Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Werklose egpaar ‘engele’ wat grafte skoonmaak
’n Voor- en ná-foto van ’n graf in die Heatherdale-begraafplaas. Die onkruid is uitgetrek en die grond voor die grafsteen is netjies gemaak. Klippies is mooi gepak op die grond voor die graf.

’n Werklose egpaar van Pretoria wat swaar deur die Covid-19-pandemie getref is, maak nou vir ’n inkomste grafte skoon.

Dit is ’n uitmergelende werk wat ure in die son verg, maar Eben Havenga en sy vrou, Zelda, is nie bang om hul hande vuil te maak om kos op die tafel te sit nie.

Die Engele rondom ons-skoonmaakdienste is in ’n tydperk van groot onsekerheid gestig, maar opgee was nie ’n opsie nie.

“Laat die engele help om u geliefdes se rusplekkie skoon en netjies te hou,” lui hul advertensie.

Eben (41) het sy werk verloor toe pres. Cyril Ramaphosa in Maart verlede jaar die vlak 5-inperking afgekondig het.

Sedertdien het die Havengas geen inkomste gehad nie en van die hand tot die mond geleef met kospakkies van vriende, familie en selfs vreemdelinge. Daar was ook dae waar daar niks te ete was nie.

Havenga was die gesin se enigste broodwinner en het in daardie stadium optieseveselkabels aangelê. Namate die vlakke van inperking verslap is, het hy onverpoos na werk begin soek. Sy soektog het egter niks opgelewer nie. Hy het ook nie ’n permit gehad om los werkies te doen nie.

Die egpaar woon op ’n kleinhoewe in die omgewing van Andeon in die weste van Pretoria.

Intussen het die egpaar agterstallig geraak met hul huur en ander rekeninge wat betaal moet word, maar net verlede week het hulle met die idee vorendag gekom om grafte skoon te maak.

“Omdat begraafplase in so ’n chaotiese toestand is, het ons gedink om ons dienste op ’n maandelikse grondslag aan te bied vir ’n inkomste,” sê Zelda (39).

Die Engele rondom ons-skoonmaakdienste is uiteindelik op die been gebring. Zelda het hul dienste op Facebook geadverteer en hulle het sedertdien ’n paar kliënte gekry.

“Ons wou ’n sagte naam vir die onderneming hê, want dit gaan oor geliefdes wat nie meer hier is nie,” sê Zelda.

Hul dienste sluit in die sny van gras rondom die grafsteen, die verwydering van onkruid, om die grond netjies te maak waar ’n grafsteen nog nie beskikbaar is nie, die opvul van grond waar grafte ingeval het, asook die was van grafstene en blompotte.

Hierdie inisiatief is tans beskikbaar by die Zandfontein-, Heatherdale- en Pretoria-Oos-begraafplaas. Hulle het reeds 24 grafte om te versorg.

Dit hang af van die toestand van ’n graf hoe lank hulle neem om dit skoon te maak. Die egpaar maak gebruik van ’n geleende grassnyer wat hulle nou aan die eienaar moet terugbesorg, asook ’n grasskêr omdat hulle nie ’n randsnyer het nie.

“Dit is baie harde werk en dit is in die son. Maar ons doen dit vir ’n goeie doel, so ons kla nie,” sê Zelda.

“Ons kliënte is tot dusver baie tevrede en dit is vir ons ’n pluspunt. Van die kliënte bring ook trane in jou oë, want hulle vertel vir jou hoe hul geliefde gesterf het.”

Sy sê hulle het ook al geliefdes verloor.

“So ons weet waaroor dit gaan en verstaan dat mense nie elke dag die tyd het om grafte skoon te maak nie, al wil hulle baie graag. As ons dit vir hulle kan doen, hoekom dan nie?”

Hul dienste sluit ook die eenmalige skoonmaak van erwe in.

Zelda bedank almal wat hulle in hierdie moeilike tyd gehelp het, veral vir Lizelle Herbst van Help to help others, ’n organisasie sonder winsbejag.

’n Voor- en ná-foto van ’n graf in die Zandfontein-begraafplaas. Die lang gras wat die graf versteek het, is gesny en klippies is mooi gepak op die graf.
’n Voor- en ná-foto van ’n grafsteen in die Heatherdale-begraafplaas. Die gras om en op die grafsteen is verwyder.
’n Voor- en ná-foto van ’n graf in die Zandfontein-begraafplaas. Die gras is gesny en die graf is netjies gemaak.


Meer oor:  Grafte  |  Eben Havenga  |  Engele Rondom Ons
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.