Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Weldoener betaal klante se skool-bêrekopies
’n Weldoener van Bloemfontein het vir ouers se skool-bêrekopies by Pep-Stores betaal.Foto: Unsplash

’n Anonieme weldoener het Vrydag ’n Pep Stores-winkel in Bloemfontein se personeel in trane gehad nadat sy klante se skoolverwante bêrekopies betaal het voordat die skool Maandag begin.

Dit is minder as ’n maand nadat ’n ander onbekende weldoener die bêrekopies van 363 klante van ’n Pep Stores in Mosselbaai afgelos het.

Rapport het toe daaroor berig.

Robina Ortel, ’n winkelassistent by die Pep in Bloemfontein se Northridge Mall, sê ’n onbekende vrou het Vrydag aan die deur van die winkel se voorraadkamer geklop toe sy en Alina Tsieela, die bestuurder, voorraadopname gedoen het.

“Sy het gesê sy het ’n simpel vraag, maar is daar enige skool-bêrekopies wat uitstaande is, want sy wil dit graag betaal.”

Ortel sê die hele winkel was in trane toe een van hul klante, wat by Tekkie Town in die sentrum werk, by die winkel opdaag.

Nasabatha Leponesa sê sy het eers gedink dit is ’n poets toe hulle haar bel en sê sy moet winkel toe kom.

“Sulke goed gebeur mos net op televisie. Hoekom sal hierdie mens wat my nie eens ken nie uit die niet kom en dit betaal?”

Sy het onder meer ’n skooluniform, skoolskoene, kouse en ’n skooltas vir Oatetjwe (8), haar dogter wat vanjaar in gr. 3 by die Rocklands Primary School gaan wees, gekoop.

“Ek was eintlik baie bekommerd, want ek het nie genoeg geld gehad om daardie bêrekopie betyds voor Maandag af te betaal nie.”

Volgens Ortel was die totale waarde van die drie kliënte se bêrekopies net meer as R2 000.

GRAFIKA: Hiér is skoolklere die billikste

Die weldoener verkies om anoniem te bly.

Volgens Chanele Roodt, ’n klant wat ten tyde van die goeie gebaar in die winkel was, het die weldoener gesê haar inspirasie is die #ImStaying-beweging op Facebook.

“Ek dink dit is fenomenaal!”

Die Mosselbaaise weldoener het vir elkeen van die mense ’n nota gelaat wat lui: “Ek is dankbaar om in ’n posisie te wees om jou Pep Stores-bêrekoop te kan aflos. Ek weet dit hang van mense af om mense te help. Dit is net die regte ding vir almal van ons om te doen, ongeag ons geloof. Ek het ook lank gelede bêrekopies by Pep Stores gehad.”

Die weldoener het die nota bloot onderteken as “ ’n Dankbare humanis”.

Meer oor:  Weldoener  |  Skoolklere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.