Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
As jy in styl in die veld wil Roll(s)
Genoem na die wêreld se grootste diamant: Rolls-Royce se Cullinan is ’n bielie van ’n deftige veldryer. Ja, en die agterdeure swaai verkeerdom oop.

Rolls-Royce het verlede week sy nuwe en eerste sportnuts nog aan die wêreld vertoon ná ’n lang periode waarin steelfoto’s en lokprente op sosiale media die ronde gedoen het.

Die nuwe Cullinan, genoem na die grootste diamant wat nog gevind is, lui met reg ’n nuwe era vir dié luisterryke handelsmerk in. (Die vuisgrootte diamant wat in ons eie Cullinan-myn gevind is, is summier aan die Britse koningshuis geskenk voordat dit opgesny en in die Britse kroon geplaas is).

Rolls-Royce, wat al die jare die bouer van slegs sedans, koepees en die enkele oopdakvoertuig of twee was, moes uiteindelik die knie voor daardie gevreesde natuurkrag, die mag van die vrye mark, buig.

Kopers se smaak het die afgelope twee dekades van sedans wegbeweeg. Die nuwe gier is sportnutse, en al wat ’n tradisionele sportmotorvervaardiger is en toe ’n versigtige toon in die nuwe waters van 4x4’s gewaag het, proe vandag die sukses hiervan.

Houtpanele en sagte leeroppervlakke. Die Rolls is ’n aangename plek om vanuit leeus te gaan soek.

Dis ’n gety waarteen niemand kan stry nie.

Toegegee, Rolls-Royce probeer die stereotipes van bullebak-4x4’s vermy. Sy bonkige, hoekige veldryer is nie ’n 4x4 nie: Dit is ’n high-sided-voertuig. Iets waarmee sy eienaar in die gemaklikste weelde op enige terrein kan ry – sonder om ’n druppel sjampanje te mors.

Die nuwe stofpad-Rolls benut die BMW 7-Reeks se onderstel en bevat heelwat aluminium in die bakwerk. Desondanks stop die skaal se meter eers by die 2,7 ton-merkie.

Onder die enjinkap het BMW sy V12 van 6.75-liter ingepas, toegerus met twee turbo’s. Krag kom op ’n stewige 420 kW en 850 Nm wringkrag te staan.

Die vervaardiger meld geen verrigtingsyfers nie (wie jaag met ’n Rolls?), maar sê die amperse drieton-voertuig se topspoed word op 250 km/h beperk.

Maar die groot veldry-Rolls gaan oor meer as net teerpad-verrigting, of selfs grondpadvernuf.

Die bestuurder en sy passasiers wil weelde beleef, hierdie keer op safari-paaie waar hulle voorheen ’n gewone Range Rover sou moes bestyg.

Om dié rede het die Cullinan geen ritmodusknop op die sentrale paneel nie. Daar is net een skakelaar, en dit sê veldry. Die rekenaar sorg self dat jou voertuig doen wat hy moet om oor en deur dit te ry wat voor jou lê en wag.

Leer- en houtpanele is oral te sien, en die voorkoms en gevoel is die ene deftigheid.

Sjampanje- en whiskeyglase word saam met die voertuig gebied. Als pas in die verkoelde armrus in.

Vir die agterste ruim kan jy óf ’n rusbank bestel óf twee enkelsitplekke. Laasgenoemde bied jou ’n breë armleuning met, natuurlik, ’n koelhouer vir jou sjampanje, ’n stel sjampanjeglase (kristal) en nog ’n stel whiskeyglase.

’n Kopknik na gister toe gesiene reisigers hul bagasie vooruit gestuur het en nie by die skip of treinstasie met ’n pakkaas opgedaag het nie, is die breë glasvenster wat die laairuim van die kajuit skei.

Vir die bestuurder is daar ruitinligting wat jou spoed en satnav-instruksies op die voorruit projekteer, asook ’n nagsig-kamera wat sy beeld op ’n ander inligtingskerm vertoon.

Die stelsel kan onder meer mense sowel as diere herken en jou saans teen iets waarsku sou dit die pad wou oorsteek.

Nog ’n gawe nagedagte van die ingenieurs was om die Cullinan met lugvering toe te rus.

Afgesien daarvan dat jy die vering se fermheid optimaal na gelang van jou rystyl kan aanpas, kan jy ook die voertuig met 4 cm laat sak wanneer jy dit oopsluit en nie lus voel vir ’n gesukkel as jy inklim nie.

Die lugvering werk ook met die radar in die neus saam om knikke in die pad betyds te gewaar, en die motor sagkens daaroor te laat rol. Geen gebokspring dus agter in die Rolls wat jou sjampanje kan laat stort nie.

’n Plaaslike bekendstellingsdatum en pryse is nog nie bekend gemaak nie. Maar ons reken vir ’n paar miljoen sal jy die gemaklikste voertuig hê om leeus in die Wildtuin te gaan soek.

Meer oor:  Rolls-Royce  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.