Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ander se pêre is Pérez se wins

In Azerbeidjan is brood allerheilig. Wanneer dit weggegooi word, word dit in ’n sakkie geplaas om gespaar te word van die vergang van sy mede-items in die vullisdrom. En durf jy jou snytjie op die grond laat val, is dit gewoonte om ’n soen as apologie aan te bied.
Sergio Pérez kon Sondag uit die skadu van sy gewilde Red Bull-spanmaat Max Verstappen skuif toe hy met ’n puik sege in die Azerbeidjanse Grand Prix beloon is. Foto: AP

In verlede Sondag se opskuddende Azerbeidjanse Grand Prix, wat uitgespook is in die strate van Baku langs die Kaspiese See, is daar ietwat meer gal gebraak as gesoen. En ’n slaak van verligting geuiter.

Red Bull-Honda se Sergio Pérez van Mexiko, die uiteindelike oorwinnaar, het sy brood verdién. Die titelprotagoniste, eersgenoemde se spanmaat Max Verstappen en sy nemesis, Mercedes-Benz se Lewis Hamilton, is weer elk kwalik met krummels daar weg.

As Formule Een se snelste straatbaan is Baku ’n smorgasbord wat die uitlegte van Monza en Monaco saamflans; dit wil sê op 2,2 km die jaar se langste pylvak verweef met ’n stel kronkelende stegies. Stel jy dus jou motor op met skraps afwaartse druk wat verbystekery op die snelweg moontlik maak, maar bandlewe en tyd in die binnedorp sal kos; of andersom?

Vir Red Bull as kampioenskap-voorlopers was die uitwerk van dié uitdaging ’n tiramisu eerder as ’n tameletjie; terwyl die Mercedes-Benz in ál die naweek se oefensessies klippe gekou het met rondtetye soms meer as 1 sek. agter die besete bulloop.

Dit was dus net ’n kwessie van tyd voordat Verstappen, wat derde op die wegspringrooster was agter Charles Leclerc se Ferrari gevolg deur Hamilton, die voortou ten tyde van die kuipe­stoppe sou neem. Pérez was toe ook gou verby die Brit, waarna hy hom in sy truspieëls kon hou sonder om aan sy taco en tequila te stik.

Die Red Bull-marteltweespel het dié Mercedes-Benz-jaer sielkundig geknak: Ongeag wat hy in die stryd gewerp het, was daar altyd genoeg wasabi in Pérez se Honda-enjin om eersgenoemde rondte ná rondte te verwoes. Dit terwyl Verstappen ’n tydsvoordeel vooruit van nagenoeg 7 sek. gebou het.

Hamilton se lot is vererger deurdat hy gedobbel het met spoed ten koste van ratsheid en gevolglik sy agterbande gouer opgekou het as die donkerblou Bulle. In ag genome sy rampspoedige naweek en nog ’n erger een vir Valtteri Bottas, Mercedes-Benz-jaer wat slegs tiende kon kwalifiseer, was derde plek as skadebeheer eintlik heel verteerbaar.

Dít sou ’n skaars geloofbare tweede word toe Verstappen se linkeragter-Pirelli in die 46ste rondte op die pylvak teen nagenoeg 320 km/h ontplof, die motor tot teen die veiligheidsmuur geskiet en aan skerwe laat spat het. Eers ’n besef van die verlies: Die naarste, leegste gevoel wat hy tot nog toe in sy loopbaan moes verduur. Toe die wete dat ’n beloofde 14 punt-voordeel bo Hamilton soos mis tot ’n agterstand van 11 punte danksy die Pirelli-voorval verdwyn het. En toe die gebelgdheid; in ag genome dat sy bande geensins ooreis is weens die oppervlaktemperatuur nóg die loopvlak nie.

Kwelvrae oor die Pirelli’s se duursaamheid is dadelik geuiter. Veral omdat die Verstappen-ongeluk ’n spieëlbeeld is van wat met die Aston Martin-jaer Lance Stroll in die 30ste rondte gebeur het.

Dié bandboewe, wat verlede jaar onder skoot gekom het by die Britse rondtes toe hul produk ook dáár sonder waarskuwing harakiri gepleeg het, het dadelik onderneem om ’n ondersoek te doen, maar dit was skrale troos vir ’n siedende Verstappen: “Ek verwag natuurlik dat hulle (ter verontskuldiging) sal sê dit was weens baanrommel. Maar ons het almal reeds ’n hele klomp rondtes voltooi en dieselfde renlyn gevolg. So ek dink nie dít is die oorsaak nie.”

Dat gebrekkige gehaltebeheer deur ’n benoemde verskaffer die uitslag van ’n kampioenskap kan beïnvloed – of erger, beserings tot gevolg kan hê – is onaanvaarbaar en skandalig in énige sportsoort. Die verleentheid van 2005 se Amerikaanse Grand Prix, waar alle Michelin-geskoeide motors verbied is om weg te spring uit vrees dat dié band ook onder druk sou disintegreer, lê nog vlak in Formule Een se onderbewussyn. Die Franse maatskappy se openbare beeld was aan flarde en Pirelli kou tans aan dieselfde muwwe korsie.

Om die geslagte Red Bull se puin te verwyder, is die Baku-ren met drie rondtes oor gestop. Alle motors is met nuwe bande toegerus en die ren ’n halfuur later hervat. Maar toe mors Hamilton, wat tweede weggetrek het, sy eie wen-sjampanje deur in die chaos op pad na die eerste draai per ongeluk sy motor se remdruk-verdeling (tussen die voor- en agterwiele) amper ten volle na vore te verstel. Toe hy sekondes later ankers gooi, het die oormatige remdruk die voorwiele gesluit en hy het reguit verby Pérez van die baan tot heel agter gegly.

Op daardie oomblik sou Verstappen­ getuig die sterkste menslike emosie is verligting.

En vir Pérez? Vrees: Al was sy sege drie minute weg – nou gewaarborg met Hamilton uit die prentjie – het eersgenoemde se motor ’n hidrouliese lek ontwikkel wat die werking van die kragstuur en ratkas bedreig het. So ernstig was dié prognose dat hy in die opwarmingsrondte voor die tweede wegspring aangesê is om nie sy bande te verhit deur onnodig na links en regs te dartel nie, om sodoende die laaste bietjie oorblywende hidrouliese druk te spaar.

Vir dié Red Bull-jaer, wat nog heeljaar worstel om die RB16B te tem en sy steierende reputasie te hervestig, was dit ’n deurslaggewende oomblik. Daarteenoor, met net mooi nul punte (vir die eerste keer sedert die Amerikaanse Grand Prix in 2012) het Baku sy suurste deeg vir Mercedes-Benz gelos om af te wurg; wat sonder twyfel wou spoeg eerder as soen. En die aanhoor van die Mexikaanse volkslied ten tyde van die podiumgeleentheid het vir hulle na iets geklink soos: “Een . . . dood . . . ander . . . brood.”

Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Mercedes-Benz  |  Honda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.