Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Tot stof opskop keer hulle terug
Petrolkoppe van oor die land trek jaarliks in September in die Kalahari saam. Om te jaag. Waar niemand jou voorkeer nie, net aanpor.

Êrens in die Bybel staan jy sal tot stof terugkeer. Die afgelope drie jaar keer honderde mans en vroue terug stof toe wanneer hulle die Kalahari Desert Speedweek op Hakskeenpan in die Noord-Kaap bywoon.

“Petrolkoppe,  ons almal,” sê Jan Els, hoofindoena van Speedweek, en steek sy hand uit om ons welkom te heet.

Dis al sterk skemer toe ons op die reuse-pan, 60 000 ha groot, aankom. Daar is genoeg lig om te sien doer aan die westelike gesigseinder skop iemand lelik stof op. ’n Enjin brul in dieselfde omgewing.

“Die manne speel ’n bietjie,” verduidelik Jan.

“Man, dit was eers net vir ’n paar vriende en ons sou dit op Verneukpan gehou het,” sê hy.

“Toe maak ons die fout om ’n webwerf te maak. Toe’s daar geen keer nie.”

Volgende jaar word die eerste toetsritte van die Bloodhound, wat die wêreldlandspoedrekord wil verbeter, hier gehou.

“Petrolkoppe”, soos hulle hulself noem, is ’n unieke spesie.

Ben (52) en Judy (45) van Niekerk van Welkom is in Augustus getroud en het nog nie kans gehad om wittebrood te hou nie.

“Toe kom ons pan toe,” beduie Ben. “Die stilte hier . . . dis great stuff . . . hier is niks om te doen nie behalwe om alleen, saam te wees. In die stilte.”

Die stofstorms en hitte het nie hom óf sy nuwe vrou gepla nie.

“Ons kom volgende jaar weer. Dié keer sal ons met ’n karavaan kom. Die tent is te warm,” sê ­Judy terwyl sy in haar bikini-top in die son baai – haar kop in die koelte van die Isuzu-bakkie waarmee sy en Ben gekom het.

Hulle is mense wat gek is oor oefen en sodra die son sy kop uitsteek, draf die twee pasgetroudes op die pan rond.

“Ek is mál oor bikes,” begin Ben vertel, maar word onderbreek deur Judy.

“Hy het tien bikes. Tien!

Hy het tien bikes. Tien! Dit staan in ons ‘babakamer’. Die kamer is netjieser as die res van die huis. Vra hom hoe lank vat hy om een bike te was

“Dit staan in ons ‘babakamer’. Die kamer is netjieser as die res van die huis. Vra hom hoe lank vat hy om een bike te was.”

Dit lyk of Ben wil-wil verleë raak. “Drie weke op ’n bike, maar jy moet onthou ek strip basically die bike. Ek haal hom heeltemal uitmekaar, was en maak skoon en sit hom dan weer aanmekaar.”

Hy het al 300 km/h gedoen op een van hulle, maar hy is te heilig op sy fietse om hulle Hakskeenpan toe te bring.

Gavin Russell van Durban is allesbehalwe heilig op sý groen monster, ’n Kawasaki ZX-14 met 225 perdekrag, waarmee hy al gemaklik 333 km/h op ’n teerpad gehaal het.

Verlede jaar op Hakskeenpan het hy 292 km/h gehaal en vanjaar wil hy 300 km/h hê – hy het nie verniet die net minder as 1 500 km van Durban tot agter in die Kalahari afgelê nie.

Die baan is 5 km lank en by die eindstreep sit Willem Louw, oorspronklik van dié geweste, maar deesdae ’n Gautenger, met ’n spoedkamera.

“Ek het spesiaal 10 kg verloor vir Speedweek. Ek moet 300 haal, maar dis moeilik so op die pan se los, poeieragtige sand,” sê Gavin en trek sy handskoene aan.

Hy beduie jy “ry” nie die gevaarte teen so ’n hoë spoed nie.

Jy float net. “Jy konsentreer net om die package daar te kry. Jy ry met jou lyf. Nee, jy ry nie, jy vóél hom. Jy swaai nie uit nie, jy briek nie, niks.

“Nou en dan maak jy net jou been so effens oop vir die wind om deur te gaan. Jy voel alles in jou hande, jou boude . . . dis net jy, die wêreld vergaan.”

Dis ’n helse stofstreep toe Gavin wegtrek. Sy vrou, Debra, klim uit ’n bakkie en byt haar onderlip vas. Dis 5 km en enkele sekondes se bid vir haar.

Sy draai haar kop skuins om te hoor of Gavin se fiets nog dreun, want hy’t lankal uit die gesigsveld verdwyn.

Die blou blits, ’n BMW M3, is eintlik wit, maar om hom teen die sand, klippe en son te beskerm, het sy eienaar, Cassie le Roux van Witbank, hom met ’n blou rubberagtige omhulsel gespuit.
Dié ou Volkswagen-kewer behoort aan Art Viljoen, ’n grafiese ontwerper van Johannesburg. Op die dakrak is ’n stokou koffer en ’n branderplank. Foto's: Verskaf

“Ek het geleer om daarmee saam te leef,” antwoord sy as jy haar vra of sy bekommerd is.

“My hare word grys, maar ek wys dit nie. Ek kleur dit,” probeer sy senuweeagtig ’n grappie maak.By die 4 km-merk roep een van die baanbeamptes oor die radio: “Vier verby. Die man is woelig!”

Die motorfiets se gedreun is stil. Krakerig kom Willem se stem oor die tweerigtingradio. “One-eighty-seven,” sê hy twee keer.

Terug by die wegspring vertel Gavin dat die baan so sleg is, dit lyk soos ’n aartappelland.

“Dit was bloody scary! Ek kon nie uit vierde rat kom nie!”

Die teleurstelling is duidelik op sy gesig, maar hy gaan weer en weer probeer. Daardie 300 km/h is nie onmoontlik nie.

Nóg ’n Durbaniet, Greg Parton, het sy Lamborghini Aventador heelpad op ’n sleepwa laat aanry om sy vorige beste, 308 km/h in 2012, te probeer verbeter.

“Net om daai Lambo te laat skoonmaak van al die stof ná die tyd, kos duisende,” word daar geskinder in die reuse-markiestent waar die etes bedien word.

Maar ook Greg word teleurgestel toe hy sy wit blits nie vinniger as 270 km/h kon stoot nie.

Hy sê ook die pan is vanjaar te sanderig.

Frikkie Viljoen van Ladysmith in KwaZulu-Natal se “Rat Rod” is ongetwyfeld die ryding wat die meeste aandag trek. As hy dié morsige, monsteragtige enjin rev, spat die vonke letterlik.

Die bakwerk van die Rat Rod is dié van ’n 1959-Morris en die enjin dié van ’n Ford Fairlane.

Voordat Frikkie wegtrek om sy rot se vermoëns te toets, trek hy sy plakkies uit, rol sy klinknaelbroek se pype op, en trek ’n paar bloedrooi All Star-tekkies aan.

Met sy blink sonbril en ’n bofbalpet wat verkeerd-om op sy kop sit, trek hy weg. Die enjin brul en sluk oorverdowend. Hy spu weer vuur voordat hy in ’n stofwolk verdwyn.

Hy haal uiteindelik ’n indrukwekkende 161 km/h.

Wanneer die gedreun, gesluk en gespoeg van enjins stil raak, die sterre knipoog en jy die stof van jou lyf afwas voordat jy doodmoeg in jou tent neerval om te slaap, voel dit of jy tot stof teruggekeer het. Net om môre te besef daar is nóg stof om op te skop.

Die ’41-Chevvy behoort aan Eugene Bezuidenhoudt van Pretoria.
Jan Els, die groot indoena van die Kalahari Desert Speedweek op Hak-skeen­pan, 250 km noord van Upington. Els was ook lank motorjoernalis. Ná sy aftrede het hy die Speedweek begin.
Alles het nie net oor spoed gegaan nie, maar lang ente vir die plesier is ook op die reuse-pan gery. Foto: VERSKAF
Dié Chevrolet Lumina SS, met die nommerplaat Kiss my SS, het min blaaskans gehad. Sy eienaar, Grant Ensor-Smith van Witbank, kán bestuur en stof maak. “ ’n Warm kop”, noem hy homself.
Oom Hendrik en tannie Gertruida Bot en hul span, van die plaaslike mense in die distrik, het elke aand watertandgeregte vir al die “petrolkoppe” voorgesit. Die meeste kos is op ’n vuur gemaak.
UIt dié tente jaag die Kalahari-son jou vroeg uit die vere. Foto: verskaf
Die groen monster op die voorgrond behoort aan Gavin Russell van Durban. Dié Kawasaki Ninja met sy 225 perdekrag-enjin wag sy beurt saam met drie Triumph-motorfietse af om stof op te skop.
Die “pit”. Nadat daar gejaag is, word elke voertuig eers weer versien om te kyk of daar nie nog méér vuur in hom steek nie. Foto’s: verskaf
Pa en dogter deel albei ’n passie vir morsige, maar mooi motors. Oom Frikkie Viljoen en sy dogter, Jessica Conradie, by die Rat Rod wat vuur spuug, al die pad van Ladysmith.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.