Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Wen die stryd teen volwasse aknee

Puisies en ’n probleemvel behoort mos saam met jou tienerjare in die verlede te wees. Al meer vroue (en mans) sukkel egter deesdae met volwasse aknee. Daar is darem hoop, het Karla Janse van Vuuren uitgevind.

"Volgens ’n artikel in ’n 2015-uitgawe van die British Journal of Dermatology, sukkel 54% van volwasse vroue en 40% van volwasse mans met aknee. Die meerderheid van aknee in volwassenes het in hul tienerjare begin en net nooit opgeklaar nie,” verduidelik dr. Suretha Kannenberg, ’n dermatoloog van Stellenbosch.

Meer seuns se aknee klaar gewoonlik ná hul tienerjare op en dit is meestal vroue wat met hardnekkige aknee sukkel, voeg sy by.

“Volwasse-aankoms aknee begin ná die ouderdom van 25 vir die eerste keer en daar kan verskeie faktore wees wat hiertoe bydra.”

Algemene faktore sluit in hormonale wanbalans, oorbodige sebum-produksie, bakteriële infeksie en ’n onvanpaste velsorgroetine, sê Helene Cloete, handelsmerkbestuurder van die velsorgreeks Sothys.

’n Mens wil glo puisies is iets wat jy in jou tienerjare agterlaat. Dis ongelukkig nie so nie.

“Spanning, medikasie en slegte eetgewoontes kan ook aknee laat opvlam,” voeg dr. Reza Mia, ’n mediese estetiese praktisyn, by.

As jy vyf of meer knoetse of rooi letsels het wat groter is as 5 mm in deursnee, het jy akute aknee, verduidelik Karen Bester van Lamelle.

“As jou vel inflammasie en littekens het, het jy waarskynlik mediese hulp nodig en is dit nie net ’n fase nie.”

Die sakevrou Amanda du-Pont, wat onlangs haar eie velsorgreeks lelive. (gemaak van 95% natuurlike bestanddele) bekend gestel het, vertel sy sukkel self met volwasse aknee.

“As jou vel geneig is tot aknee, gaan jy jou velsorgroetine jou hele lewe lank daarvolgens moet aanpas. Vir my is dit belangrik om my vel so skoon as moontlik te hou en om dit nie te oorlaai met produkte wat my porieë verstop nie.”

Wenke vir jou probleemvel

  • “Goeie vel-higiëne, ’n gesonde dieet, gereelde oefening, goeie spannings­beheer en om op te hou rook, sal alles help om aknee onder beheer te hou,” sê dr. Judey Pretorius, ’n biomediese wetenskaplike en produkformuleerder van Biomedical Emporium.
  • Kry genoeg slaap. “Jou vel regenereer en herstel terwyl jy diep slaap. So, as jy nie behoorlik slaap nie, kan dit jou probleemvel vererger,” sê Amy Knoetze, stigter van Pulse Dermatology & Laser.
  • Moet nooit, ooit krap of druk nie. “Jy kan vreeslike skade veroorsaak as die puisies so diep sit. Gebruik eerder velprodukte wat geformuleer is vir aknee-velle,” is Suretha se raad.
  • Diep reiniging is belangrik. “Kyk uit vir bestanddele soos glikolsuur en salisielsuur wat die opbou van dooie selle kan elimineer (dit kan egter ook jou vel meer sensitief maak),” sê Helene.
  • Waak teen blootstelling aan UV-lig en vermy olierige grimering, beveel Judey aan. “Oppas ook vir voorbehoedmiddels wat slegs progesteroon bevat – dit kan aknee veroorsaak en vererger.”
  • Was jou gesig so gou as moontlik as jy swaar grimering dra en moet nooit met grimering aan gaan slaap nie, waarsku Amy. “Moet ook nie jou vel was met gewone seep nie, dit kan jou vel stroop van olie en dit dan stimuleer om nog meer olie te produseer. Was ook jou kussingsloop elke tweede dag om seker te maak jy slaap op skoon materiaal.”
  • Gereelde gesigbehandelings kan ’n groot hulp wees om velinfeksies te beperk. “Diep reiniging met die hulp van spesifieke sure en absorberende maskers kan blokkasies verwyder en sodoende die probleem elimineer voor dit begin,” meen Helene.
  • Hoe jy daagliks jou vel behandel, is altyd belangriker as ’n professionele behandeling af en toe, beklemtoon Amy. “Wees konsekwent en maak seker jou tuisvelsorgroetine is volhoubaar en iets waarby jy daagliks kan hou. Dit sal tot die beste resultate lei.”
  • Onthou dat erge volwasse aknee dikwels mediese behandeling vereis. “Gee jou velprodukte so twee tot drie maande. As daar geen verbetering is nie, maak ’n afspraak by ’n dermatoloog. Die aanlyn platform Dr. Derma (drderma.co.za) is ’n goeie opsie as jy nie by ’n dermatoloog kan uitkom nie,” gee Suretha raad.

Probeer dié produkte

1. Lamelle Clarity Active Cleanse (R250): Dié seepvrye, skuimende reiniger maak diep maar sagkens skoon. Dit is anti-inflammatories en anti-bakterieel en verwyder oortollige olie terwyl dit ook geïrriteerde vel streel.

2. Save our Skin-afskilferaar van lelive. (R299): Dié afskilferaar werk sagkens en verwyder dooie velselle wat porieë kan laat verstop en aknee vererger.

3. Sothys Hydra3Ha Light Youth Cream (R895): Hierdie room verskaf langdurige bevogtiging, sonder om te swaar op die vel te gaan lê.

4. Biomedical Emporium Translucent Day SPF30 (R1 155): Sonroom is steeds belangrik as jy sukkel met ’n probleemvel. Hierdie sonskerm bied breëspektrumbeskerming teen UV-skade en kan ook rooiheid verminder wat deur sonskade veroorsaak is.

5. AQ Skin Solutions Recovery Serum (R2 300): Dié serum het ’n baie hoë konsentrasie natuurlike groeifaktore en kan die vel help om self te regenereer deur kollageenproduksie en gesonde sirkulasie aan te moedig.

Jou masker en aknee - wat jy moet weet 

Aknee veroorsaak deur die konstante dra van ’n gesigmasker, is volgens Suretha ’n groot probleem. Haar wenk is om ’n sagte masker (van materiaal soos sy of satyn) te kies wat nie te styf pas nie.

“Maak seker jy sit elke dag ’n skoon masker aan en doen een of twee keer per week ’n afskilferingsprosedure (chemies of fisies).” Dit sal voorkom dat jou porieë maklik verstop.

Helene beveel weggooibare maskers aan as jy erg sukkel met aknee.

“As jy wel ’n herbruikbare lapmasker wil gebruik, maak seker dat jy dit gereeld en deeglik was.”

Judey beveel aan dat ’n mens streng by jou velsorgroetine hou en in die oggend en aand jou vel behoorlik reinig en bevogtig.

“Probeer ook om nie deur die dag te veel aan jou gesig of jou masker te vat nie. Maak seker jy spoel reinigingsprodukte deeglik af en wend twee keer per dag vogroom aan. Jy sal dalk ’n ‘ryker’ vogroom moet kies om aan te pas by die uitdroog-effek wat die masker op jou vel kan hê,” is Karen se raad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.