Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Ystervrou in haar eie tuin om ander te help
Klein Leo hardloop vir ’n entjie saam met sy ma, Charlotte Raubenheimer, wat die Ysterman in haar eie tuin aangepak het.Foto: Verskaf

Terwyl die meeste mense verlede Sondag maar die lang ure van inperking met ’n fliek of boek verwyl het, het ’n 42-jarige vrou van die Baai ’n uitsonderlike uitdaging aangepak.

Charlotte Raubenheimer het die afgelope jaar kliphard voorberei vir die Ironman Afrika-kampioenskappe wat op dié dag sou plaasvind, maar weens die Covid-19-pandemie is die kampioenskap uitgestel tot 15 November vanjaar. Dié praktiese kleinigheid was egter nie genoeg om Raubenheimer van stryk te bring nie.

“Sy het nooit eens haar teleurstelling oor die kansellasie van die kampioenskap laat blyk nie,” sê haar man, Jean, ’n narkotiseur. “Sy was net dadelik bekommerd oor die implikasies wat die bedreiging vir minderbevoorregtes in ons land sou inhou – die perfekte voorbeeld van onbaatsugtigheid vir ons seuns.”

Vandag doen ek die Ironman, al is dit op my eie werf!
Reg vir die uitdaging van 90 minute swem.Foto: Verskaf

Dis juis dié eienskap wat daartoe gelei het dat sy Sondag om 05:00 opgestaan het met ’n plan en ’n vaste besluit in haar kop: “Vandag doen ek die Ironman, al is dit op my eie werf!”

Raubenheimer sou juis vir ’n goeie doel aan die Ironman deelneem. Phillip Janse van Rensburg, ’n serebraal-gestremde inwoner van die Cheshire-tehuis in Summerstrand, is aan ’n rolstoel gekluister. Sy paadjie het ses jaar gelede met dié van die Raubenheimers gekruis op een van sy daaglikse rolstoeluitstappies verby hul huis na die strand.

“Phillip se rolstoel, wat hy met sy ken beheer, is die sleutel tot sy vryheid,” sê Raubenheimer. “Die rolstoel het ’n tyd gelede begin probleme gee, en weens die roes wat seelug meebring, het sy stoel dringende onderhoud nodig. Ek het met Deidré Burger, bestuurder van die Cheshire-tehuis, gaan praat om te kyk hoe ons Phillip kan help. Sy het met trane in haar oë gesê sy het net die vorige dag gewens iemand sou kon help met Phillip se rolstoel!”

’n Vriend van Jean het voorgestel dat hulle begin met ’n veldtog om geld in te samel deur Back-A-Buddy. Begin Maart het die bydraes reeds die teikenbedrag verbygesteek. “Ek het gevoel ek is dit verskuldig aan almal wat so vrygewig bygedra het om my deel van die ooreenkoms na te kom,” vertel Raubenheimer.

Charlotte Raubenheimer aan die trap vir die fietsrydeel van haar Ystermanby die huis.Foto: Verskaf

Maar hoe gemaak om 3,8 km te swem, 180,2 km fiets te ry en ’n 42,2 km-marathon te voltooi op een voorstedelike erf. Raubenheimer het in die stilligheid Saterdag reeds die moontlikheid daarvan begin oorweeg. Eers moes Jean haar enkel met ’n tuisgeprakseerde band aan die swembadheining vasmaak, sodat sy die swemskof op dié manier kon aanpak. “Intussen het ek hom gevra om my tydtoetsfiets, waarmee ek aan die Ironman sou deelneem, op die Wahoo-oefentoestel te installeer – iets wat ons nie seker was sou werk nie. Toe Jean dit egter regkry, het ek besef my plan kan werk.”

Raubenheimer het Sondagoggend wakker geword, ’n stewige ontbyt geëet en geweet: Sy’s gereed. Om 07:00 het sy begin met 90 minute se swem, waarna sy ’n volle ses uur en 15 minute op die tydtoetsfiets deurgebring het. In dié tyd het die hospitaal Jean in ’n dringende e-pos gevra om sy spesiale Covid-19-masker te kom haal.

“Ons seuns, Jeanré (11) en Leo (6), het heeltyd geloop en foto’s neem, en ek is agterna eers weer gekonfronteer deur die besef dat ons dokters en gesondheidswerkers tans werklik in die spervuur staan toe ek Jean met sy masker op die foto’s sien staan.”

Intussen het Raubenheimer se oefenmaats snuf in die neus begin kry, en Jean moes bontstaan om die telefoon te beman soos boodskappe van aanmoediging ingestroom het.

Dit sit nie in enigeen se broek om ná soveel oefening ook nog ’n marathon aan te pak nie, maar Raubenheimer was vasberade. Jean, self ’n ervare Ironman-atleet, het deurentyd goeie raad gegee.

Dié uitmergelende skof van “Ironman” in ’n beperkte spasie het 1 580 draaie ingesluit.

“Hy sou my by tye maan om ’n bietjie stadiger te gaan, en dan het Leo my weer om die hoek van die huis met ’n bottel water ingewag, terwyl Jeanré vir my musiek gespeel het.”

Carlotte Raubenheimer se man, Jean, hardloop agter haar om haar te ondersteun in dié poging om die Ysterman in haar tuin te voltooi.Foto: Verskaf

Dié uitmergelende skof van “Ironman” in ’n beperkte spasie het 1 580 draaie ingesluit, het Jean bereken.

“Êrens tussen 25 en 35 km die marathon in,” vertel Jean, “gaan ’n mens ’n baie donker plek in, en dan is dinge nie meer snaaks nie. Juis tóé het sy my so in die hardloop herinner om vleis uit die vrieskas te haal vir Maandag se middagete,” sê hy laggend.

“Dit was letterlik en figuurlik ’n donker tyd,” beaam Raubenheimer. Ek kon nie meer op my Garmin-horlosie sien hoe ver ek nog het om te hardloop nie, en dit was nogal demoraliserend,” vertel sy. “Maar my vriende was fantasties. Vanuit hul eie inperking het hulle laat weet hulle hardloop 5 km of 10 km saam met my. En Jean het ook net stil agter my kom hardloop, en soms gevra of ek iets nodig het. Dit het my geweldig geïnspireer.

“Om 20:11, 13 uur en 11 minute nadat die wegspringskoot in haar kop afgegaan het, het sy klaargemaak op ’n pienk handdoek pleks van die rooi tapyt wat sy dubbel en dwars verdien het,” skryf Jean op sy Facebook-blad.

Hierna is sy deur Jean en die seuns verras, wat heeldag kort-kort in die huis in verdwyn het om stilletjies ’n “IronMOM”-trofee uit ’n roomysbak en plastiek-koeldrankbottel te prakseer wat ewe versier is met prentjies en woorde geknip uit Ironman-tydskrifte!

“Hulle het ’n formele oorhandigingseremonie vir my gehou, en ek dink dié trofee sal een van my kosbaarste besittings deur my lewe wees.”

Teen Woensdagaand het die telefoon nog nie ophou lui nadat die nuus oor Raubenheimer se merkwaardige Ironman-ervaring die wêreld bereik het nie.

Ironman-deelnemers wêreldwyd kom nou een ná die ander na vore met planne om Raubenheimer se inperking-Ironman na te doen.

Koerante en radiostasies bel een ná die ander, terwyl Ironman-deelnemers wêreldwyd nou een ná die ander na vore kom met planne om Raubenheimer se inperking-Ironman na te doen.

“Ons wil ons eintlik doodlag,” sê sy, “want ons het nooit Sondagoggend kon dink dat dié malligheid so wyd sou uitkring nie! Europese Ironman-atlete het intussen aangedui dat hulle ook ruimskoots tot die Back-A-Buddy-fonds wil bydra, en ons gaan die bykomende geld aanwend om die ander inwoners van die Cheshire-tehuis ook by te staan.”

Tog voel Raubenheimer dat Janse van Rensburg eintlik die held van die dag is. “Phillip laat nie toe dat sy inperkings hom onderkry nie. Hy is eintlik die een wat lewenslank in lockdown is. Om aan die Ironman te kan deelneem, is my manier om te vier dat ek kán, en omdat ek ’n gelowige mens is, glo ek dat niks hiervan ’n toevallige sameloop van omstandighede was nie.”

Sy stuur ’n foto van haar, Jean en die seuns wat tydens ’n oefensessie in Nature’s Valley geneem is. Balans, reken Raubenheimer, was vir haar belangriker as enigiets anders in haar voorbereiding. “ ’n Mens raak maklik opgeslurp in streng kompetisie, en dan bly jou gesin agterweë. Vir ons was die hele Ironman-ding iets wat ons as gesin saamgebind het.

“Charlotte is ’n merkwaardige mens,” sê Deidré Burger, bestuurder by die Cheshire-tehuis. “Sy’s ’n regte filantroop – ’n sorgsame, empatiese omgee-mens. As ons háár soort kon kloon, sou die wêreld ’n veel beter plek gewees het.”

Meer oor:  Korona  |  Covid 19-Virus  |  Covid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.