Dit is skoonheidskompetisies se glinsterende krone wat Yulienke Jacobs (14) as klein meisie geïnteresseer het. Toe kry dié gr. 8-leerling aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem sommer op haar verjaardag een en wen ’n betaalde oorsese reis!
Yulienke is Sondag in Roodepoort as die algehele wenner van die Miss International Princess RSA-kompetisie gekroon en sal die land aanstaande jaar in New York verteenwoordig.
Sy het die kroon in die ouderdomsgroep 13 tot 15 jaar gespan en is toe uit die kategoriewenners as die algehele wenner aangewys.
“Dit was ’n vreeslike groot verjaardaggeskenk,” sê die tiener.
Sy het ’n lang pad gekom sedert sy as sesjarige meisie daardie krone op televisie gesien en besluit het sy wil aan skoonheidskompetisies deelneem.

Yulienke Jacobs is Sondag as algehele wenner van die Miss International Princess RSA-kompetisie aangewys. Foto: Thys Oosthuizen/Miss International Princess RSA

Yulienke Jacobs Sondag ten tyde van die Miss International Princess RSA-kompetisie. .Foto: Thys Oosthuizen/Miss International Princess RSA

Yulienke Jacobs Foto: Leon Wolmarans/Six Chambers Photography
Ná haar eerste kompetisie was sy in trane, want sy was tiende, dalk 11de, en dus kroonloos.
Sy het egter nie tou opgegooi nie en baie oor die jare verbeter, onder meer met behulp van modelklasse.
Nou ding sy sommer in talle kompetisies mee.
“Dit is beslis die lekkerste om al die nuwe mense te ontmoet en nuwe vriende te maak. En die kompetisie – ek hou van gesonde kompetisie,” sê Yulienke.
So bou sy ook selfvertroue op.
Haar ouers, Jacolien en Philip, en haar suster, Dané, bars van trots. Gelukwensings stroom ook uit die gemeenskap in.
Die Mej. SA- en Mej. Heelal-titel lê ook in haar visier en sy hoop om eendag ’n Victoria’s Secret-model te wees.
Yulienke geniet tennis en die Voortrekkers en wil ’n beroep as veeartsverpleegster navolg.