Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Wil jy op Vrouedag die Mej. SA-kroon dra?

Die begin van ’n Aspoestertjie-verhaal. ’n Platform om te groei, selfvertroue te ontwikkel en vroue te bemagtig. En as dít nie genoeg motivering van vorige wenners is om vir Mej. Suid-Afrika in te skryf nie, is daar boonop ook R1 miljoen kontant en talle ander pryse op die spel.

Vyf vorige wenners van die Mej. SA-kompetisie is ingespan om vroue aan te moedig om van vandag af vir vanjaar se kompetisie in te skryf, met die bekroningsgeleentheid wat op Vrouedag op 9 Augustus plaasvind.

Vyf van die wenners van die Mej. SA-kroon is (van links) Bokang Montjane-Tshabalala (2010), Ntando Kunene-Mthethwa (2016), Tamaryn Green (huidige Mej. SA, 2018), Liesl Laurie (2015) en Rolene Strauss (Mej. SA én Mej. Wêreld 2014). Foto: Paul Samuels

Dié vyf is Bokang Montjane-Tshabalala (2010), Rolene Strauss (Mej. SA én Mej. Wêreld 2014), Liesl Laurie (2015), Ntando Kunene-Mthethwa (2016) en die huidige Mej. Suid-Afrika, Tamaryn Green.

Die nuwe Mej. SA sal met R1 miljoen kontant, ’n motor en ander pryse wegstap. Die naaswenner sal R250 000 in kontant wen en al die top-16-finaliste kry elk R25 000.

Die inskrywings het Maandag amptelik geopen en sluit op 10 Junie. Die 16 finaliste sal op 11 Julie aangekondig word.

“Die kompetisie doen uiteindelik baie vir vrouebemagtiging. Dit skep geleenthede vir die finaliste tot die Mej. Suid-Afrikaners en uiteindelik internasionale deelnemers. Die groei wat ek as Mej. Suid-Afrika beleef het, het nie net gelei tot die wonderlike eer om Mej. Wêreld te wen nie, maar dit het my ook gehelp om by die mediese skool te oorleef,” sê Strauss.

Van links is Ntando Kunene-Mthethwa, Bokang Montjane-Tshabalala, Tamaryn Green, Liesl Laurie en Rolene Strauss.Foto: Paul Samuels

Laurie sê haar lewe het vir altyd verander toe sy as Mej. Suid-Afrika gekroon is.

“ ’n Meisie se lewenslange droom het waar geword en die volgende dag het ’n vrou se werklikheid begin. Dit was ’n realiteit waar die Aspoestertjie-storie begin het, van Eldorado Park na die wêreld! My tyd as Mej. SA sal altyd een van die belangrikste hoofstukke van my lewe en dié van baie mense uit my township wees. My nalatenskap is dat ek vir altyd ’n baken van hoop vir Eldorado Park en baie townships in hierdie land sal wees,” sê Laurie.

Kunene-Mthethwa sê dit is nie maklik om jou waarheid aan miljoene mense bloot te lê nie, maar die kompetisie gee vir jou selfvertroue.

“Die kompetisie wat op so ’n belangrike datum gehou word, beklemtoon die rol wat vroue speel om die toekoms te help vorm deur hul gekose passie uit te leef. Net soos in 1956 toe meer as 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria opgeruk het om teen die Groepsgebiedewet te betoog, is dit ’n kragtige viering van vroue uit verskillende rasse en agtergronde wat bymekaarkom,” sê Kunene-Mthethwa.

Green sê dit is nie ’n verlies om die kroon te oorhandig nie, sy sien eerder daarna uit om die nuwe wenner in hul susterskap te verwelkom. “Hierdie platform het my bemagtig, nie net as ’n jong Suid-Afrikaner wat ’n verskil in haar gemeenskap wil maak nie, maar as ’n mediese student en ook as ’n vrou.

“Die Mej. SA-kompetisie is ’n kerndeel van Suid-Afrikaanse vroue se verhaal en hoe ons as vroue ons plek in die samelewing volstaan en voorbrand maak vir die geslag vroue wat ná ons kom,” sê Green.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.