Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ané oor die nuwe Mazda 3: Dit maak sin . . .

Almal wil deesdae net ’n sportnuts of bakkie ry. Is dit weens die toestand van ons paaie, of omdat mens niks vanuit jou lae sedan of luikrug kan sien wanneer Toy­ota Fortuners en Ford Rangers jou omsingel by robotte nie?

Dis hartseer, want daar is ’n paar fantastiese luikrûe vir kopers beskore, soos die nuwe Mazda3. Maar teen R474 000 vir die vlagskip-model sal hy sy storie moet ken as hy die vertoonkamer wil verlaat.

Die nuwe “3” se prys-bravado is beslis gekoppel aan die feit dat Mazda meen dié luikrug boks in dieselfde kryt as die Teutoniese Trio, naamlik die BMW 1-reeks, die Audi A3 en die Mercedes-Benz A-Klas. Ek dink wel daar is goeie redes hoekom die Mazda3 in dieselfde kringe hoort.

Ons hou sommer baie van die nuwe Mazda3 se geronde voorkoms. Die kajuit is stil en die rit gemaklik, hoewel die brandstofverbruiksyfer ’n raps beter kon gewees het. Foto: Ané Theron

Subtiel sexy

Wat die 3 se eksterne stilering betref: Hy vang jou oog sonder dat jy dadelik besef hoekom. Dis eers met die tweede oogopslag dat jou blik vasgehou word deur die aristokratiese neus, smal hoofligte wat subtiel na agter swiep en die netjiese sierrooster wat by die swart agttienduim-allooiwiele pas. Selfs die effens bolvormige agterstewe laat my nie koud nie, dis immers deel van die koepee-voorkoms, maar dit veroorsaak ongelukkig dat die langerate wat agterin ry se haarstyle dalk sleg daarvan gaan afkom. As jy net met mediumgrootte mense (of kinders) gaan rondry, behoort dit nie saak te maak nie.

Eersteklas-kajuit

Die binneruim is herontwerp om meer in tel te wees met die kompetisie uit Duitsland, maar in swart vertoon die algehele voorkoms effens eentonig. Jy het wél die opsie om boergonje leerbekleedsel te kies om dinge op te helder.

Tog, na ’n paar dae in die luukse Mazda3, het ek gou vergeet van die somber kleurskema en my verlustig in dié Japanner se top-klas bougehalte, gebruiksvriendelike inligtingskerm asook die kajuit se uitstekende ergonomika.

Mazda het egter besluit dat ’n raakskerm eerder ’n vloek as ’n seën is en daarom gebruik ’n mens steeds ’n draaiknop om die stelsel te beheer.

Mazda se eksperimente het ook bevind dat die plasing van die skerm ’n groot rol speel in die manier waarop jou oog fokus. As die skerm ver genoeg is, hoef jy nie weer te herfokus voordat jy weer jou oë op die pad rig nie. En mense wat skuins oor hul stuurwiele leun om verstellings direk op ’n raakskerm te maak, druk per ongeluk teen die stuurwiel wat veroorsaak dat hul voertuig van rigting begin verander. Dus, in die naam van veiligheid, word geen Mazda met ’n raakskerm toegerus nie, en ek dink dis beter so.

’n Satnav-stelsel is standaard vir die dae wanneer jy jou foon op jou bedkassie vergeet het, en gesighoogte-informasie word op die ruit vertoon vir ekstra gerief. ’n 12-luidsprekerklankstelsel is standaardtoerusting vanaf Individual-modelle en boontoe.

Bestuurplesier

Mazda was nog altyd ernstig oor rygenot en die ratse 3 se ligte, maar direkte stuur en vasvoetige danspassies sorg vir ’n glimlag om elke hoek en draai. Mazda het dit goedgedink om die agterste onafhanklike veelskakel­veer-suspensie te vervang met die meer oudmodiese balkskakel-tipe, wat ’n meer gemaklike rygevoel tot gevolg het, en ook Mazda se ingenieurs toegelaat het om meer laairuimspasie uit te kerf.

Die kajuit laat min bandgeraas binne en die Bluetooth-stelsel se klankgehalte is uitstekend. Al wat pla, is die sesgang- outomatiese ratkas wat soos ’n palwissel-transmissie dreun as jy skielik vetgee, en die blindekol wat die hemelsbreë C-pilare veroorsaak.

Danksy die truratkamera asook ’n blindekol-waghond wat waarskuwend blaf, hoef jy darem nie ’n skietgebedjie boontoe te stuur voordat jy jou baan of parkeerplek verlaat nie. Daar is ook gonsers wat jou waarsku as verkeer agter jou verbyry sodat jy nie daardie prag-agterstewe befoeter nie.

Wat die tweeliter-enjin (121 kW, 213 Nm) betref, voel hy heelwat lewendiger aan die kus as wat my kollegas in Gauteng beleef het, maar ek was geneig om meer gematig as gewoonlik te bestuur omdat ek en die ratkas mekaar mos met die eerste ontmoeting misverstaan het. Kort voor lank was ons meningsverskil uitgestryk sodat ons rustig die pad saam kon aanpak: My deel van die ooreenkoms was dat ek my swaar regtervoet sal beteuel en nie sonder waarskuwing die petrol te hard sal trap nie. Daarna was my verbruik ook ’n meer ekonomiese 8,0 liter.

Jy kan maar koop

Die Mazda3 is ’n voortreflike, dinamiese luikrug met ’n subtiele skoonheid en ’n lang lys van veiligheid- en geriefstoerusting. ’n Mens moet hom self gaan toets om hom te waardeer.

* Prys: Mazda3 2.0 Astina – R474 000.

Meer oor:  Motors  |  Toetsbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.