Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
ASX kry vars asem vir oulaas
Die ASX se neus het nou ’n forse voorkoms danksy ’n hoekige ontwerp, maar binnelangs is die kajuit ook deeglik opgeknap om nou moderner voor te kom.

Mitsubishi se klein ASX is al sedert 2010 op die wêreldmark, en sedert einde 2011 in Suid-Afrika te kry. En steeds beur hy voort.

Toegegee, die billik geprysde ASX bly steeds ’n goeie verkoper vir Mitsubishi in die land, en verlede jaar het die groep ook die veel moderner Eclipse Sport hier plaaslik bekend gestel. Hoewel dié nie juis gewild onder kopers is nie.

Met ’n vierde generasie van die ASX nog ver op die horison, het die Japanse groep intussen ’n opgeknapte weergawe van ons huidige, derdegenerasiemodel na die land gebring.

Die goeie nuus is dat Mitsu­bishi grootliks die voorkoms mooi opgeknap en gemoderniseer het, terwyl die standaarditem-lysie langer is en die kajuit meer tegnotruuks bygekry het.

Kortom, die ASX lyk nie net beter nie, maar bly steeds ’n goeie pakket in ’n segment waar daar sterk mededinging is en van die ander produkte uitdagende ontwerpe het. Dit terwyl die ASX maar steeds sy boksievorm van 2010 voortsit.

Kyk hoe kyk hy vir my

Om in die pas te kom met sy stalmaats het die ASX nou ook die groep se sogenaamde Dynamic Shield-sierrooster ontvang. Dis maar net ’n bemarkingswoord vir die nuwe rooster wat ’n forse, vertikaal georiënteerde voorkoms het wat die swart rooster en breë, silwer panele weerskante daarvan het. Tog, dit lyk fors en treffend.

Mitsubishi het ook onder die buffer (en onder die agterste buffer) nou ’n silwergekleurde plastiek-skermplaat ingevoeg om hom ’n rowwer voorkoms te gee.

Die hoofligte is nou plat eenhede en kry ’n streep LED-lampies by wat regdeur die dag skyn. Die buffers (voor en agter) het nuwe voorkomste (let op die vertikale ligte wat nou op die ente sit) en groter 18-duimers is vir topmodelle beskikbaar.

Binnelangs het Mitsubishi die ou raakskerm met ’n nuwe, groter skerm vervang. Die nuwe eenheid kan onder meer met slimfone koordloos gekoppel word. Daar is voortaan ook swart leerbekleedsel in die kajuit, en die stuurwiel is vir sowel hoogte as reik elektronies verstelbaar. Moet ook nie die groot, panoramiese sondak vergeet nie, wat steeds ’n standaarditem is.

Die 2.0-liter-petrolenjin (119 kW, 197 Nm) is net so behou. Krag gaan na die voorwiele met ’n CVT-tipe outomatiese ratkas, maar ’n nuwe vyfgang-handrat is nou ook opsioneel te kies.

Pryse:

ASX (handrat) – R379 995

ASX (out.) – R399 995

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.