Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
A, dis mos nou (nuwe) klas

Die suksesgolf van Stuttgart rol steeds net voort, met die A-klas wat die jongste is om baat te vind by Mercedes se groot beleggings in tegnologie en gehalte-afwerkings.

Die maatskappy het Vrydag sy vierde A-klas bekend gestel, die tweede geslag wat met sy kompakte luikrugvoorkoms rondrits.

Mercedes se vierde A-klas – nou heelwat groter – het pas sy buiging gemaak en lyk nou nog sportiewer as sy netjiese voorganger.

Die eerste twee A-klasse was lomp hoëdak-voertuie met ’n kort asafstand. Dit was die dae toe die klein veeldoeler groot nuus was (onthou die eerste Renault Scenic?).

Sedert Mercedes egter begin het om die A-klas meer na ’n tradisionele luikrug soos die VW Golf te laat lyk, het hy dadelik sukses op die verkoopsvloere gesmaak.

Die nuweling wyk nie veel in sy voorkoms af van die huidige model nie. Gorden Wagener en sy span ontwerpers het die lae dak behou, asook die langerige neus.

Die A-klas het wel ekstra lyf bygekry. Die asafstand het gerek, terwyl die wiele nou ook 7 cm breër staan.

Hierdie langer en breër lyf beteken natuurlik dat daar nou meer binneruimte is: Skouerruimte voor is groter, terwyl die knieruimte agter ook met ’n sentimeter of wat gegroei het. En teen 370 liter is die laairuim nou ook 29 liter groter as sy voorganger s’n, sê Stuttgart.

Die kajuit – alle modelle – lyk treffend en modern en bied die gevoel of dit net so uit ’n nuwe S-klas gelig is.

Voorlopig is daar drie modelle op die oorsese mark: die A200 met ’n 1.4-liter-turbo (120 kW, 250 Nm), die A250 met ’n 2.0-liter-turbo (165 kW, 350 Nm), en die A180d met ’n 1.5-liter-turbodiesel (85 kW, 260 Nm).

Almal sal met ’n sewegang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaartipe) toegerus wees, maar ’n sesgang-handrat is wel op sommige intreemodelle te vind. Krag gaan na die voorwiele, hoewel 4x4-vastrap vir topmodelle in die Europese lande gebied sal word.

Terwyl Mercedes ’n versigtige, veilige sprong met die voorkoms van die nuwe A-klas gegee het (kennelik was die woorde “Moenie torring aan iets wat werk nie” groot op ’n kennisgewing geskryf), het die ontwerpers ’n paaldans uitgevoer met die binneruim.

Die kajuit – alle modelle – lyk treffend en modern en bied die gevoel of dit net so uit ’n nuwe S-klas gelig is. Materiale lyk duursaam, paslyne sit styf teenmekaar en kleurskakerings sorg vir ’n byderwetse voorkoms.

Die nuwe A-klas sal later die jaar na Suid-Afrika kom, waarna pryse bekend gemaak sal word.

Die dramatiese nuwigheid is natuurlik dat weggedoen is met ’n tradisionele instrumentpaneel voor die bestuurder. Inderdaad, pleks van die gewone instrumenthuls is daar nou slegs ’n breë paneel inligtingskerms voor jou – boonop met sy eie naam: MBUX (Mercedes-Benz User Experience).

Die twee skerms sit in een huls, wat van voor die bestuurder tot in die middel van die paneel strek. Dit lyk ook asof dit in die lug sweef, synde dit net aan die basis aan die instrumentpaneel vasgemaak is.

Drie opsies word aan kopers gebied: Die goedkoopste is twee klein inligtingskerms binne die groot huls; daarna ’n klein skerm voor die bestuurder en ’n groot skerm in die middel; en laastens twee groot skerms in die huls.

Die stelsel gaan egter nog verder. Behalwe dat dit futuristies lyk, beskik dit ook oor gevorderde kunsmatige intelligensie. Die stelsel kan dus met stembevele (beginnende met die woorde “Hei, Mercedes,”) gevra word om versoeke uit te voer. “Hei, Mercedes, ek kry warm,” waarna die motor sy lugversorger sal koeler stel. Of jy kan sê “Hei, Mercedes, ek is honger,” waarna jou satnavstelsel al die naaste restaurante sal aantoon.

Die stuurwiel het ook ’n raakoppervlak waarmee jy met vee­bewegings van die vingerpunt tussen keuses op die ritrekenaar kan wissel.

Om die gehalte-gevoel te verhoog, maak Mercedes gebruik van houtpanele en dun repies LED-beligting wat in 64 verskillende kleure verstel kan word.

Die nuwe A-klas sal later die jaar na Suid-Afrika kom, waarna pryse bekend gemaak sal word.

Meer oor:  Mercedes Benz  |  Tegnologie  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.