Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
RY-INDRUK
Robuustheid teen ’n prys
Ford se Grand Tourneo Connect 1.6T Titanium.

 Om meer as R350 000 vir ’n omgeboude paneelwa uit haal, klink na pure lawwigheid. Selfs R270 000 vir die goedkoopste Ford Tourneo Connect klink half rof.

Laat ons eerlik wees – watter nuwe kar se prys grens nie aan lawwigheid nie?

Om die Ford Tourneo Connect en soortgelykes soos die VW Caddy en Fiat Doblo te systap bloot oor hul paneelwa-DNS en prys, sal ’n fout wees.

Ons het pas Ford se Grand Tourneo Connect 1.6T Titanium outo getoets, die tweede duurste een in die reeks.

Oorsprong

Soos reeds genoem, het dié klas rygoed hul oorsprong by Europese paneelwaens.

Ford en Volkswagen se rygoed is met kort- en langasafstande hier beskikbaar wat ’n derde ry sitplekke moontlik maak om tot sewe mense te kan vervoer.

Die dak is hoog met pakplek vir losgoed wat wissel van rakkies in die dak tot pakuimtes op byna elke ander denkbare plek in die voertuig.

Die afwerking (plastieke, matte, handvatsels, ens) is soms aan die ruwe kant, want dit is eerstens ontwerp vir swaardiens in paneelwaens wat nie deur hul gebruikers gespaar word nie.

Skuifdeure wat oorspronklik in paneelwaens gebruik word vir die gerief van vraglaai, het ook ’n positiewe waarde vir passasiers in die veeldoeler. Dink veral in parkeerplekke as kinders moet in- en uitklim. Die duur Beemer langs jou is veilig van ’n kind wat ’n deur dalk te vinnig en te ver oopswaai.

Om dit ’n ware veeldoeler te maak, spring daar ’n klompie geriefsitems en veiligheidstoerusting in die paneelwa in. Dit maak die voertuig net so luuks soos enige moderne veeldoeler of stasiewa.

Wat word verdoesel?

As jy in die Connect klim, word baie van die oorspronklike paneelwa-elemente goed verdoesel.

Eerstens begroet ’n baie luukse voorpaneel jou wat netsowel uit die vlagskip Fiesta of ’n Focus kan kom.

Van ’n stabiliteitsprogram tot ’n kommunikasiestelsel wat selfs met stemopdragte werk, is daar vir jou gerief. Veral in die Titanium-model wil ek amper sê: Dink aan ’n luukse, en dis daar.

Die afwerking is goed, veral waar van die oorspronklike paneelwa-toerusting ontslae geraak is vir ’n meer duursame voorkoms.

Heerlike sitplekke, wat lekker laag sit, amper soos in ’n sedan.

Dan was daar onder die enjinkap in dié geval, Ford se 1600 turbopetrolenjin met ’n stewige 110 kW en 240 NM se wringkrag.

Om die kroon te span, is daar Ford se dubbelkoppelaar-ratkas met ses gange wat seepglad gewerk het.

Die ander passasiers het meer as genoeg spasie met die tweede ry sitplekke wat op verskillende maniere kan skuif. Selfs die twee mense wat heel agter sit, sal nie te ongemaklik wees nie.

Draai die sleutel, gee vet en die Connect loop dat dit klap, hy draai lekker, is heel vas op die pad en alles is dooddollies. Werklik?

Wat word nie verdoesel nie?

Wel, as jy inklim en jy kyk mooi, is die oorblyfsels van die paneelwa op vele plekke te sien in die dakrakkies en die afwerking van binnepanele veral verder na agter in die voertuig om maar net enkele voorbeelde te noem. Nie noodwendig sleg nie, maar hoe duurder jy betaal het, hoe minder opgewonde maak die gedagte jou dat jy eintlik net ’n paneelwa ry.

Die baie spasie binne is ’n positiewe, maar as die waentjie van buite af bekyk word met sy onmiskenbare paneelwaromp, frons jy. Veral as vier uit vyf mense reken dis ’n minder mooi ryding, word jou ego geraak . . .

Hier en daar ’n ratelgeluid, bietjie meer windlawaai en meganiese klanke vertel jou ook dié Fordjie is geen B-, C- of S Max (Ford se moderne veeldoelers oorsee nie). Jip, Ford het ’n hele alfabet vol moderne veeldoelers.

Net soos ’n VW Caddy jou ook gou laat agterkom dat Volkswagen se Touran-veeldoeler darem in ’n hele ander klas as die Caddy is.

Halwe waarhede

’n Mens sou nie eerlik wees as jy die Ford Tourneo Connect of ander soortgelyke voertuie heeltyd kritiseer oor hul paneelwa-DNS nie.

Jy weet mos wat jy koop en baie mense sal juis dié funksionaliteit, robuustheid en onopgesmuktheid waardeer. Dit wat dit is.

Die praktiese aard, veral van die langlyf Connect, kan nie onderskat word nie. Die graad van sofistikasie en die voorkoms kan dalk vir sommiges te erg wees. Ek dink die voertuie is almal ’n raps te duur veral in die lig van die moderner veeldoelers waarvan Ford s’n hopelik ook vanjaar hierheen kom.

Hoe hulle lyk, kan die wenkbroue lig, maar oor hoe hulle doen, veral die Ford Tourneo Connect, kan daar net ’n glimlag op jou gesig wees. Ek dink die dieselmodel is die beter opsie wat ekonomie betref, om nie te praat van die bietjie ekstra wringkrag se hulp as jy ’n vrag in het nie.

 7 uit 10

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.