasie, kan gratis afgelaai word vir iPhones of Android.

Namola deel jou ligging, maar gee jou ook die opsie om hulp te ontbied. Foto:

Peter Matthaei, uitvoerende hoof van Namola, sê deur Namola kan jy ook ’n funksie aktiveer wat jou toelaat om jou ligging regstreeks met geliefdes te deel. “Ek gebruik dit byvoorbeeld om ’n oog op my kinders te hou. Hulle is jong tieners. Ek doen dit nie omdat ek hulle nie vertrou nie, maar om seker te maak hulle is veilig. Ek en my vrou deel ook regstreeks ons ligging met mekaar sodat ons seker kan wees ons het veilig by ons onderskeie bestemmings aangekom,” verduidelik Peter.

Nadat jy Namola afgelaai het op jou slimfoon en geregistreer het, druk jy eenvoudig ’n “versoek hulp”-knoppie in nood. Jou besonderhede en ligging word dan na die reaksiesentrum gestuur, waarna iemand jou sal terugbel en sal sorg dat jy hulp kry. Namola maak staat op openbare nooddienste soos die polisie en metropolisie, maar het ook ’n netwerk van sowat duisend vrywillige organisasies landwyd op bystand. Dit sluit in buurtwagte en vrywilligers soos paramedici.

Wanneer jy ’n profiel opstel, verskaf jy spesifieke inligting soos mediese toestande en jou mediese fonds om die oproepsentrum te help om jou so goed moontlik by te staan. Peter sê nuwe gebruikers word aangeraai om Namola minstens een keer te toets om hulself te vergewis hoe dit werk. Die app het tans 320 000 geregistreerde gebruikers en het reeds meer as 200 000 voorvalle hanteer.

“Ons moedig ouers aan om hul kinders te leer hoe om Namola te gebruik,” sê Peter. Daar is ook video’s op YouTube waar kinders gewys word hoe om die app te hanteer. Peter sê hy weet van kinders wat voorheen deur Namola hulp versoek het, veral in omstandighede waar hulle mishandel is.

Die basiese Namola-diens is gratis. Peter sê hulle glo Suid-Afrika kan net regtig veilig wees as alle gemeenskappe gelyke toegang het tot nooddienste. Indien gebruikers egter ekstra dienste benodig, soos om gewapende reaksie of private mediese dienste te versoek, kan hulle teen R49 per maand inteken op Namola Plus, wat in metropole en groot stede beskikbaar is.

Die Namola- en Life360-app kan gratis afgelaai word.

Noodknoppie 

Namola bied ook ’n noodknoppie met ’n ingeboude GPS wat gebruikers apart kan koop teen R1 399 en ’n maandelikse intekening van R79, wat toegang gee tot gewapende reaksie en private mediese dienste. Dit is ook nuttig omdat jy daarmee hulp kan ontbied indien jy nie ’n telefoon byderhand het nie. Dis dié noodknoppies wat Peter se kinders by hulle dra.

Wat bied die organisasies waartoe jy behoort?

Vergewis jou van ál die voordele wat organisasies waarvan jy ’n lid is bied. Verskeie organisasies het hul eie apps wat aan jou toegang in noodsituasies bied. Die Automobiel Assosiasie (AA) se app is gebruikersvriendelik en wanneer jy deur die app kontak met die oproepsentrum maak, word jy dadelik gevra of jou oproep verband hou met ’n noodsituasie, sodat jy vinniger hulp kan kry.

Lede van AfriForum kry ook toegang tot die AfriForum 911-app, waardeur hulp ontbied kan word deur die druk van ’n knoppie op jou selfoon.

Goeie kommunikasie met jou kinders is deurslaggewend. Maak seker jy het ’n vertrouensverhouding met jou kinders sodat hulle met jou oor enigiets kan gesels.

  • Moenie ’n kultuur van geheimhouding in jou huishouding skep nie. Hou kommunikasie oop en gemaklik, sodat jou kinders nooit voel hulle moet iets van jou wegsteek of iets in die geheim doen nie.
  • Praat openlik met jou kinders oor hul veiligheid, terwyl julle in ’n veilige omgewing is. Verduidelik hoekom dit vir jou nodig is om ten alle tye te weet waar hulle is. Maak dit duidelik dat jy hulle vertrou (veral wanneer tieners ter sprake kom) maar dat dit vir hul eie veiligheid belangrik is dat jy weet waar hulle is.
  • Help jou kinders om deur selfoon-apps ook ter enige tyd te kan sien waar jy jouself bevind, sodat hulle nooit bang of angstig hoef te wees oor jou veiligheid nie.
  • Bespreek spesifieke noodsituasies met jou kind deur rollespel. Wat doen julle in geval van ’n huisroof? Sê nou die motor word gekaap? Wat gaan julle doen wanneer julle in ’n winkelsentrum is en daar is ’n rooftog?
  • Ondersoek die beskikbaarheid van selfverdedigingsklasse of kry professionele hulp om jou en jou gesin te bemagtig.
  • Kry ’n kodewoord vir jou gesin wat gebruik kan word wanneer iemand in die moeilikheid is, maar dit nie hardop kan sê nie. Maak seker dat dit ’n woord is wat nie alledaags in jul huishouding gebruik word nie, sodat die waarde van die woord behoue bly.
  • Moenie van jou kind se virtuele wêreld vergeet nie. Sy kan net so maklik aanlyn geteiken word. Ondersoek apps soos Kaspersky Safe Kids wat jou toelaat om beperkings te plaas op jou kind se internetgebruik. Jy kan daarmee ook sien na watter onderwerpe jou kind gesoek het of watter inligting jou kind aanlyn gedeel het.

Bronne: Huffpost.com; childhood101.com; news24.com; dailymail.co.uk; saps.gov.za; parent24.com

Meer oor:  Beveilig.  |  Ontvoering  |  Ouer  |  Tegnologie  |  Kind
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.