Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Alonso kou klippe in SA veldren

Toyota het die afgelope naweek se voorlaaste ronde van die nasionale veldrenreeks op verskillende maniere geheel en al oorheers.

Giniel de Villiers kap dit flou in sy Toyota Hilux in die naweek se Lichtenburg 400-veldren. Foto: Motorpress

Die Formule 1-jaer Fernando Alonso het die veldrenbrigade – en alles en almal in Lichtenburg – net soos sy Toyota Hilux omgedop; die verdedigende kam-pioen Giniel de Villiers is weer terug op die wenpad; die nuwelingjaer Henk Lategan het die kampioenskapstitel beklink; en Toyota het weer die vervaardigerstitel gewen.

En dít alles met nog een ronde in die reeks oor.

Formule 1-manewales het egter ’n veel groter invloed as net Alonso se deelname aan die byeenkoms gehad – ’n soortgelyke reël wat F1-motors se kuipe­spoed beperk, het almal behalwe drie jaers in die afdeling vir produksievoertuie weens straftyd laat terugsak omdat hulle op ’n deel van die roete met ’n spoedperk te vinnig gery het.

Lategan en sy navigator, Brett Cummings, het hul neuse eerste voor gekry nadat hulle Vrydag se voorren 26 sekondes vinniger as enige van die ander deel­nemers afgelê en sodoende die voorste wegspringposisie bespreek het.

De Villiers en sy navigator, Dennis Murphy, was tweede met Alonso en sy navigator, die Dakar-motorfietskampioen Marc Coma, derde vinnigste.

Alonso het sy Hilux egter kort ná die wegspring omgegooi en baie tyd in die proses verloor. Hulle kon die motor weer terug op sy wiele kry, maar moes met ’n stukkende windskerm verder jaag.

Die oud-F1-kampioen Fernando Alonso bemeester ’n ongewone tegniek in motorsport: hoe om jou eie renmotor weer regop te kry nadat jy dit gerol het. Foto: Nadia Jordaan

Asof dié vuurdoop nie erg genoeg was nie, het Alonso-hulle ’n Hudsonrivier-terugslag gehad toe hulle vroeg in die tweede ronde van die ren – net nadat hulle ’n nuwe windskerm met hul kuipebesoek halfpad deur die ren gekry het – ’n swerm tarentale getref en weer met ’n stukkende windskerm tot by die eindpunt moes jaag, waar hulle uiteindelik 16de was.

Intussen het De Villiers die gaping tot 11 sekondes agter sy spanmaats Lategan en Cummings verklein, maar hy en Murphy is as die wenners aangewys nadat die baanbeamptes links en regs straftyd uitgedeel het omdat die hele renveld behalwe drie motors, van wie De Villiers-hulle een was, die spoedperk in die kuipe à la F1 oorskry het.

Intussen het die Ford-jaers Lance Woolridge en Ward Huxtable, wat die naaswenners agter die Klas T-wenners Jason Venter en Jaco van Aardt in hul Toyota Hilux was, die klaskampioenskap net soos Lategan met ’n tweede plek (in hul klas) en met nog een ronde oor beklink.

Die Spanjaard Fernando Alonso het sy Afrika-safari kennelik baie geniet. Si, in ’n Hilux, nogal. Foto: Motorpress

Richard Leeke en Zaheer Bodhanya (Nissan Navara) was vyfde oor die wenstreep en het die derde plek in die Klas FIA-afdeling ingeneem agter De Villiers en Lategan – Leeke se beste vertoning nog.

Die naweek se Afrika-­safari was egter vir Alonso-hulle ’n goue leerskool. Nadat hulle die motor “saggies” laat rol het, kon hy, anders as in die renne waaraan hy tot dusver gewoond was, self uitklim en red wat moontlik te redde is en kruppel-kruppel verder jaag – iets wat hy met groot waagmoed en durf reggekry het.

Alle oë was die naweek op Alonso, wat die volgende op sy Twitter-profiel te sê gehad het: “Duisend-en-een dinge vandag! Baie eerstes en ’n paar goed wat ons moes ‘ontdek’ het: Ek het gerol; ek moes herstelwerk doen; ek moes met ’n stofbril jaag, het stof gesluk en ’n tweede windskerm verloor, dié keer weens voëls; en ek het ’n pap wiel gekry. Jip, dit was ’n intensiewe leerkurwe.”

  • Die volgende en laaste ronde in die reeks word op 1 en 2 November in die omgewing van Parys in die Vrystaat beslis.
Meer oor:  Formule 1  |  Fernando Alonso  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.