Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Afrika-padsterftes wek fronse

Wat kan gedoen word om Afrika se swak padsterftesyfer hok te slaan? Marnus Hattingh kyk na die AA se voorstel.

Die Renault Kwid het in Europa skerp in die soeklig gekom vir sy swak vertoning in botstoetse.

Afrika se hopelose rekord wat betref die veiligheid van sy paaie was verlede maand in die kollig toe ’n internasionale konferensie in Duitsland oor padvervoer die vasteland se hoë padsterftesyfer as onaanvaarbaar bestempel het.

Meer as 85 lande het verlede week die internasionale transportforum (ITF) in Stuttgart, Duitsland, bygewoon. Onder die 1 400 afgevaardigdes was 40 ministers van vervoer, onder wie Suid-Afrika se Blade Nzimande.

Afrika se swak padsterfterekord het reeds op die eerste dag onder skoot gekom. Volgens Joeng Tai-Kim, voorsitter van die ITF, dra Afrika ’n verstommende 20% tot die wêreld se padsterftes by, hoewel die kontinent slegs 2% van die wêreld se voertuie het.

Dit was egter darem nie net slegte nuus vir die vasteland nie. Op die konferensie het groot rolspelers soos die Wêreldbank, die FIA (motorsport se wêreldbeheerliggaam) en die ITF ’n memorandum van verstandhouding onderteken waardeur hulle die stigting van ’n nuwe navorsingsentrum vir Afrika-padstatistieke wil ondersoek.

Nagenoeg 40% van daardie 14 000 sterftes is voetgangers wat sterf as hulle langs die pad stap en dan raakgery word.

Dié sentrum, wat voorlopig sy hoofkantoor in Marokko sal hê, sal statistieke van padongelukke en -sterftes vanoor die vasteland heen moet insamel, dit ontleed en afleidings en voorstelle aan regerings daarvolgens moet kan doen.

Dit volg op ’n besluit wat sewe Afrikalande in Februarie geneem het om die kontinent se uitdaging met padsterftes die hoof te bied. Die sewe is Suid-Afrika, Marokko, Kenia, Tanzanië, Nigerië, Benin en Senegal.

Die FIA se president, Jean Todt, het op die konferensie gesê statistieke is kardinaal vir die vasteland as hy sy bronne sinvol wil benut om die groot uitdagings hok te slaan.

Ongelukke sal ontleed moet word, sodat regerings weet hoe om skaars finansiële hulpbronne aan te wend om die beste resultate en grootste ingreep te bewerkstellig.

Suid-Afrika is met sy jaarlikse padsterftetal van sowat 14 000 lewens een van die groot kleitrappers wat padveiligheid betref. Maar daar is spesiale omstandighede ter sprake.

Nagenoeg 40% van daardie 14 000 sterftes is voetgangers wat sterf as hulle langs die pad stap en dan raakgery word. Die AA sê dan ook in sy antwoord op die ITF se voorstelle dat opvoeding veel beter in Suid-Afrika moet geskied sodat voetgangers weet waar hulle mag stap, en hoe om hulself sigbaarder te maak.

Voetgangersterftes maak in Suid-Afrika die grootste deel van ons padsterftesyfer uit – meer as 40% van sterftes is dié van voetgangers op en langs ons paaie.Foto: Arrive Alive

Die AA stel ook voor dat werkgewers meer betrokke moet raak deur hul werkers van glimbaadjies te voorsien, sodat hulle saans meer sigbaar is as hulle werk toe en terug stap.

Die AA vra ook dat openbare vervoer opgeknap moet word, sodat voetgangers eerder met hierdie vervoer sal pendel as om langs ’n besige pad sonder ’n sypaadjie te stap.

Wat die AA helaas nie noem nie, is Suid-Afrika se swak wetstoepassing. Dit beteken dat wetteloosheid by die dag toeneem, aangesien daar geen werklike gevolge vir oortreders is nie. Jaag oor rooi verkeersligte en verbysteek op sperstrepe, asook ry in die aankomende verkeer se baan of selfs bo-op ’n sypaadjie is in sommige metropolitaanse gebiede ’n alledaagse gesig by minibustaxi’s.

Die taxi’s is ook gereeld weens hul swak oordeel en verbreking van verkeersreëls in groot botsings reg van voor betrokke. Dit beteken enkele botsings kan tot ’n yslike sterftetal lei, wat die statistiek skeeftrek.

Beter polisiëring en strenger wetstoepassing kan hierdie minagting van verkeersreëls stuit, en dus padsterftes afbring.

Die AA se voorstel dat hoofsaaklik op voetgangers gekonsentreer moet word, het straks te make met dié dat voetgangersterftes die enkele grootste afdeling van ons padsterftesyfer is. As die land dus hierop fokus, en nie op gewone wetstoepassing nie, sal daar ’n groter ingreep op die algehele sterftesyfer gemaak word, wat statisties beter sal lyk.

Meer oor:  Aa  |  Blade Nzimande  |  Padsterftes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.