Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek
Ford vuur ’n donderbus af
Veeldoelers is seker die mees onderskatte voertuie op die pad. Nou’t Ford ’n kompakte bussie in die vorm van hul Tourneo Connect op onse oewers losgelaat. Wat meer sou jy wou hê, wonder Egmont Sippel.
Die kompakte maar ruim Ford Tourneo Connect bied alles wat jy in ’n voertuig kan begeer, insluitend betreklik maklike parkeerwerk. Kyk ook net die dakkassies en -rakkies vir lekker pak- en stoorplek. En let op hoe die voorste syvensters vir &rs

Wat is dit wat so bekorend omtrent voertuie soos Hyundai se H-1 of Volkswagen se Kombi/Cara­velle/Transporter-reeks en die groot Ford Tourneo Custom is?

Wel, as veeldoelbussies – of veeldoelbusse – is volume en ruimte die basis van hul wonderlike funksionaliteit, maar einste is dit ook eienskappe wat hulle moeilik maak om te parkeer.

Hoekom oorrompel hulle ’n mens dan so as jy hulle eers bestuur het, ten spyte van parkeermoleste?

Karakter. Dis hoekom.

Op ’n dieperliggende vlak, ágter die ­volume en ruimte, is hulle eerlike, on­pretensieuse voertuie. Hulle is wat hulle is.

Dis soos braaivleis in die veld versus kreef by Sun City.

In die geval van dieselweergawes is dit byvoorbeeld opvallend hoe maklik jy deurentyd op ’n golf van rustige wring laag in die toerstrek ry. Maar selfs in petrolgedaante doen die H-1 alles wat dit moet; die Kombi en Torneo Custom bied net oliebranders.

Ontspan dus as jy ’n veeldoelbus wil ry maar teen sukkelparkeer opsien, want daar ís ’n oplossing in kompakte vorm: die Ford Tourneo Connect.

Sy stamboom begin by die legendariese Ford Transit-paneelwa, wat op sy beurt die kleiner Transit Connect gebaar het. Vul nou die Transit en Transit Connect se sypanele met vensters en monteer ekstra rye sitplekke in die agterruim en jy kry die Tourneo (deesdae bekend as die Tourneo Custom) en sy bababoetie, die Tourneo Connect.

Dit nou as passasiersweergawes van die Transit Custom en Transit Connect.

En mensig, is die Tourneo Connect nou ’n lekker waentjie – of, ja, bussie – met meeste van die groter Custom se voor­dele, maar sonder die parkeernadele.

Die 5-sitplek-Connect – met 1.0F-petrolkrag – meet van buffer tot buffer net-net meer as 4.4 meter, terwyl die 7-sitplek-Connect, genaamd Grand – met 1.6F-dieselkrag – net-net meer as 4.8 m rek. Albei voertuie is egter 1.835 m wyd en 1.852 m hoog.

Laasgenoemde is slegte nuus vir die Connect se sleurfaktor, maar goeie nuus vir kajuitruimte solank jou verwagtinge realisties bly. Die Beast en Bismarck en Jannie du Plessis gaan jy nie agter inprop, as Eben en Lood klaar voor ingeslot is nie. Die Connect is te klein vir die Bokke se vaste vyf.

Maar ’n gewone gesinnetjie gaan inpas – en inpak.

Want hel, daar’s baie plek in hierdie kannetjie. Die dak troon ’n goeie 264 mm hoër as byvoorbeeld die VW Golf SV s’n. SV, vir dié wat nie weet nie, staan vir “Sportsvan”; dis die Golf-reeks se veeldoeler, of ’n Golf-bussie, as jy wil.

Ford Tourneo Connect
Ford Tourneo Connect
Ford Tourneo Connect
Ford Tourneo Connect
Ry hierdie outjie nou lekker. Een rede is dat Ford nie iets van hom probeer maak wat hy nie is nie.

Dit net om te wys hoeveel te meer die Tourneo Connect op die veeldoelminibus-benaming aanspraak kan maak; Lood en Victor kan hul lynstaanspronge in sy agterruim oefen, die dakkie is hoog genoeg.

’n Onnodige vermorsing van ruimte na bowe?

Allawêreld, nee. Agterlangs word die ekstra kopruimte juis vir ingeboude dakkassies gebruik, baie soos dié wat jy op ’n vliegtuig vind, bó die sitplekke.

In die Connect se voorkajuit vind jy op dieselfde plek weer oop dakrakke, sodat dinge maklik gestoor en uitgehaal kan word, sommer so in die ry.

En ry hy nou lekker, hierdie outjie. Een goeie rede is dat Ford nie iets van die Connect probeer maak wat hy nie is nie. Derhalwe kussing hy op 16”-wiele met 60-profiele, eerder as die 45-lae bandprofiele waarop ’n stylbuksie soos die Kia Soul voortstamp.

Nes Ford nie skaam was om einste bandprofiele ordentlik te rek nie, was hulle ewe gewillig om die Connect se venstermates met ’n lekker lae skouerlyn te verdiep. Die eindresultaat van sulke enorme glas-areas is wonderlike kajuitlig en ewe goeie paduitsig (plus twee ekstra-diep voorste sonskerms).

Syspieëls is ook in twee gedeel om twee verskillende hoeke te bied, waarvan een die sogenaamde blindekol dek.

En feitlik as ’n verrassing het Ford ’n basiese voertuig soos die Connect met ’n drywersvoetrus toegerus; ’n item wat vir baie jare selfs op die Blou Ovaal se pre­mium produkte afwesig was. Miskien het Rapport Beleef se voltydse gekla hieroor gehelp, ha-ha.

Ander toerusting wat mens verbaas op ’n reeks wat drie afwerkingsvlakke op sowel die 5- as 7-sitplekker bied, is Ford SYNC, ’n ritrekenaar en infoskerm, radio- en CD-klank plus USB, Bluetooth, stuurwielkontroles, kruisbeheer, parkeersensors en ’n trukamera.

Nie alle geriefsitems is standaard nie, maar wat veiligheid betref, het Ford ingepak: Twee voorste lugsakke en onderskeidelik twee en vier sysakke vir die kort- en langasafstandmodelle, ABS-remme met traksiebeheer en EBD-remdrukverspreiding asook ESP-stabiliteit en EBA-noodremhulp, plus ander elektroniese hulpmiddels soos ’n ROM-voertuigrolwerende stelsel, HLA-heuwelwegtrekhulp, TVC-wringverspreiding, afstandbeheerde sentrale sluit en ’n alarm is alles standaard, op al vier Tourneo Connect-variante.

Dit nou alles voordat ons – buiten ruimte – by die bussie, en spesifiek die 5-sitplekweergawe, se twee hoogtepunte kom: die enjin en agterste glydeure aan albei kante.

Laasgenoemde is besonder nuttig in smal parkeerareas, terwyl die korter Connect gedryf word deur Ford se fantastiese klein 3-silinder-turbotjie van 998 cc (met direkte petrolinspuiting asook staan/gaan-tegnologie as standaard).

Saam met ’n heel gemaklike 6-ganghandratkas beperk hierdie oondjie (74 kW, 170 Nm) die Connect Ambiente en Trend se verbruik en uitlate onderskeidelik tot 5.6 liter/100 km en 129 g CO2/km.

En dis nie verniet dat die Blou Ovaal se 1.0F-EcoBoost-enjin die enigste bron sover is wat die Internasionale Enjin van die Jaar-prys al drie keer gewen het nie; hy sleep die Connect met gemak rond.

Voeg hierby ’n lekker elektries ondersteunde kragstuur, en saam met die bussie se goeie rit en hope ruimte sorg die enjin vir ’n fantastiese pakket, as eerlike vervoer en funksionele veelsydigheid jou ding is.

Die Connect bied gesinswiele, piekniekwiele, werk-toe-en-terugwiele, winkel-en-kruidenierswiele, nuttigheidswiele (jy kan olifante inlaai as jy die stoele platslaan) en uitstekende pret­wiele as jy balle, branderplanke of bergklimtoerusting wil saamry.

Én hy’s ’n ideale skool-, vloot- of sakebussie.

Wat meer wil – of kan – jy uit ’n enkele voertuig tap?

Die soort wiele wat jou in tien sekondes Sun City toe kan woerts, vir koue kreef onder flikkerende neonligte, met die geldklingel van dobbelmasjiene in die agtergrond?

Nee wat, jong. ’n Veldbraaitjie het ook sy plek.

Nes die Connect.

Pryse: Ford Tourneo Connect – rondom R280 000; Ford Gand Tourneo Connect – rondom R365 000. Dienste op petrolmodelle elke 20 000 km, op diesels elke 15 000 km. Padbystand strek vir 3 jaar en waarborge vir 4 jr/120 000 km (5 jaar vir roes) terwyl die diensplanne 60 000 km dek.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.