Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Arabiese Dakar: Wanneer die oliedollars praat

Knormoer sien die Dakar-uithouren gaan volgende jaar in Saoedi-Arabië gehou word. Dit nou nadat Suid-Amerika, waar die uitmergelende duine-ren al 11 jaar aangebied is, nie meer die aptyt vir dié grootse skouspel het nie.

’n Terugkeer na Afrika, waar die ren natuurlik sy wortels het en sy naam vandaan kry, sou die eerste prys wees, vermoed Knormoer. Maar geld praat die hardste in motorsport.

Manne met probleme. Martin Winterkorn (links, oud-grootbaas van VW) en Carlos Ghosn (Nissan) moet albei eersdaags in die hof verskyn. Het iemand “pleks jy ’n Suid-Afrikaanse politikus was” gesê?

Kyk net nou weer: Arabië tree uit die bloute as aanbieder van ’n historiese ren na vore. Die koninkryk (ja, dis nie ’n demokrasie nie) het skaars ’n motorsportgeskiedenis, maar bied nou ’n internasionale ren aan.

Wat Knormoer egter veral pla, is die Franse organiseerders se toondoofheid. Het hulle niks gevolg van die Jamal Khashoggi-insident nie? Of die feit dat mense hier nie mag stem nie. Of dat vroue eers onlangs toegelaat is om self ’n motor te mag bestuur nie?

In ’n land waar daar ’n ge-brek aan basiese mense- (en vroue-) regte is, is dit vir Knormoer onsmaaklik dat ’n groot sportgebeurtenis soos die Dakar in sy agterplaas gaan tent opslaan.

* Dit verleen die reuk van normaliteit aan die land. ’n Sterk simboliese boodskap sou wees om dankie, maar nee dankie vir die oliedollars te gesê het.

Kies jou ute, um, bakkie

Dit is nou ietwat van ’n bedryfskwessie, maar Knormoer reken dit raak sy fêns en lesers van die Motors-bylaag in die algemeen tog.

By die onlangse mediabekendstelling van ’n nuwe bakkie, nooi die vervaardiger joernaliste van oor die spektrum heen. Ouskool-joernaliste wat vir koerante en tydskrifte werk. Internet-joernaliste.

Knormoer weet nie wat die waarde is wat hierdie kêrel aan óf sy volgelinge óf aan die vervaardiger bied nie.

Maar dan was daar ook ’n groot groep sosialemedia-kêrels. Die bloggers en Instas (vir Instagram, oom Frikkie), wat slegs ’n persoonlike rekening op ’n sosialemedia-platform het waar hy selfies by ’n kar plak met ’n hutsmerk of 17 daarby.

Nou, Knormoer voel daar is plek vir almal onder die son. Sommige van hierdie knapies lewer ook eintlik ’n goeie diens: Hulle bedien ’n mark waar hul volgelinge in ’n township woon en nie die tradisionele media (koerante en tydskrifte) volg nie.

Vir die vervaardiger om sy boodskap oor sy nuwe voertuig by al die gemeenskappe (skuldbult en township) uit te kry, moet hy dus van sowel die tradisionele media as die bloggers en Instas gebruik maak.

Gaaf. Maar iewers moet ook ’n streep getrek word. Keur die mense strenger, of help met opleiding.

Want so gewaar Knormoer die een kêrel se verslag toe op Facebook. Eers gebruik hy die vervaardiger se persverklaring om die bakkie te beskryf (nêrens vermeld hy sy eie waarnemings nie).

Dan gee hy die Australiese filiaal se webwerf-skakel sou jy ’n bakkie wou gaan uitsoek.

En dan, as die coup de grâce, vra hy die vervaardiger om ’n bakkie te leen dat hy in Botswana kan gaan toer “om die bakkie behoorlik te toets”.

Ja, #forreals.

Knormoer weet nie wat die waarde is wat hierdie kêrel aan óf sy volgelinge óf aan die vervaardiger bied nie.

* Maar as jy ’n bakkie soek, gaan kyk in Australië. Of Botswana.

Sakpas-wenners

Knormoer sien Jaguar se nuwe I-Pace is pas aangewys as die nuwe Wêreldmotor van die Jaar.

Dis fantastiese nuus.

Die I-Pace is die eerste van die nuwe generasie-e-voertuie wat ’n bruikbare reikafstand vermeng met praktiese bruikbaarheid en ’n netjiese voorkoms op die koop toe.

* Teen R1,8 miljoen stuk slaan hy natuurlik ook die gekla dat oorsese wenners altyd bekostigbare voertuie is, lieflik vir ’n peperduur ses.

Meer oor:  Motors  |  Rubriek  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.