Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Aitsa, Attakwas, hoe straf jy my nou . . .

Benewens die reën en modderige toestande moes die ryers die koue trotseer tydens vanjaar se Attakwas Extreme. Foto: ZCMarketing

Toe dit Vrydagmiddag al in George en Grootbrakrivier begin reën het, het ek heimlik geweet ons gaan ’n nat en modderige Attakwas-ren hê.

Maar dat ons só ’n nat en modderige een gaan hê as wat ons gehad het, het ek nie in my wildste drome (of nagmerries) verwag nie. Tog word daai deel van die wêreld op die oomblik erg geteister deur droogte en niemand van ons het durf kerm of kla oor die liters water wat oor ons uitgegiet het tydens die uitmergelende tog van Oudtshoorn af Kleinbrakrivier toe nie. Hoewel ek diep in my binneste soms regtig heimlik gewonder het wat op aarde besiel my, veral met daardie skerp klipperige afdraandes waarvoor die Attakwas juis so bekend is.

Die Attakwas-vallei is ongenaakbaar en moenie vir een oomblik onderskat word nie. Foto: ZCMarketing

Die Attakwas se subtitel is “die hel van die suide” en dis inderdaad sekerlik die heel moeilikste eendag-byeenkoms in die land omdat dit oor ’n afstand van 120 km strek met ’n vertikale klim van 2 900 meter. Selfs in mooiweer en warm toestande verg hierdie uitdaging hare op ’n mens se tande, maar toe ek daai wolke Saterdagoggend so bekyk, het ek geweet as my kop net sterk genoeg is, het ek reeds ’n voorsprong bo dié wat skrik vir modder en water.

Soms moet van die sterkste ryers afklim en stoot. Foto: ZCMarketing

Volgens Carel Herholdt, een van die Dryland se organiseerders, het 90 mense reeds die oggend van die ren die weer so gekyk en besluit om nie eens te begin ry nie. Van die 920 ryers het meer as 150 deur die loop van die ren onttrek of nie die afsnytye gehaal nie. Dít op sigself sê presies hoe hard en moeilik die toestande daarbuite was, maar dis juis ook wat hierdie jaar se Attakwas-medalje so ekstra spesiaal maak en ek dra my blou Attakwas-hempie met baie groot trots.

Soos gewoonlik was die vyf waterpunte tydens hierdie ren uitstaande en by die vierde punt kon ons lekker weglê aan die volstruissosaties, fudge en koeksisters.

Matt Beers was vanjaar die algehele wenner van die Attakwas met sy wentyd van 4:59:25 terwyl Jennie Stenerhag die vrouewenner was toe sy in 5:54:23 oor die wenstreep gevlieg het.

Al my vriende wil by my weet wat nou volgende op my lysie is om my uit die kwaad te probeer hou en die waarheid is dat ek volgende week Thailand toe vlieg vir die derde Amazing Thailand Marathon wat op Sondag 2 Februarie in Bangkok plaasvind. Dit is ’n baie nuwe ren, maar omdat Thailand deesdae so ’n bekostigbare en gewilde vakansiebestemming is, gaan dit beslis gewild onder Suid-Afrikaners word. (Selfs my baas, Barnard Beukman, het my ’n bietjie agterdogtig bejeën so asof ek net kan fietsry en glad nie kan hardloop nie, maar toe die uitnodiging by die kantoor aankom vir ’n hardloper om Thailand toe te gaan, het ek net daar in een ontaard.)

Reën en modder het vanjaar se Attakwas Extreme gekenmerk en het die ryers tot die uiterste beproef. Foto: ZCMarketing

Ek klim die Donderdag van die vliegtuig in die Kaap van Thailand af en ry dan reguit Tankwa Trek toe in Ceres, wat eintlik maar die finale fiksheidstoets vir al die Cape Epic-ryers is. Hopelik ly ek nie te erg aan vlugvoosheid nie, want die Tankwa se Merino Monster op die derde dag pak jy nie sonder volle sterkte murg in jou pype aan nie.

Dan, voordat ’n mens “herstelproses” kan sê, is dit 15 Maart en tyd vir vanjaar se Absa Cape Epic.

Stadig oor die klippe – daar was ook ’n paar keer waar ryers die rivier moes oorsteek. Foto: ZCMarketing

Ek ry vanjaar weer in ’n vrouespan saam met Petro Labuschagne en tussen die vroueryers gaan daar ’n paar interessante spanne wees.

Annika Langvad wat alom bekend staan as die Cape Epic se suksesvolste professionele ryer omdat sy al vyf keer gewen het, gaan hierdie jaar met die veldwêreldkampioen Jenny Rissveds saamspan.

Suid-Afrika se Amy McDougall ry saam met Duitsland se Sabine Spitz en Robyn de Groot saam met Adelheid Morath. Ek en Petro gaan meer daar agter rond vertoef waar al die lekker stories en dinge gebeur . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.