Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Adellik: Audi se A7 Sportback 55

Foto: Egmont Sippel
Fyner, stiller en meer gesofistikeerd as Audi se A7 Sportback 55 vind mens net in jou verbeelding. Egmont Sippel het die werklikheid ervaar.

Ons boere. Dikwels laaik ons dit maar rof en onbeskof.

Bier. Brannas. Braaivleis.

Bosveld. Bakkies. Blou Bulle. Boeretroos. En nog so ’n paar ander dinge, wat soms two-tone-hemde insluit en darem so bietjie Beatles en Beach Boys ook, vir die ouer garde.

Maar ons dek nie sommer die palet van Herman van Veen se weggooiliedjie getiteld “In Appreciation” nie. Dis ’n oulike, ongekende kleintjie in ’n eensame hoekie van die Van Veen-oeuvre, maar dis een van sy allerbeste.

Die liedjie is net ’n lys name – “Jacques Brel, Piaf, John, Ringo, George, Clapton, Callas, Picasso, Brahms, Rémi Martin, Brigitte Bardot, Charlie Chaplin, Rin Tin Tin, Kuifje . . .” – voordat die Hollander afsluit met “ . . . and Suzie Wong / she too, inspired me / to sing this song”.

Dankie, seg Van Veen aan elk van die genoemdes op ’n lys van amper 100. Dis ’n gedenkfees van die grotes, ’n kulturele stelling op ’n intieme vlak, ten beste te geniet oor ’n glasie goeie cabernet sauvignon of chenin blanc, met ’n Audi A7 op die agtergrond geparkeer.

Twee Beiers

Soveel jare as wat Nelson Mandela tronkgebonde was, soveel jare gelede het een van die motordom se belangrikste skuiwe plaasgevind. In 1993 het Ferdinand Karl Piëch die indoenastoel by ’n amperse bankrot Volkswagen betrek.

Teen daai tyd het Piëch reeds sy merk by Porsche en Audi gemaak. Maar die VW-revolusie wat sou volg het die motorlandskap onherroepelik verander.

Aan die een kant is top-bougehalte en aggressiewe platform- en parte-deling as een van Piëch se meestersuksesse beskou. Aan die ander kant, seg kritici, het die goeie doktor hom hopeloos misgis toe hy VW teen Mercedes wou posisioneer, en Audi teen BMW.

Piëch se weelde-VW, die Phaeton (as mededinger vir Benz se S-klas) het byvoorbeeld misluk, terwyl Audi’s nooit die soete dinamika van BMW’s kon ewenaar nie, hoofsaaklik weens voorwielgedrewe versus agterwielgedrewe motorargitektuur.

Die Beiere se ander ooglopende voordeel was ’n manjifieke reguitses-enjin: glad, kragtig, gesofistikeerd en verfynd verby.

En nou mag jy met reg vra: Wie is “die Beiere” waarna verwys word?

In die verlede was die verwysing, asook beskrywings soos “ ’n manjifieke 3.0-liter-sessilinder wat glad, gesofistikeerd, verfynd en kragtig is” altyd sino­niem met BMW.

Dit is steeds.

Maar dis nie meer eksklusief tot BMW nie.

Ingolstadt is óók in Beiere. Ingolstadt bou óók nou ’n manjifieke 3.0-liter-ses­silinder, wel met ’n V- eerder as ’n inlyn-uitleg. En Ingolstadt lewer óók nou motors met puik dinamiese vermoëns.

Dames en here, ontmoet die Audi A7 Sportback 55 TFSI quattro S-tronic met S-line-afwerking.

Interior

Ontwerp

Praat van verfynd en jy sal dalk Mulderbosch se chenin blanc of Uva Mira se chardonnay uit ’n Baccarat-kristalglas moet drink om die A7 Sportback te troef.

Dis ’n hoogs indrukwekkende motor in die idioom van Mercedes se CLS-vierdeurkoepee, ’n voertuigvorm wat in 2003 as die Vision CLS-konsep op die Frankfurtse motorskou gebuig het. Dit was net mooi die prikkel wat Benz nodig had om – op sedanvlak – van die driepuntster se oumansbeeld ontslae te raak.

Die CLS was op die stoere E-klas gemodelleer, maar met 10% vinniger stuurwerk, 10% fermer vering en ’n opwindender visuele karakter, buite én binne.

As vierdeurkoepee met vier skottelsitplekke verrig die A7 Sportback presies dieselfde taak vir Audi. Hy dryf boonop deur al vier wiele. Hy weeg amper twee ton. Hy’s lank, groot en plat – gemaklik twee vingerdiktes laer as ’n VW Golf (1,422 mm vs. 1,456 mm) – en hy rol op 255 mm breë 21-duim-Bridgestone Turanzas met ’n 35-profiel.

Die neus lê laag, soos ’n kat wat bekruip, maar ook breed, soos ’n masjien wat storm. Ligte vloei van kant tot kant oor die luikstert en as jy die motor sluit of ontsluit, lewer hulle ’n vertoning soos Guy Fawkes laas by Londen se House of Lords wou ontketen.

Binnelangs oorheers twee groot skerms – een vir infovermaak, die ander vir instrumente; albei vir navigasie – asook ’n derde, laer geplaasde eenheid waarop jy die klimaat kan beheer of aanwysings skryf; die A7-kajuit het een enkele draaiknop en dis dit. Die res word via skrif, stem en aanraking hanteer – met laasgenoemde wat ’n stewige vingerdruk vereis.

Dis jammer, want dis één A7-element wat nie super-verfynd is nie. Só ook kopruimte in die agterkajuit.

Ruimte is weelde en hoewel die nuwe motor ekstra millimeters tussen die twee aste uit VW/Audi se skitterende MLB-platform rek – en die agterkajuit dus goeie knie- en voetruimte bied – word kopruimte deur die koepeerug geknyp.

Wat selfs erger beperk word, tot waar hulle uit sig verdwyn, is die uitlaatpype. Mens sou reken dat ’n kar soos dié – wat 250 kW/500 Nm na al vier hoeke pomp om gemaklik in minder as 7 sekondes tot 100 km/h te versnel en wat van daar in net 36 m weer tot stilstand kom – dat só ’n kar sy krag en spoed via twee gróót uitlaatpype sal adverteer.

Toe nie. As jy wyn uit kristal drink, is jy nie veronderstel om van die nederwêreld bewus te wees nie.

Die A7 versteek sy uitlaatpype ten volle. Selfs die motor se pens, as jy onder hom inskuif, is skoon en plat soos ’n pannekoek.

Agter die stuur
Interior

Nog iets wat feitlik ten volle uit die vergelyking verdwyn is meganiese en dinamiese geluide. Wind-, veer-, enjin- en bandgeraas word uitsonderlik goed onderdruk.

Jy hoor die voor-as se buitenste Turanza as die A7 hard deur draaie looi, maar origens is die 55 feitlik so stil soos ’n elektriese wa.

Inderwaarheid gebruik die 3.0-liter-V6-turbo – wat via ’n gladde, vinnige, verfynde sewespoed-dubbelkoppelaarkas na al vier wiele dryf – ook ’n 48 V-mikrohibriedstelsel, wat onder meer die litium­ioonbattery tydens remwerk met 12 kW optop, terwyl die enjin tussen 55 km/h en 160 km/h kan deaktiveer sodat die A7 vry loop.

Verbruik is derhalwe minder as wat mens sou dink, in die orde van 9 liter/100 km as jy mooi ry.

Maar jy kan laat waai ook. Versnelling is moeiteloos, van die lyn af en vir verbysteek, terwyl die afbreek van spoed ewe indrukwekkend is. Die A7 is voorts die eerste Audi met sinvolle stuurbelading in Sportmodus sedert EPS (electric power steering) in 2008 se A4 gebuig het.

Daarby lewer die uiterse fyn gekalibreerde petrolpedaal goeie terugvoer sodat mens stadig maar beheersd vorentoe of agtertoe kan kruip as jy parkeer.

Tot bitter onlangs had Mercedes, as voorbeeld, die probleem dat daar vir ’n wyle geen reaksie op die pedaal was as die motor op ongelyke grond moes wegtrek nie, en dan – skielik – effe te veel.

Die A7-ritgehalte op lugvere (as R35 000-opsie) is ook puik en laat boonop vyf hoogteverstellings toe. Meganies en dinamies skitter die 55 dus. Só ook wat ontwerp en bougehalte betref.

As ’n uiters verfynde pakket wat ’n noem in Van Veen se volgende weergawe van “In Appreciation” verdien, en as ’n vierwielgedrewe wa wat soos ’n sluipbomwerper vlieg, het die A7 Ingolstadt se twee vernaamste Duitse teenstanders feitlik in elke faset van die motorwese getroef. Ditto wat die VW Touareg betref; hy’s ook baas van sy spesifieke motorplaas.

Amper 20 jaar later is die Piëch-visie dus voltrek.

VW en Audi veg aan die bopunt van die weeldeleer. Die A7 is Baccarat, eerder as bier, brannas en braaivleis.

Sy bloed is blosend blou.

Die “A” staan straks nog vir adel.

  • Prys: Audi A7 Sportback 55 TFSI quattro – R1,3 miljoen.
Meer oor:  Egmont Sippel  |  Audi  |  A7 Sportback 55
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.