SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Leef
Yoma vertel oor ‘diep, mooi’ swangerskap
Hemelbesem en Yoma op hul troudag in Mei 2016.Foto: Argief

Daar was tye gedurende haar swangerskap toe dit so moeilik was om te loop dat haar man haar moes dra en haar hormone met haar op hol gegaan het, daarom het dié Afrikaanse kletsrymer en “koningin van rymklets,” Yoma, besluit sy moet dié ervaringe in ’n nuwe album deel.

Yoma, ook bekend as Claudia Witbooi, en haar man, die gewilde kletsrymer Hemelbesem (Simon Witbooi) het op 19 Desember hul dogtertjie, Engel, in die wêreld verwelkom.

Yoma het haar ervaringe met haar eerste swangerskap in ’n album saamgevat wat op 21 Februarie – Moedertaaldag – vrygestel word.

“Ek het gevoel dis belangrik dat ’n mens jou storie moet deel, hoe mooi en hoe moeilik dit (swangerskap) is. Ek het ook gevoel te min mense deel hul stories oor hul swangerskappe,” sê die 25-jarige kunstenaar.

“Toe Simon vir my sê hy het ’n idee, dat ek ’n album moet skryf, het ek besef dis perfek en dit het my geïnspireer om een te skryf,” sê sy.

Yoma het die album binne ses maande voltooi en sê dit is basies haar swangerskap wat in woorde omgesit is.

“Soos die tyd aangestap het, het die inspirasie net meer geword. Dit het moeiliker geword om opnames te doen want ek het gou moeg geraak, maar in dié tyd het ek geleer om baie geduldig met myself te wees.

“Ek het so emosioneel geword toe ek agterna na die album luister en ek het besef dat ek my hart en siel daarin gesit het.

“Ek is baie opgewonde oor die album en ook baie dankbaar.”

Sy sê een van die liedjies op die album, wat sy saam met Hemelbesem opgeneem het, En dit was goed, sing sy oor haar heupbene wat so gepyn het dat dit moeilik was om te loop en haar man haar moes ronddra, maar met Hemelbesem se ongelooflike ondersteuning het sy dit deurgemaak.

“Ek het werklik ’n wonderlike man. Ek was soms ’n bietjie moeilik as die hormone my so beetgekry het, maar hy het uit sy pad gegaan om dinge vir my te doen, al was dit nie so dringend nie,” sê sy.

Sy sê dit was eintlik baie maklik om ’n album gedurende haar swangerskap te skryf omdat dit gevoel het asof die woorde net makliker vloei.

“Ek het baie gehad om oor te skryf omdat daar elke dag nuwe ervarings was.”

Een van dié ervarings is die kosdrange wat haar soms beetgekry het.

“Die kosdrange was nie regtig so erg nie, maar een van dié was roosterbrood met kaas en op ’n stadium pannekoek.”

Sy lag terwyl sy vertel hoe sy een aand kort ná middernag, terwyl hulle besig was om die ligte af te sit om te gaan slaap, ’n skielike, sterk drang gehad het na mieliepap en dit moes opsluit proe presies soos haar ouma Hester s’n.

Dit was baie, baie erg, veral die eerste drie maande.

“Simon het gevra hoe maak ons nou, want daar is nie mieliepap in die huis nie. Ek het die naaste garage gebel en hulle het gesê hulle het in voorraad. Hy het gery en dit gaan koop. Toe hy terugkom, moes hy dit maak ook,” vertel sy laggend.

“Ek het daardie aand baie tevrede gaan slaap,” sê sy en skater weer.

Hoewel die drange nie so erg was nie, sê Yoma sy het baie gesukkel met oggendnaarheid.

“Dit was baie, baie erg, veral die eerste drie maande.”

Oor ma-wees is sy baie, baie dankbaar.

“Dis ’n heilige ervaring, diep, een van die mooiste dinge. ’n Swangerskap is ook diep en mooi. Soms is ek so bang, maar dan sê ek net vir myself dat God nie vir ons so ’n wonderlike geskenk sou gee as hy gevoel het ons is nie gereed daarvoor nie.”

Op die vraag of sy graag sou wou hê Engel moet ook ’n kletsrymer word, antwoord sy: “Ek sien uit daarna om te leer waarvan sy hou. Ek wil eers sien wie sy is, maar ek wil haar ondersteun in wat sy ook al wil doen, maar met genoegsame wysheid en leiding.”

Meer oor:  Hemelbesem  |  Swangerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.