Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Wie wil dan nou buk as jy net kan sit en rolbal speel?
Les en Laura Johnston Foto: Jannie Meyer

Toe ’n toegewyde rolbalspeler in die Suid-Kaap, Les Johnston, die gebruik van albei sy bene verloor, het hy verseg om die slagoffer van sy lot te word.

Ná ’n aktiewe rol in rolbal vir 14 jaar, op die baan en in die komiteekamer, was dit vir Les Johnston van George ’n traumatiese ervaring toe hy die gebruik van sy bene as gevolg van gebrekkige bloedtoevoer en osteoartritis verloor. Boonop het hy teen kanker geveg en is uiteindelik genees, maar die ouderdom het ook sy bewegings begin inperk.

Les moes aanpas by die situasie, maar frustrasie het dié innoverende pensioenaris laat besluit om ’n ander weg te vind wat ’n aktiewe lewe steeds sou moontlik maak. “Omdat ek nie naby die grond kon kom om die balle te loods nie en boonop moes oorhel om die wiel en remhefboom te vermy, moes ek dring­end ’n ander plan maak. Ek het ook simpatie met die baanbeamptes gehad omdat rolstoele met dun wiele nie geskik is vir rolbalbane nie.”

Dit het Les aangespoor om ’n stoel te ontwerp wat dié struikelblokke besweer.

“Ek het ure op die internet spandeer om oplossings te soek ten einde die spel steeds te kan geniet. Uiteindelik het ek die antwoord op ’n webwerf in Engeland gevind, maar die wisselkoers was teen my. Dié stoel was bo my vuurmaakplek.”

Les se vrou, Laura, is self ’n professionele rolbalspeler en staan hom by om dit moontlik te maak om steeds sy geliefkoosde sportsoort te beoefen. Sy stel toe voor hy span sy uitgebreide ingenieursondervinding in om self ’n rolstoel te ontwerp. Dit het hom dadelik geïnspireer om aan die werk te spring.

Die eiesoortige rolstoel. Foto: Jannie Meyer
Les Johnston rol uit sy eiesoortige rolstoel. Foto: Jannie Meyer

Danksy sy jarelange verbintenis met Formule Een-wedrenne, 51 jaar se betrokkenheid by die bou van renmotors en sy goed toegeruste werkswinkel, kon hy self ’n plan maak.

“Na twee maande se gesoek na die gepaste wiele, wat uiteindelik Chinese bromponiewiele was, het die soektog na die gepaste metaal begin. Die meeste was of te duur of nie in George beskikbaar nie. Daarna moes ek soek na ’n onderneming wat die handvatsels en ander komponente vir my kon vervaardig. Ek moes seker maak die stoel kon maklik aanmekaarsit en uitmekaarhaal om die vervoer daarvan moontlik te maak.”

Les het toe eiehandig aan sy ideaal begin vorm gee, uit sy rolstoel. Hoewel dié beperking by tye frustrerend was, het hy volgehou en die vrugte gepluk.

Nou spog hy met ’n eiesoortige stoel wat binne vyf minute opvou en in dieselfde tyd weer kan oopvou.

“As gevolg van die heelwat kleiner wiele, sukkel dit ’n bietjie meer om op en af van die baan te kom, maar gelukkig staan my vrou my altyd by.”

In weerwil van sy rolstoelgebondenheid, werk Les gereeld in sy werkswinkel, doen instandhoudingswerk in en om die huis en het hy eiehandig sy huis geverf. Hy is vasberade om so ver moontlik onafhanklik te wees en ondersoek gedurig ander moontlikhede om die lewe in ’n rolstoel so gemaklik moontlik te maak.

Meer oor:  Suid-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.