Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
3008 bied ’n kragtoer, so-so enjin ten spyt

Soos Catherine Deneuve net ’n kwashaal oor haar lippe hoef te trek om Franse sjiek te versinnebeeld, het Peugeot dieselfde reggekry met sy 3008-sportnuts. 

Peugeot se 3008-reeks bied goeie waarde vir geld in ’n segment waar die Tiguan en RAV4 oorheers. Die topmodel-GT het veral ’n lieflike ontwerp.

Net ’n handvol jare ná sy bekendstelling in 2017 en die middelslag het ’n opknapping ondergaan. Klein, net so ’n regtrek hier en styfmaak daar. Maar kyk jy veral die topmodel, die GT, so skuins van voor af en die sonlig wil-wil al hensop, lyk hy soos ’n kat uit ’n Tarzan-boek. Atleties, fris, en met glimmende oë.

Ons toetsmodel was die GT, wat die Franse se volledige palet kreatiwiteit ontvang het. Kyk na daardie neus. Die hoofligte is nou sulke plat LED-eenhede. Ver op die hoeke sit lang, rapier-dun strepies LED-lampies. Vertikaal geposisioneer. Jip, dis ’n doelbewuste stilistiese element om sabeltand-tande te simboliseer.

Die laaste troef is die sierrooster, wat sier in dié geval letterlik opneem. Die rooster bestaan uit ’n miljoen en ’n bietjie chroomblokkies, van verskillende groottes en vorms, wat in ’n uitbultende patroon gerangskik is. Dit speel en kruip weg vir die lig. Soos ’n dolende golf wat uitdy en wegsink voor jou oë. Heel treffend, die spulletjie.

Raakgevat binne

Binnelangs het Jean-Pierre en die res van Baguette Internasionaal nog ’n paar goed beleë blokke gruyèrekaas gehap voor hulle aan die werk gespring het. Die stuurwiel is piering-groot. Jy kyk daar bo-oor na die digitale instrumente voor jou, en links is die digitale inligtingskerm.

Op die middelkonsole sit ’n stomp rathefboom, met so ’n vreemde vooroor-leunende posisie. En dan boog daaromheen ’n breë chroomstaaf wat swierig, verrassend en parabool-ingewikkeld in sy ontwerp lyk. As jy fyn kyk, sal jy ook die horisontale pennetjies onder die raakskerm sien, vir vinnige toegang tot gewilde nutsfunksies soos jou lugversorging of die volume. Natuurlik is dit nie al waarby die ontwerpers uitgekom het nie. Die GT se sitplekke (verhit, en ’n masseerfunksie) is met ’n rooi leer oorgetrek, en wys ’n spoggerige diamantpatroon-stikwerk.

Dis trouens die volgende stukkie lof vir die vyfsitplek-3008. Sy standaarditems is nogals lank. Jy kry sleutellose toegang, ’n aansitknop, ’n selfstopfunksie, outomatiese volgbeheer, trukamera, gonsers agter en voor, en kameras reg rondom wat help as jy sukkel om te parkeer. Wel, jy sal dit waardeer.

Oop pad

Onder die enjin het Peugeot egter nie veel getorring nie. Die 3008 draf steeds met die Franse groep se 1.6-liter-petrolturbo (121 kW, 240 Nm), met kraglewering wat so-so is. Die sesgang- outomatiese ratkas glip soepel tussen die ratte, maar vir ’n groot sportnuts sou ’n 2.0-liter-turbo beter werk. Die rit self is sag en knus in die mooi, stil kajuit.

Afsaal

Daar is baie dinge wat in die 3008 se guns tel. Waarvan ons die meeste hou, is benewens die vars en unieke voorkoms, en die slim uitleg van die kajuit, die lang lys standaarditems. Die Tiguan en RAV4 is die gewildstes, maar met die Fransman het jy werklik ’n eiesoortige pakket.

Prys: Peugeot 3008 GT – R644 900.

Meer oor:  Motors  |  Peugeot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.