Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Amarok kry vir oulaas ’n ‘vet ses’

Een van die merkwaardigste verhale in die hedendaagse motorbedryf moet sekerlik dié van die Amarok wees. Volkswagen het destyds, meer as ’n dekade gelede, ’n hele paar kuiwe in die bedryf laat orent staan toe hy sy planne vir ’n eie, groot bakkie rugbaar gemaak het.

Teen 2010 was die Amarok op die pad, en met sy voorkoms het hy dadelik na ’n stylvolle leefstylbakkie gelyk.

Maar iets het gehaper, en op die verkoopsvloere het dit ook neerslag gevind.

Op die internasionale media-bekendstelling destyds in Argentinië wou ons by VW se Duitse grootbase weet waarom hulle besluit het op ’n nuwe 2.0-liter-biturbodiesel, pleks van die 3.0-liter-diesel wat die groot Volkswagen-groep tot sy beskikking het (Audi en Porsche gebruik daardie enjin, onder meer).

Vir ’n tien jaar oue voertuig (en ontwerp) moes die VW Amarok al dino-sourus-status geniet het. Maar hy raak net ál begeerliker, danksy daardie klassieke ont-werp en puik enjin.

Die Duitsers was dadelik op die agtervoet en ’n vreemde atmosfeer het in die konferensie-vertrek geheers. Ietwat antagonisties, amper. Daar was ’n houding van “ons weet wat ons doen, en ons weet eintlik ’n bietjie meer as wat Jan Publiek weet”.

Overgeset synde, as ons besluit op ’n moderne maar piepklein en komplekse 2.0-liter-biturbo, dan moet die mark eintlik by ons inval en ons slimmigheid aanvaar as superieure bedryfskennis.

Gaaf dan.

Maar soos voorspel is, het die tweeliter-biturbo nie juis die vertoonvloere aan die brand gesteek met sy verkoopsukses nie. Die Duitse ingenieurs het hoog en laag verduidelik hoe goed sy wringkrag is vir sy verplasing (wel, dis ’n billike feit), en dat sy verbruik- en uitlaatsyfers laag was (ook ’n billike, getroue feit).

Maar dis nie juis iets waarin daardie marksegment soveel belang stel nie, het ons vir die Duitsers gesê. Waarop rûe reguit gemaak is en die kakebene gespan het.

Rol die horlosie tien jaar vorentoe, en wat het ons hier? Twee aankondigings.

Die eerste is dat VW nie meer kans sien om sy hand weer ’n keer so diep in die sak te steek om self ’n bakkie – die tweedegenerasie-Amarok – te ontwikkel nie. Verkope was net nie goed genoeg nie. Hy gaan eerder met Ford saamwerk, sodat die nuwe Ranger dan ook die nuwe Amarok sal wees deur net ’n buffer om te ruil en ’n ander instrumentpaneel in te sit. ’n Veel goedkoper proses om te volg.

Maar kyk egter na die tweede aankondiging. VW sê hy bring sy beste, modernste 3.0-liter-V6-diesel na die Amarok. En skielik is die wêreld verlief op die Volksie-bakkie.

Ná jare se vasskop, het VW stelselmatig die knie gebuig en sy drieliter-diesels na die Amarok gebring. Soos wat hy van die begin af moes gedoen het. Sedert 2017, toe die 3.0 TDI-model sy buiging hier gemaak het met 165 kW en 550 Nm-wringkrag, is dié Amarok die gewildste weeldebakkie op die mark. Wel, ten minste by kritiese motorskrywers, wat absoluut gaande oor die V6-diesel-Amarok is.

Hy lyk nie net goed nie, selfs ná amper tien jaar waar sy ontwerp presies dieselfde gebly het. Hy vertoon soos ’n moderne sedan binne, en ry net so gemaklik ook. En so fluks, danksy daardie V6 in die neus.

Trouens, so gewild het daardie V6-diesel blyk te wees, dat VW nie ’n ander keuse gehad het as om sy jongste, warmer weergawe van daardie V6 in die Amarok se neus te sit nie (steeds gekoppel aan ’n ZF-gegronde agtgang- outomatiese ratkas).

Danksy ’n bietjie manipulasie van die blikbrein en by die enjin self, kon VW se witjasse nog ’n ekstra 25 kW lostoor uit die drie­liter om die krag tot 190 kW op te stoot. Wringkrag is selwers opgestoot vanaf 550 Nm na 580 Nm.

Plant jy die voet plat teen die vloer, soos wanneer jy gou wil verbysteek, laat die blikbrein 200 kW los vir so tien tellings.

Wringkrag is wat jy nodig het as jy teen ’n bult uit ’n sleepwa moet sleep. Kilowatts gee vir jou versnelling, noem dit maar die soepelheidsfaktor van die enjin. Dieselenjins is tradisioneel maar “stram” en nie fluks met versnelling nie, juis omdat hul kilowatt-lesing so laag is.

Die Amarok se modern ontwerpte kajuit bied ’n gerieflike sitposisie en goeie sig reg rondom.

Daardie klein sprong dus van 165 kW tot 190 kW verrig wondere vir jou ratsheidsfaktor agter die Amarok se stuur.

VW gaan glad nie meer die ouer weergawe van die drieliter hier versprei nie. Jy gaan net die opgeknapte 190 kW-model hier kan koop wanneer hy in November hier aankom, en wel in twee afwerkingsvlakke.

Die Highline bied leersitplekke wat ook verhitbaar is (het iemand “weeldesedan” gesê?), klimaat- en spoedbeheer, ’n tru-kamera en parkeergonsers voor en agter en 19-duim-sierwiele.

Die Extreme-afwerkingsvlak bied 20-duimers pleks van die Highline se 19’s, en ’n satnav-stelsel standaard ingesluit.

Maar die fris bakkie, tien jaar oud of te nie, kom teen ’n bielie van ’n prys. Dis egter die pap rand se skuld, wat al meer as 30% geval het sedert ’n jaar gelede.

Intussen, kyk vir oulaas waarderend na die Amarok. Wanneer laas was ’n voertuig wat tien jaar oud is só gewild?

Pryse:

Amarok V6 TDI (Highline) – R908 300;

Amarok V TDI (Extreme) – R974 600.

Meer oor:  Motors  |  Amarok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.