Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ané gee haar indruk: Mazda2 hoort voor jou deur

‘Sjoe, wanneer vat jy my vir ’n spin in dié karretjie?” wil my pa weet toe ek die metaalrooi Mazda2 in hul oprit parkeer. Dan vat hy sy tyd om reg rondom te stap en kyk dan by die venster in om die binneruim te bewonder.

Die Mazda2 is in 2017 laas opgekikker en het nou weer sy weg na die media-vloot gevind. Ek is ’n groot Mazda-aanhanger en het nog nie vantevore met die skone Mazda2 gery nie, dus was ek bly vir hierdie geleentheid om die 1.5 Individual Plus Auto – die duurste petrolmodel in die reeks teen R304 500 – te toets, en boonop verdien hy die blootstelling.

Die 1.5 Individual Plus Auto is die jongste, en teen R304 500 ook die duurste, petrolmodel in die Mazda2-reeks.Foto: Mazda SA

Hoe lyk hy binne?

Die binneruim is sjiek en elegant, met ontwerpdetail wat baie aan die Audi A1 herinner. Ek hou veral van die moderne, kompakte instrumentepaneel, en die grootte en posisionering van die vermaakstelsel se skerm is ook nét reg. Daar is ook twee maklik bereikbare USB-poorte onderaan, en selfs ’n gaatjie vir ’n CD. Bluetooth en als wat daarmee gepaard gaan is standaard, en daar is satellietknoppies op die leerstuurwiel.

Die Individual Plus Auto-variant het ook heelwat tegnologie wat ’n mens eerder in groter, duurder motors sal verwag, soos satellietnavigasie, ’n gonser wat begin piep as jy lyk of jy jou baan wil verlaat, asook ’n kleurskermpie direk bokant die toereteller wat jou spoed asook navigasie-instruksies en die spoedgrens tentoonstel (die amptelike term daarvoor is “head-up display”).

Die Mazda2 se binneruim is netjies, sjiek en elegant. Maar ruimte agter is beperk. Foto: Mazda SA

Wat van veiligheidstoerusting?

Die Individual Plus Auto-model (asook die 1.5-liter diesel Hazumi-variant) het albei ses lugsakke elk, terwyl die ander Mazda2’s twee lugsakke elk het. Alle modelle het ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en remhulp. Snaaks genoeg is vastrapbeheer nie beskikbaar nie. Dit verbaas my nogal, want deesdae is heelwat goedkoper motortjies (soos bv. die Renault Sandero) daarmee toegerus. En dis deesdae verpligtend in alle Europese motors.

Het hy genoeg woema?

Die Mazda2 is ’n klein, ligte karretjie en die enjin se 82 kW en 145 Nm voel dus na heelwat meer. Jy het ook die opsie om in sportmodus te ry; nie dat dit veel van ’n verskil maak nie, behalwe dat dit die toere opjaag.

Allerlei

Spesifikasies: Mazda2 1.5 Individual Plus Auto

Enjin: 1,5-liter, viersilinder-petrol

Kraglewering: 82 kW @ 6 000 r/min

Wringkrag: 145 Nm @ 4 000 r/min

Ratkas: Sesgang-outomaties

0-100 km/h: 10,4 sekondes

Topspoed: 184 km/h

Bagasieruim: 280 liter

Tenkgrootte: 44 liter

Verbruik: 6,8 liter/100 km

CO2-emissies: 134 g/km

Prys: R304 500

Die ratkas- en enjinkombinasie is effens raserig, veral as jy skielik moet vetgee. Omdat ek nie gaande is oor outo-kaste in sulke klein motortjies nie, het ek die stuurwiel-gemonteerde spane gebruik om die rit interessanter te maak, en ook omdat ek bietjie van ’n beheervraat is.

Van toe af was die Mazda2 sommer heelwat prettiger om te bestuur, want sy hantering en stuurgevoel is uitstekend. As jy baie tyd in swaar verkeer deurbring, is die outo-kas natuurlik die geriefliker opsie.

Petrolverbruik?

Die Mazda2 gaan jou inspireer om jou regtervoet gereeld plat neer te sit, en daarom is dit nou nie juis soos wat ’n mens in ’n VW Polo met ’n dieselenjin gaan kry nie. Sy verbruik was so tussen 6.8 en 7.5 liter per 100 km – steeds genoeg vir sowat 700 km op ’n vol tenk.

Op jou kortlysie, ja of nee?

Hierdie Mazdatjie is soos die gesinsweergawe van die MX-5, en ek wens meer mense wil hom toetsbestuur. Jonggetroude paartjies, kieskeurige afgetredenes en jong entrepreneurs sal gaande wees oor hom.

Boonop het die diep bagasieruim verbasend baie plek, ook omdat die spaarwiel nie volgrootte is nie. En ’n mens hoef wraggies nie die duurste model aan te skaf nie, want die intreevlak Mazda2 1.5 Active (met ’n vyfgang-handratkas en twee lugsakke) kos R228 900.

Meer oor:  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.